Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Eksklusief: Guptas verlaat SA permanent
Met sakke vol goed weg in straler na Dubai
ZS-OAK, die Gupta-familie en Oakbay Investments se sakestraler. Foto: Adrian Monroe

Die toksiese Gupta-familie, wat hulle geposisioneer het as pres. Jacob Zuma se boesemvriende, maar hom eendag nog sy pos kan kos, het die land Donderdagnag aan boord van hul private straler verlaat, want hulle kon die hoon van korrupsiesat Suid-Afrikaners en die openlike vyandigheid van sakelui hier net nie meer verdra nie.

Selfs hul kinders is op skool gespot.

Ajay Gupta en sy broer Atul sluit hulle daarom nou in Dubai aan by die derde boet, Tony (Rajesh), wat maande gelede al nes geskop het in Emirates Hills, waar die goedkoopste huis R82 miljoen kos en die duurste villa meer as R700 miljoen.

Die Guptas slaan op vlug te midde van ’n hoëvlakondersoek in die ANC onder leiding van Gwede Mantashe, sekretaris-generaal, na die familie se rol in die afdwing van aanstellings in Zuma se kabinet.

Naas hul kitsch paleis in Saxonwold, Johannesburg, laat die broers ’n rits skandale agter, waaronder die misbruik van hul vriendskap met ­Zuma om met ’n Jet Airways-straler vol bruilofgaste in April 2013 by die lugmagbasis Waterkloof te land. Dié kru misbruik het die familie vir die eerste keer ook die teiken van kritiek uit ANC-geledere gemaak.

Hul omvattende sakebelange in ­onder meer die media, mynbou en IT, die familie se direkteurskappe van 40 maatskappye en hul hegte sakebande met Duduzane Zuma, die ­president se 33-jarige seun, het die Guptas lankal die fokus van groot ­agterdog gemaak.

Maar dit was die onthulling op 16 Maart vanjaar van Mcebisi Jonas, adjunkminister van finansies, dat hy sy baas se pos aan­gebied is deur die Gupta-
familie wat ’n woede teen hulle ontketen het wat uiteindelik tot Donderdagaand se gebeure op die Lanseria-lughawe wes van Johannesburg sou lei.

Ure nadat ’n emosionele Atul sy ­sakevennote en topbestuur Donderdag ingelig het dat hy en Ajay uit hul direkteursposte in die Gupta-sakeryk bedank, is die broers, vermoedelik een van hul vroue en vyf assistente, landuit.

Ook Duduzane het uit sy Gupta-poste bedank.

Die bagasie was “genoeg vir 20 mense”, het ’n ooggetuie by Lanseria aan Rapport gesê.

Die vlug het eers 23:00 vertrek, toe die lughawe al tjoepstil was, en die Gupta-straler se transpondeerder is só gestel dat die vliegtuig se registrasienommer nie op radars en die ­webblad Flightradar24 sigbaar sou wees nie.

Staatshoofde gebruik soms veiligheidshalwe dieselfde truuk.

Die Gupta-vlug was luidens vlugbesonderhede bestem om Vrydagoggend by die internasionale lughawe Al Maktoum, sowat 37 km suidwes van Dubai, in Jebel Ali te land.

Verlate: Die Gupta-huis in Saxonwold. Foto: Deon Raath

So onlangs soos verlede maand het Gary Naidoo, familiewoordvoerder, met ’n regsgeding gedreig nadat die nuusblad Africa Confidential berig het dat die Guptas Dubai toe wil trek.

“Dit is uitdruklik onwaar,” het hy gesê. “Die Gupta-familie is trots om Suid-Afrikaners te wees en is al ­sedert 1993 in die land.”

Nou “gee die hele familie pad,” het ’n familievertroueling gister aan City Press gefluister.

Nazeem Howa, woordvoerder van die Guptas se sakebelange en uitvoerende hoof van Oakbay Investments en hul mediamaatskappye, het gister aan City Press gesê die druk het te erg geraak.

“Die grootste impak was op die kinders. Hulle word op skool en universiteit getart.” Ook die drie broers het geruime tyd gelede opgehou om openbare geleenthede soos die parlementsopening by te woon.

Eens was hulle eregaste.

“Die storie wat oor hulle geskep is, is van ’n familie wat plunder en in snaakse transaksies met die regering betrokke is,” sê Howa.

Familiebronne sê die familie het in so ’n mate onwelkom begin voel dat Ajay se oudste seun, Kamal, sy bruilof “so ver as moontlik van Suid-
Afrika” hou.

Jy kan nie sake bedryf sonder ’n bank nie

Die finale besluit om pad te gee is geneem deur Ajay, die familiepatriarg, wat al sedert Paasfees oor ’n skuif Dubai toe tob, toe die storm oor “staatskaping” losgebars het, en die ANC besluit het om die kwessie te ondersoek.

Maar die laaste druppel wat die emmer laat oorloop het, was die besluit van die ouditfirma KPMG, die aandelebeursborg Sasfin, en al vier groot Suid-Afrikaanse banke om te weier om enigiets met die Gupta-empire te doen te hê.

Absa het al op 18 Desember hul bande met Gupta-ondernemings verbreek; dit het die res heelwat langer geneem.

Teen die tyd dat die familie die ­afgelope week vergeefs by die presidensie, die tesourie en die mynbouministerie oor hul saketeenspoed ­gekla het, was die skrif reeds aan
die muur.

“Jy kan nie sake bedryf sonder ’n bank nie,” het ’n sakevennoot gesê.

Volgens Howa het Oakbay sowat 4 000 mense in diens en kan dié getal verdubbel indien die koop voltrek word van die tamaai Optimum-steenkoolmyn deur die Gupta-maatskappy Tetega, waarin Duduzane Zuma ’n groot aandeel het.

Tetega hoop om groot hoeveelhede steenkool teen ’n voorkeurprys aan Eskom te verkoop.

Howa sê die familie is nou bekommerd oor Zuma jr., wat al vir die Guptas werk sedert hy 18 was.

“Waarom ’n jong man soos hy vernietig?” het Howa aan City Press gevra.

  • Julius Malema, die EFF-leier, het voorverlede week beweer Zuma het met sy staatsbesoek aan die Verenigde Arabiese Emirate (VAE) verlede maand R6 miljard in Dubai besorg wat aan die Guptas behoort.

Hy kon egter geen bewys hiervoor lewer nie, en Bongani Majola, presidensiële woordvoerder, het Malema se aantygings ten sterkste ontken.

egibson@media24.com

Meer oor:  Guptas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.