Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Eskom-fluitjieblaser vrees vir haar lewe, hoor Zondo

Suzanne Daniels, voormalige regshoof van Eskom en fluitjieblaser oor die beweerde kaping van dié entiteit deur die Guptas, vrees vir haar lewe en het haar dogter oorsee gestuur vir haar veiligheid nadat Daniels met die dood gedreig is.

Sy het Maandag voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping getuig haar dogter bly nou in die buiteland vir haar eie veiligheid.

Volgens Daniels “kry ’n mens doodsdreigemente” indien jy ’n fluitjieblaser is.

Sy sê sy het geweet daar sal positiewe, sowel as negatiewe, gevolge wees toe sy besluit het om ’n fluitjieblaser te word oor wat sy by Eskom ervaar het.

“Ek word aangeval asof ek die skurk is en baatgevind het by staatskaping . . . Ek besef nou dat ek die onderwerp van beledigings sal wees. Ons probeer die regte ding doen en verkeerde optrede blootlê. Selfs al word ’n mens se eie verkeerde dade blootgelê,” het Daniels gesê.

Adv. Pule Seleka SC, getuienisleier van die Zondo-kommissie. Foto: Skermgreep

Sy het bygevoeg daar is mense met groter mag as sy wat baatgevind het by hul optrede, en nou word “Suzanne Daniels” as die swartskaap uitgemaak. “Ek het alles verloor en het niks. My reputasie en finansies is vernietig.”

Sy het verwys na Matshela Koko, voormalige hoof van tegnologie en kommersiële sake by Eskom, se getuienis verlede week Donderdag waarin hy aangevoer het dit was Daniels eerder as hy wat ’n nabye verhouding met Salim Essa, sakevennoot van die Guptas, gehad het. Volgens Daniels beskou sy Koko as Essa se “troeteldier” – hulle het die hele tyd met mekaar geskakel asof Essa Koko se baas was.

“Koko is die ware skakel tussen Essa en die Guptas met Eskom,” het Daniels gesê.

Adv. Pule Seleka SC, getuienisleier van die kommissie, het gesê die kommissie gaan vandeesweek getuienis aanhoor oor onder meer die betalings wat die Eskom-direksie in Desember 2015 aan die Guptas goedgekeur het.

Die eerste was die Eskom-direksie se goedkeuring van ’n betaling van R1,68 miljard aan die Guptas se Tegeta-mynmaatskappy.

Die Guptas was in daardie stadium in die proses om die Optimum-myn te koop by Glencore Holdings deur hul maatskappye Oakbay en Tegeta te gebruik, maar dié maatskappye het nie die geld gehad hiervoor nie.

Hoewel dit lyk asof Eskom in dié stadium onafhanklike stappe gedoen het om ’n voorafbetaling vir die “noodvoorsiening van steenkool” aan Tegeta te doen, word aangevoer dat dit in der waarheid geld sou wees om die Guptas te help om die myn te kon koop. Die voorafbetaling sou volgens Koko wees vir een jaar se steenkool van die myn af.

Om die noodsaak van die verskaffing van steenkool uit te wys, het Koko op 6 Desember 2015 ’n brief aan die direkteur-generaal van die departement van minerale bronne geskryf waarin hy noem dat die Optimum-steenkoolmyn ’n baie belangrike verskaffer is van steenkool aan Eskom se Hendrina-kragstasie in Mpumalanga.

Suzanne Daniels, voormalige regshoof van Eskom en ’n fluitjieblaser oor die beweerde staatskaping van die entiteit, getuig Maandag voor die Zondo-kommissie. Foto: Skermgreep

Koko het in sy brief uitgewys dat die steenkool van die Optimum-myn van goeie gehalte is en ook deur die Arnot-kragstasie gebruik kan word.

Koko se brief is ook gebruik as grondslag vir die Eskom-direksie om die betaling goed te keur.

Volgens Daniels het Koko en Anoj Singh, as destydse finansiële hoof van Eskom, begin saamwerk om die betaling deurgevoer te kry.

Seleka het uitgewys uit getuienis wat vroeër voor die kommissie gelewer is, blyk dit dat die Eskom-direksie op 9 Desember 2015 die voorafbetaling van die steenkool aan Tegeta goedgekeur het.

Dus het die Eskom-direksie ’n voorlegging oor die besluit wat hulle moes neem, op die middag van 8 Desember (2015) gekry. Hulle moes oornag hieroor besin en dan op 9 Desember ’n besluit neem oor die betaling van die R1,6 miljard, het Seleka dit aan Daniels gestel.

Adjunkhoofregter Raymond Zondo, voorsitter van die kommissie. Foto: Skermgreep
Hy wou by haar weet watter rede aan die direksie gegee is vir die betaling.

Hy wys uit dat die direksie nie hieroor sou vergader nie, maar individueel hul toestemming sou gee met ’n rondomtalie-proses (waar elke direksielid hul goedkeuring gee sonder dat daar hieroor ’n formele gesprek of direksievergadering was).

Daniels het geantwoord dit is korrek, die besluit is op dié manier geneem nadat Singh gevra het dit moet so gedoen word. Die rede wat gegee is, is “om te verseker dat daar nie ’n onderbreking sou wees met die voorsiening van steenkool nie”.

Seleka het uitgewys dat Singh op 10 Desember 2015 die kontantbetaling wat aan die Optimum-myn goedgekeur is, die volgende dag in 'n waarborg vir betaling verander het aan Tegeta, wat 'n heel ander entiteit was as wat die Eskom-direksie goedgekeur het. Dié waarborg is daarna deur Tegeta gebruik om te kan wys die maatskappy het die geld om die Optimum-myn te kon oorneem.



Meer oor:  Fluitjieblaser  |  Eskom  |  Suzanne Daniels  |  Raymond Zondo
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.