Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
‘Ek sal sterf in die ANC’ – Ace

Hy het gespanne en emosioneel voorgekom en nou en dan selfs desperaat gelyk, maar Ace Magashule hou vol hy is steeds die sekretaris-generaal van die ANC – al is hy vroeër vandeesweek tydelik deur die party geskors.

Daarom sal hy dié naweek die belangwekkende vergadering van die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) bywoon.

Die ANC hou egter vol Magashule is geskors.

Daar word bespiegel die NUK kan dié naweek streng optree teen Magashule nadat hy Woensdagaand – kort nadat hy ’n brief ontvang het waarin hy van sy skorsing in kennis gestel word – self ’n brief aan pres. Cyril Ramaphosa, die ANC-leier, geskryf het waarin hy Ramaphosa “geskors” het.

Die ANC het dadelik teruggekap en gesê hy is nie by magte om dit te doen nie.

Magashule het Vrydagaand in ’n uurlange onderhoud met die SAUK gesê omdat hy appèl aangeteken het teen sy skorsing, beskou hy homself steeds as sekretaris-generaal.

“Ontspan, ek is steeds die sekretaris-generaal.”

Magashule het in die onderhoud gesê hy het nie binne 30 dae opsy gestaan as sekretaris-generaal soos die NUK hom beveel het nie, omdat “ek niks verkeerd gedoen het nie”.

“Ek het nog nooit ’n sent van die regering of die mense van Suid-Afrika gevat nie.”

Die opdrag van die NUK – die hoogste besluitnemingsliggaam in die ANC tussen nasionale konferensies – is dat alle ANC-ampsdraers wat strafregtelik aangekla is, binne 30 dae opsy moet staan.

Vroeër het Pule Mabe, nasionale woordvoerder, op ’n mediakonferensie in Luthuli-huis ontken dat daar ’n leierskapkrisis in die ANC is.

Ramaphosa is steeds die ANC-president, terwyl Magashule die verkose sekretaris-generaal bly, al is hy tydelik geskors.

Ek het nog nooit ’n sent van die regering of die mense van Suid-Afrika gevat nie.

Hy was ontwykend toe hy herhaaldelik gevra is of Magashule die NUK-vergadering sal bywoon.

Magashule het die NUK daarvan beskuldig dat hy nie die resolusie van die ANC se nasionale konferensie in 2017 oor die opsystaan-kwessie volledig in werking gestel het nie en dat die resolusie selektief toegepas word om van hóm ontslae te raak.

“Dit is alles deel van faksionalisme. Die NUK kan nie aanklaer, jurie en regter wees nie. Die ANC tree onregverdig op. Ek het geen misdaad gepleeg nie.”

Hy beweer die topses-leiers van die party se bewerings van strafregtelike klagte van korrupsie, bedrog en geldwassery teen hom wat spruit uit sy dae as premier van die Vrystaat, is flou.

“Die aanklagte is onbenullig en flou. Ek sien uit na die hofsaak en is oortuig dat ek my onskuld sal kan bewys.

“Staatsorgane, soos die nasionale vervolgingsgesag, word misbruik om die faksiegevegte in die ANC te beveg.”

Hy het ook gekla die siel en die karakter van die ANC het verander en die party is deesdae selfs bereid om met die DA saam te stem oor sekere kwessies. Dit steek hom dwars in die krop.

Die aanklagte is onbenullig en flou. Ek sien uit na die hofsaak en is oortuig dat ek my onskuld sal kan bewys.

Hy beskuldig die NUK daarvan dat dié traag is om ander resolusies wat by Nasrec geneem is – soos dié oor onteiening sonder vergoeding, radikale ekonomiese transformasie en Suid-Afrika se bande met Israel – nie behoorlik uitvoer nie.

Magashule sê hy en Ramaphosa het nog nie met mekaar gepraat ná vandeesweek se dramatiese gebeure nie.

Hy haat Ramaphosa nie en wys daarop dat hy een van die mense was wat in 2012 op die ANC se nasionale konferensie in Mangaung (Bloemfontein) ’n groot rol gespeel het om Ramaphosa tot adjunkpresident van die ANC verkies te kry.

Gevra of hy Ramaphosa op volgende jaar se leierskapkonferensie van die ANC sal teenstaan as ANC-leier, het Magashule geantwoord dit is iets waaroor ANC-takke moet besluit.

Omdat die NUK volgens hom nié die hoogste besluitnemingsliggaam in die ANC is nie, sou hy wou sien dat dié liggaam eers die mening van die takke, die provinsiale uitvoerende komitees en affiliasies, soos die ANC-vroueliga, inwin voordat hy geskors word.

Magashule sê hy sal nie toelaat dat iemand hom uit die ANC skop nie. Hy sal altyd ’n lid van die ANC bly en het geen planne om ’n nuwe politieke party te stig nie.

“Hoor my nou, ek sal sterf in die ANC.”

‘Dit klink of hy op water kan loop’

Magashule het in die SAUK-onderhoud geklink soos iemand wat “op water kan loop”, sê die politieke ontleder Theo Venter.

“Dit het vir my geklink soos die laaste twee tirades van oudpres. Jacob voordat hy as ANC-leier uitgeskop is.

“Hy is reg, almal anders is verkeerd en almal is téén hom. Hy het ook baie daarop gesinspeel dat Ramaphosa eintlik die skuldige is.”

Venter sê met dié onderhoud het Magashule moontlik sy eie lot verseël omdat dit beskou sal word dat hy sy skorsingsvoorwaardes verbreek het.

Dit het vir my geklink soos die laaste twee tirades van oudpres. Jacob voordat hy as ANC-leier uitgeskop is.

Meer oor:  Nuk  |  Ace Magashule  |  Korrupsie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.