Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Eskom: Chinese lening kon SA ekonomie sink

Die bepalings van ’n leningsooreenkoms wat Eskom met ’n Chinese party onderhandel het, was van so aard dat as Eskom sou wanbetaal, dit rampspoedig vir die Suid-Afrikaanse ekonomie sou wees omdat die regering daarvoor sou moes pa staan.

André Pillay, Eskom se groepstesourier, voor die Zondo-kommissie van ondersoek na bewerings van staatskaping. Foto: Felix Dlangamandla

So het André Pillay, Eskom se groepstesourier, Vrydag voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping getuig.

Onderhandelings vir dié lening is einde 2016 begin.

Adv. Thandi Norman SC, getuienisleier, het aan die begin van die verrigtinge Vrydag in haar opsomming van Pillay se getuienis gesê die Chinese batebestuurder Huarong wou $2 miljard (sowat R25 miljard) aan Eskom leen in ruil vir “gunste”.

Eskom sou die lening onder meer gebruik vir die opknapping van ou kragstasies.

Adjunkhoofregter Raymond Zondo het vroeër gehoor Eskom se inkomste is meer as drie keer dié van Transnet, ses keer meer as dié van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL). Sy jaarlikse kapitaalbesteding is R55,8 miljard en sy bedryfskoste beloop R109,6 miljard. Dit maak dit noodsaaklik dat Eskom prioriteit geniet in die ondersoek, veral omdat hy sentraal staan in die beweerde staatskaping.

André Pillay, Eskom se groepstesourier, getuig voor die Zondo-kommissie. Foto: Felix Dlangamandla

Norman het Pillay uit sy lywige verklaring, vervat in twee lêers, uitgevra oor die lening.

Pillay het getuig Anoj Singh, vorige finansiële hoof van Eskom, het aanvanklik toesig oor die ooreenkoms gehad.

Die bepalings en voorwaardes van die lening is volgens Pillay nie volgens Eskom-protokol opgestel nie en was baie riskant vir die kragreus.

Eskom was verplig om miljoene rand as “tekentarief” vir die lening van $2 miljard te betaal.

Die bewering is dat dié geld in der waarheid omkoopgeld was om die lening van $2 miljard van Huarong te bekom.

Volgens Pillay was Eskom se skuld teen Desember 2016 al R340 miljard en staatswaarborge het net 45% daarvan gedek.

Eskom se finansiële probleme het egter al in 2015 begin, het hy getuig.

Singh, Pillay, en Rex Madida, ’n politieke afgevaardigde van die ANC in KwaZulu-Natal, is in Desember 2015 vir die eerste keer na Hongkong vir onderhandelinge met Huarong.

Onderhandelinge het hierna in Suid-Afrika voortgeduur en baie gevaarligte laat flikker, sê Pillay.

Die eerste lys van voorwaardes is ondanks gevaarligte op 14 Maart 2017 deur Singh onderteken.

Pillay het getuig die Eskom-direksie het die Eskom-tesourie opdrag gegee om met die onderhandelinge met Huarong voort te gaan, maar benadruk dat hulle geen finale besluite mag neem nie.

Volgens Pillay het twee maatskappye met Gupta-bande, Trillian en McKinsey, in ’n stadium by die onderhandelings betrokke geraak.

Ondanks regsadvies van die prokureursfirma White & Case en die Eskom-direksie se teenkanting, het Sean Maritz, voormalige waarnemende hoof van Eskom, die tweede lys van voorwaardes namens Eskom goedgekeur.

Hy het volgehou die minister van openbare ondernemings, wat in daardie stadium Lynne Brown was, het hom opdrag gegee om dit te doen.

Eskom het drie dae later ’n faktuur van Huarong vir die eerste “tekentarief” ontvang. Die volgende faktuur is in Januarie ontvang. Eskom het dit egter nooit betaal nie.

Pillay het deurentyd getuig hoe “ongemaklik” die onderhandelinge hom laat voel het.

Hy is glo gedreig en het gesê Singh het hulle deurlopend laat verstaan: “As julle nie die werk kan doen nie, vervang ek julle. Dit was die omgewing waarin ons gewerk het,” het Pillay getuig.

Op die vraag van Zondo of hy nie die proses vroeër kon stopsit nie, het Pillay gesê hy wou die proses volg, sodat hulle later redes kon verstrek waarom die lening nie uitwerk nie.

* Maritz het Johnny Dladla opgevolg wat sedert Junie 2017 waargeneem het nadat Brian Molefe kortstondig in Mei na Eskom teruggekeer het. Molefe het op sy beurt in die plek gekom van Matshela Koko, wat waargeneem het nadat Molefe in November 2016 “vroeg afgetree” het.

Meer oor:  Mark Alexander  |  Lening  |  Ekonomie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.