Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
En wat’s dié dan nou, geagte EFF-vryheids-vegters?

’n Groep EFF-volgelinge wat na Kaapstad gereis het om die staatsrede van pres. Cyril Ramaphosa in die parlement by te woon, asook die daaropvolgende debatte, het in ’n luukse vierbedhuis in Kampsbaai gewoon vir tussen R7 100 en R25 000 ’n nag.

Julius Malema, leier van die EFF. Foto: Tebogo Letsie

Toe die vryheidsvegters om 10:00 op Donderdag, 27 Junie 2019 uitboek, was hul rekening R60 000 vir agt nagte; die meeste daarvan sal deur die buitelandse eienaar in die sak gesteek word.

Die groep het ook hul vullis in die straat gelos. Ons (The Daily Maverick) het daardeur geloer.

Sowat 15 jaar gelede het die alternatiewe webtuiste Willamette Week gaan rondkrap in die vullis van drie bekende persone – sodat hulle verantwoordelik gehou kan word aan die gewone man op straat, het die destydse redakteur, Elise Herron, gesê. Die berig het blitsig op sosiale media versprei.

Soms moet ’n mens vernuftig en oorspronklik te werk gaan om mense verantwoordelik te hou . . .

(Die berig word met The Daily Maverick se toestemming vertaal. Dit is verkort.)

Die Kampsbaaivilla met sy panoramiese seeuitsig is op 14:00 op 9 Junie vanjaar bespreek, ’n dag voor pres. Cyril Ramaphosa se staatsrede. Die bespreking is gedoen deur Larry Mavunda, leier van die EFF, Julius Malema, se lyfwag. Mavunda is nooit ver van Malema nie.

Terwyl die EFF se manifes vra vir ’n “verbod op drankadvertensies wat die einde sal beteken van die viering en promosie van alkoholinname in Suid-Afrika”, het die vegters in die huis ’n konserwatief geskatte R25 000 op alkohol bestee, meestal op die Franse sjampanje-etikette Veuve Clicquot, Veuve Clicquot Rich en Moët et Chandon.

(’n Bottel Veuve Clicquot kos sowat R600 en Moët Nectar Imperial sowat R700.)

Onder die 37 bottels wat uit sewe van die minstens 14 sakke vullis gehaal is wat die vegters agtergelaat het en wat in die straat gesit is, was leë bottels Meerlust Rubicon R425 ’n bottel), Glenfiddich-whisky (spesiale uitgawe) teen R1 500 ’n bottel en Tanqueray-jenewer teen R289 ’n bottel.

Lank, lank gelede toe hierdie joernalis opgelei is, was een van die reëls in Joernalistiek 101 “gaan deur die vullis” veral as jy met ’n ondersoek besig is.

Die reël vir Politiek 101, is natuurlik moet nooit iets in die vullisbak weggooi voordat jy dit nie deursoek het vir inkriminerende bewyse nie.

Só het dit gebeur dat ek myself die oggend van Vrydag, 29 Junie, kniediep bevind het in ongeëte kos, gebruikte kondome, bokse weggegooide ongebruikte kondome, weggegooide depositostrokies met banknommers daarop, stukkies papier van aankope by H&M (ja, die afdelingswinkel wat die vegters ingeval en verwoes het), Zara en ook strokies en verpakkingsmateriaal van wegneemrestaurante. Die stad se vullisverwyderingsdienste sou die vullis die oggend kom wegneem.

EFF-leier in die huis

Nadat ons daardeur gegaan het en neergesit het, het ons nóg gekry. Genoeg om te weet minstens een EFF-leier was in die huis.

So, hoekom het ons deur die vegters se vullis geloer? Is dit nie die laagste poniepersjoernalistiek wat jy kan kry nie?

Dit is inderdaad lae tye, my landgenote . . . dit is ’n post-ideologiese tydperk, terwyl politici wil hê ons moet in hul spesifieke ideologieë glo.

Julle polisieer swart rykdom, hoor ek beskuldigings.

Alle rykdom moet gepolisieer word in hierdie slegte hartseer tyd waarin die finansiële sektor, regslui en konsultante wêreldwyd medepligtig is aan diefstal van belastingbetalers se geld deur ’n professionele en elitistiese groep ekonomiese plunderaars en roofdiere.

Die EFF is openbare amptenare. Diegene wat vir die party gestem het, het dit gedoen gegrond op die beginsels waarvoor hulle gesê het hulle staan en hul beloftes gegee het in ruil vir vertroue in ’n kruisie op die stembrief.

So, soms, gaan dit oor die polisiëring van skynheiligheid as jy deur revolusionêre vullis krap.

Township sou kon baat vind met R60 000

Omdat hierdie Ekonomiese Vryheidsvegters spesiale ekonomiese gebiede in Suid-Afrika wil skep om die plaaslike ekonomie te stimuleer, sou daar baie township bed-en-ontbyt-plekke gewees het wat sou kon baat vind met ’n hersirkulering van die R60 000 wat hulle aan hul eie luukse verblyf het. Restaurante in Langa en Khayelitsha sou voordeel getrek het uit die duidelik gesonde aptyte en dorstigheid van die jong revolusionêres.

As die EFF buitelandse eienaarskap wil verbied, moes hulle nie ’n besigheid ondersteun het van buitelanders nie – en as hulle nie geweet het die luukse huis behoort aan buitelanders nie, moet hul net gevra het. Dit krioel in Kampsbaai van ryk Europese wat geldmaak met ons swak rand.

Alkoholinname wil verminder?

As die EFF alkoholinname wil verminder, moet hulle die voorbeeld stel. Dit is nie die manier om dit te doen nie.

As jy nie omgee om kapitalisme en buitelandse produkte te ondersteun en jou oor te gee daaraan nie, doen dit. Daar is geen wet wat jou stop nie. As jy by H&M wil koop, doen dit, dit is ’n vry land. Baie het gesterf sodat jy kan koop, eet en drink. Dit is geen misdaad nie.

Maar, as jy jouself as ’n revolusionêr wil beskou, as bewakers van die armes en die agtergeblewenes, dan moet jy doen wat jy sê.

Drie SAL-vliegkaartjies is ook in die vullis gevind. The Daily Maverick het bevestig dr. Mbuyiseni Ndlozi, EFF se woordvoerder, was op die vlugte. Die mees onlangse was vlug SAA 347 van Johannesburg na Kaapstad op 19 April 2019. Ndlozi was volgens die weggegooide besigheidsklaskaartjie die 77ste passasier wat ingeboek het. Die papiertjie het ook sy Voyagernommer op gehad.

EFF antwoord:

Ndlozi is in ’n navraag wat al bogenoemde inligting en vrae oordra, om kommentaar genader. Daar is ook verwys na jong meisies wat die huis verlaat het. Geen bewyse is aan hom gegee nie. Hy is twaalf uur gegee om te antwoord.

In Ndlozi se antwoord sê hy almal is deur die parlement in Kaapstad geakkommodeer. Hy wys daarop dat daar baie jong mans en jong vroue in woonstelle en hotels geakkommodeer is en dat hulle nie private verblyf vir lede van die parlement hoef te gevind het nie. “Baie van ons gaste was wel in private huisvesting, maar ek kan nie die een bevestig waarna jy verwys nie.”

Dan waarsku Ndlozi die joernalis dat baie van hul leiers jong mans en vroue is en dat daar versigtig verwys moet word na jong vroue wat by die huis ingegaan het. “Hierdie jong vroue kan dalk ons leiers wees,” was die antwoord.

Nadat Daily Maverick in reaksie op Ndlozi se antwoord bewyse aan hom gestuur het dat hy in die huis was en van sy vlugkaartjiestrokies, foto’s van die rye drankbottels, ’n reeks ander feite aan hom noem is en les bes, aangebied het om CCTV-video-opnames te vind, het Ndlozi minder vriendelik geantwoord.

Ndlozi: “Dit is belaglik en tipies vullispers. Ek is nie bang vir julle dreigemente en intimidasie met vingerafdrukke en DNS nie.

“Ek het julle geantwoord, so gaan en skryf wat ook al jul ondersoekende belange tevrede sal stel.”

Julius Malema, die EFF-leier, se kommentaar was: “Ek lewer nie kommentaar op onsin nie.”

Die joernalis Marianne Thamm skryf: Ek het 30 jaar gewag om deur iemand se vullis te soek. Vrydag het ek my kans gekry om uiteindelik vullisjoernalistiek te doen en in die proses het ek die vullis-sjampanje-vryheidsvegters uitgevang. Julle kan tot jul eie gevolgtrekking kom.

Meer oor:  Eff  |  Julius Malema  |  Mbuyiseni Ndlozi  |  Kampsbaai  |  Parlement  |  Staatsrede
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.