Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Ek was onpartydig, sê OB oor Gordhan

Adv. Busisiwe Mkhwebane, openbare beskermer (OB), ontken dat sy partydig was in haar verslag waarin sy verskeie bevindinge teen Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, gemaak het.

Adv. Busisiwe Mkhwebane, openbare beskermer, Vrydag op ’n nuuskonferensie in Pretoria. Foto: Christiaan du Plessis

Mkhwebane het onder meer bevind Gordhan het die Grondwet oortree deur die stigting van ’n geheime eenheid (die sogenaamde spioenasie-eenheid) in die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) wat onwettig bedryf is.

Sy het haar verslag Vrydag op ’n nuuskonferensie in Pretoria bekend gemaak.

Die “geheime spioenasie-eenheid” staan amptelik as die hoërisiko-ondersoekeenheid bekend. Dit moes glo die SAID help om belasting by misdadigers in te vorder.

Daar word egter beweer dat die eenheid misbruik is om onder meer spioenasiewerk te doen, terwyl slegs die Staatsveiligheidsagentskap die wettige mandaat het om dit te mag doen.

Mkhwebane se onpartydigheid is in die verlede uit verskeie oorde in twyfel getrek nadat sy met die ondersoek na Gordhan begin het.

Sy het Vrydag gesê haar verslag oor Gordhan is op bewyse gegrond.

“Ek het geen vooroordeel teen enigiemand nie en ek is objektief wanneer ek my werk doen. Ek sal nie sommer net wilde aantygings teen iemand maak nie.”

Sy het ook bevindinge teen ander voormalige SAID-amptenare gemaak wat by die eenheid betrokke was, onder meer Johann van Loggerenberg, voormalige hoof van die eenheid, Ivan Pillay, voormalige waarnemende kommissaris van die SAID, en Oupa Magashula, voormalige kommissaris.

In haar verslag het Mkhwebane ook bevind Gordhan het die Nasionale Vergadering om die bos gelei oor ’n ontmoeting met Ajay Gupta. Sodoende het Gordhan die etiese kode van die uitvoerende gesag oortree, sê Mkhwebane.

Een van haar aanbevelings is dat ’n strafregtelike ondersoek binne twee maande begin word na Gordhan, Pillay en ander amptenare verbonde aan die eenheid.

Ek gaan nie aan die president voorskryf hoe hy teen Gordhan moet optree nie. Ek glo die president sal in ooreenstemming met die Grondwet optree.
Adv. Busisiwe Mkhwebane

Sy het ook pres. Cyril Ramaphosa aanbeveel om binne 30 dae met dissiplinêre optrede teen Gordhan te begin weens sy oortredings.

“Ek gaan nie aan die president voorskryf hoe hy teen Gordhan moet optree nie. Ek glo die president sal in ooreenstemming met die Grondwet optree.”

Regter Robert Nugent, wat ’n kommissie van ondersoek na die SAID gelei het, het verlede jaar beslis die “geheime eenheid” is wettig bedryf. Boonop het regter Frank Kroon, voormalige voorsitter van die SAID-raad, verlede jaar voor dié kommissie getuig hy was verkeerd in sy vroeëre bevinding dat die eenheid onwettig was.

Mkhwebane sê haar verslag is verhewe bo Nugent se beslissing, hoofsaaklik “omdat die Nugent-kommissie nie die kwessie so deeglik soos die OB ondersoek het nie”.

Jacques Pauw, skrywer van die boek The President’s Keepers, sê by navraag haar bevindinge is “simpel”, veral in die lig daarvan dat die OB se ondersoek volgens hom gebrekkig is.

“Sy het nie met een van die lede van die sogenaamde geheime eenheid ’n onderhoud gevoer nie,” sê hy.

Die verhaal van die ‘spioenasie-eenheid’

Hier volg ’n uiteensetting van hoe die hele debakel oor die “geheime spioenasie-eenheid” in die SAID ontvou het. Die uiteensetting deur Kyle Cowan het oorspronklik op Fin24 verskyn en Netwerk24 publiseer dit met toestemming.

2006, 2007

Die SAID, in samewerking met die Nasionale Intelligensie-agentskap (NIA), kom ooreen om ’n geheime eenheid te stig. Die NIA onttrek hom egter aan die projek nadat die SAID lede vir die eenheid aangestel het.

Januarie tot Mei 2007

Die SAID werf drie regsmenings in wat die stigting van sy eie ondersoekeenheid die groen lig gee en die Spesiale Projekte-eenheid (SPE) word gestig.

25 Desember 2008

Mike Peega, lid van die SPE, word in Hartswater in hegtenis geneem op aanklagte wat verband hou met renosterstropery.

Januarie 2009

Die SAID word amptelik deur die polisie van Peega se inhegtenisneming in kennis gestel. Hy word na die SAID se hoofkantoor verplaas, hangende die uitkoms van ’n dissiplinêre ondersoek.

Middel 2009

Twee SAID-lede maak ’n saak van afpersing teen Peega en sy prokureur aanhangig nadat hy gedreig het om beweringe in die openbaar te maak oor die SPE indien die SAID nie hom ’n onbekende bedrag geld betaal nie.

Peega begin met arbitrasieverrigtinge by die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) wat nie slaag nie. Hy appelleer en verloor. Hy word dan afgedank.

Oktober 2009

’n Dossier met besonderhede van beweringe van onwettige en geheime optrede deur die SPE word aan die media gelek. Later kom dit aan die lig Peega sit agter die dossier, wat “Projek Sneeuman” genoem word.

Februarie 2010

Die Projek Sneeuman-dossier word aan Julius Malema gegee wat verkeerdelik beweer dit is ’n NIA-dokument. Malema beweer hy is ’n slagoffer van die SAID se “anti-Zuma-agenda”.

Vroeg in 2010

Die NIA, nou die Staatsveiligheidsagentskap (SVA), begin ’n ondersoek na die beweringe in die Projek Sneeuman-dossier en bevind niemand het verkeerd opgetree nie. Geen verslag word aan die SAID oorhandig nie.

Laat in 2010

Die SVA spreek sy kommer uit oor die eenheid, nou bekend as die hoërisiko-ondersoekeenheid (HROE). ’n Vergadering vind plaas tussen Oupa Magashula, SAID-kommissaris, en verteenwoordigers van die SVA.

2010

Magashula skryf aan die SVA en vra om op hoogte gebring te word van die status van die ondersoek na die eenheid. Hy kry geen terugvoering nie.

2011 tot 2014

Die HROE werk saam met die Valke, die misdaadintelligensiediens en ander wetstoepassingsowerhede aan ’n reeks ondersoeke. Elke jaar skryf die SAID aan die SVA en versoek om op hoogte gebring te word oor die status van die ondersoek, maar kry geen terugvoering nie.

Julie 2013

Oupa Magashula bedank en Ivan Pillay word as waarnemende kommissaris aangestel.

Junie 2014

Pillay bring die Kanyane-paneel, gelei deur Moeti Kanyane, op die been nadat Johann van Loggerenberg dit versoek, om die SVA se beweringe teen hom te ondersoek, asook dié van die prokureur Belinda Walter, wat beweer het hy het inligting onwettig bekom.

Augustus 2014

Die Kanyane-paneel vind nie Walter se klag geloofwaardig nie. Die HROE word nie genoem nie.

Augustus 2014

David Mahlobo, minister van die SVA, maak bekend hy het die inspekteur-generaal versoek om die gedrag van SVA-amptenare te ondersoek. Die inhoud van die verslag bly buite die openbare domein tot 2019.

September 2014

Nhlanhla Nene, voormalige minister van finansies, gee Pillay opdrag om die Sikhakhane-paneel te stig om beweringe oor Van Loggerenberg in die Kanyane-verslag te ondersoek.

23 September 2014

Tom Moyane word as SAID-kommissaris aangestel.

12 Oktober 2014

Die Sunday Times publiseer sy eerste onthulling oor die sogenaamde geheime eenheid, met die opskrif: “SARS bugged Zuma”. Die koerant publiseer deur die loop van die volgende twee jaar stories oor die eenheid.

21 Desember 2014

Die Sikhakhane-verslag word aan die Sunday Times gelek. Die verslag onthul dat die paneel se mandaat deur Moyane uitgebrei is ná toenemende mediaberigte dat die geheime eenheid in die SAID bestaan het en stel dit verkeerdelik dat Walter gekla het oor ’n geheime eenheid in die SAID. Die verslag beveel aan dat ’n geregtelike kommissie van ondersoek op die been gebring word.

Desember 2014

Moyane stel KPMG aan om ’n ondersoek te lei na die beweringe van ’n geheime eenheid.

Desember 2014

Moyane stel die prokureursfirma Mashiane Moodley & Monama aan, wat die dienste van drie advokate bekom, naamlik Martin Brassey SC, Mika van As en Nadine Fourie, wat ook met ’n ondersoek begin.

Februarie 2015

Nene stel die Kroon- raadgewende raad aan, wat by magte is om getuies te dagvaar, om ’n verdere ondersoek te doen.

Februarie 2015

Van Loggerenberg verlaat die SAID nadat hy maande lank geskors was.

April 2015

Die Kroon- raadgewende raad reik ’n mediaverklaring uit, met die Sikhakhane-verslag daarby aangelas, wat lui die HROE, oftewel die sogenaamde geheime eenheid, is onwettig gestig.

Mei 2015

Pillay bedank nadat hy ’n geskil in die arbeidshof teen die SAID wen.

Mei 2015

Moyane maak ’n saak by die Brooklyn-polisiekantoor oop, waarin hy beweer ’n misdaad is gepleeg.

Oktober 2015

’n Voorlopige weergawe van die KPMG-verslag word aan Sunday Times gelek, waarna Van Loggerenberg, Pillay en Gordhan by die ombudsman vir die media gaan kla.

5 Desember 2015

Die ombudsman hou sy verhoor oor die Sunday Times. Pillay, Gordhan en Van Loggerenberg wen die saak en die koerant word beveel om ’n regstelling te publiseer.

Februarie 2016

Die Valke stuur ’n omstrede lys van 27 vrae aan Gordhan oor die totstandkoming van die HROE en die vroeë pensioenuitbetaling aan Pillay.

11 Oktober 2016

Shaun Abrahams, nasionale hoof van die vervolgingsgesag, kondig aan Pillay, Gordhan en Magashula sal aangekla word van bedrog in verband met die vroeë aftrede, pensioenuitbetaling en heraanstelling van Pillay, maar aanklagte oor die stigting van die eenheid word nie genoem nie.

30 Oktober 2016

Nadat Abrahams ’n 2009-memo van die SAID-prokureur Vlok Symington ontdek wat die groen lig gee vir Pillay se vroeë aftrede, onttrek hy die aanklag teen Pillay, Gordhan en Magashula.

18 November 2016

’n Anonieme klag word by die openbare beskermer, Busisiwe Mkhwebane, ingedien oor die vroeë aftrede, pensioenuitbetaling en heraanstelling van Pillay in 2009, asook verskeie ander kwessies, waaronder die beweerde onwettige stigting van die HROE.

15 September 2017

KMPG kondig aan hy trek sy bevindinge oor die geheime eenheid terug.

April 2018

Pillay, Van Loggerenberg en Andries Janse van Rensburg word aangekla in verband met die opstel van opnametoestelle in die NVG-kantore in 2007. Dié saak sleep voort.

24 Mei 2019

Mkhwebane bevind Gordhan was verkeerd met betrekking tot die vroeë aftrede van Pillay.

3 Junie 2019

Mkhwebane reik ’n video op YouTube uit waarin sy bekend maak dat sy Gordhan in kennis gestel het van ’n negatiewe bevinding teen hom wat verband hou met die stigting van die sogenaamde geheime eenheid.

5 Julie 2019

Mkhwebane maak die bevindinge van haar ondersoek bekend.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.