Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
En toé skop Zuma vas ...

’n Vaakheid hang oor die lokaal van die Zondo-kommissie.

In die hoek van die saal dut ’n joernalis in ’n kolletjie flou winterson. In die tweede ry van die media-afdeling speel ’n joernalis ’n vurige potjie van die selfoonspeletjie Candy Crush.

Selfs die ry van oudpres. Jacob Zuma se ondersteuners hang soos drie dae oue winkelrose.

jacob zuma
Oudpres. Jacob Zuma tydens Woensdag se sitting. Foto: Felix Dlangamandla

Tussen hulle sit Carl Niehaus, wat sy kamo-weermagpak vir ’n lospassende grys potloodstrepiepak en dikraambril verruil het.

Tot dusver is dag drie van Zuma se getuienis voor die Zondo-kommissie ’n antiklimaks, ná sy wilde aantygings so reg uit ’n John le Carré-speurroman.

Gedurende die oggendsessie kry ’n mens die indruk Zuma se strategie van ontkenning, sameswerings en protes het verander.

Hy lyk nie lus om daar te wees nie. Die gehoor ook nie.

Wanneer regter Raymond Zondo en adv. Paul Pretorius SC hom pols om oor sy antwoorde uit te wei, pers hy sy lippe saam, duidelik geïrriteerd. Elke nou en dan teken adv. Muzi Sikhakhane SC, Zuma se regsverteenwoordiger, protes aan.

Zuma is ’n spinnekop reg in die middel van ’n kraaines van molasse-bedruipte rooi lint. Dis Pretorius en Zondo se werk om dit te ontrafel en hulle moet maar katvoet loop, want Msholozi het dit duidelik gestel: As hy nie hou van die vrae of hul ondertoon nie, as hy enigsins voel hy word bevooroordeel, loop hy.

Dis interessant om Pretorius en Zondo se heen-en-weer-spel dop te hou.

Pretorius is berekend, koud, afsydig. Zondo is diplomaties, subtiel en sjarmant. Hy het amper ’n oorvereenvoudige manier om sy vrae te stel, wat ’n mens soms aan Agatha Christie se speurder Hercule Poirot laat dink. Jy wonder soms of hy Zuma vrye loop gee met sy slimpraatjies en klakkelose besware, maar dan lewer hy ’n trefhou wanneer sy vrae die teenstrydigheid van Zuma se getuienis blootlê.

Daar is ook skadu’s van Sun Tzu se Art of War, soos Pretorius en Zondo stadig maar seker Zuma se narratief probeer ontrafel: “Dwing hom om sy ware karakter te wys, só vind jy uit wat sy swak punte is.”

’n Luisteraar moet ook so ’n bietjie tussen die lyne lees.

Zuma het ’n interessante semantieke wisselwerking tussen sy begrip van “narratief” en “weergawe”.

Dit staan doodstil by die narrare-deel. Soms wonder ’n mens of Suid-Afrika ooit die gnarus-betekenis van staats­kaping gaan begryp.

Hy het Maandag al begin om die “narratief” of storie van staatskaping te bevraagteken en ’n prentjie geskets van ’n lojale, misverstane vryheidsvegter wat die slagoffer is van donker magte se gekonkel.

“Dis ’n oordrywing, dit is veronderstel om hierdie narratief teenoor Zuma te versterk.”

Wanneer hy gekonfronteer word met vrae en feite wat sy “weergawe” bevraagteken, word ’n sondebok gesoek wat pa kan staan vir die vals aantygings.

Deug dit nie, word die slagoffer-kaart weer gespeel of hy beskuldig Zondo en Pretorius daarvan dat hulle hom kruisondervra, terwyl hy net hier is om sy “weergawe” te vertel.

Wanneer sy weergawe teenstrydig is met dié van Barbara Hogan, waar haar getuienis bydra tot die narratief wat Zuma uitbeeld as ’n staatskaper, stuit dit hom teen die bors.

“Die bewering van die minister dat ek ingemeng het, ek weet nie wat dit beteken nie. As daar byvoorbeeld ’n amptenaar aangestel word, word die president wel gekonsulteer. Ek verstaan nie wat sy bedoel wanneer sy sê ek het ingemeng nie.”

Zuma stel dit duidelik: Sy weergawe word die waarheid.

Hogan s’n is “haar weergawe”, deel van die groter narratief “teen Zuma”. En dan weier hy om verder enigsins aan ’n gesprek deel te neem.

Die woord “narratief” is afgelei van die Latynse woord narrare (om te vertel), wat weer afgelei is van gnarus (om te weet of om jouself met iets te bekwaam).

In “narratief” se etimologiese oorsprong lê die belangrikheid van kommissies van ondersoek soos dié van Zondo opgesluit, die geleentheid wat vir getuies gegee word om hul weergawe, hul storie te vertel.

Uit Woensdag se gebeurtenisse blyk dit dat Zuma dit nie so sien nie. Sy weergawe staan absoluut.

Dit staan doodstil by die narrare-deel. Soms wonder ’n mens of Suid-Afrika ooit die gnarus-betekenis van staats­kaping gaan begryp.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.