SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Politiek
Eskom jaag wittes weg

In die grootste krisis in sy bestaan druk die wankelende Eskom deur met ’n regstellende aksieplan waarvolgens altesaam 1 308 minder gekwalifiseerde wit werknemers teen Maart 2020 in sy diens moet wees.

Onder hulle is 336 in die poskategorie vir ingenieurs en die res is in poste vir ambagslui, akademies gekwalifiseerdes en middelvlak-bestuurders.

Dié syfers kom uit die jongste weergawe van Eskom se regstellende aksieplan, wat die kragverskaffer verplig is om jaarliks in te dien. Die departement van arbeid oefen voortdurend druk uit op Eskom om teen 2020 die rasprofiel van die land – met minder as 10% wit inwoners – te weerspieël.

Dis ’n baie neerdrukkende omgewing om in te werk – ’n krisis waarin mense in beheer is wat nie weet hoe om dit te hanteer nie.

Eskom se regstellende aksie-forum het drie weke gelede nog bymekaargekom om die plan met die direkteur-generaal van arbeid, Thobile Lamati, te bespreek. Maar Lamati, wat probleme met sommige aspekte daarvan gehad het, het nie vir die vergadering opgedaag nie, sê Johan Fernandes, voltydse verteenwoordiger van Solidariteit in Eskom en lid van dié komitee.

Die regstellende aksieplan is skynbaar teenstrydig met die ernstige pleidooi die afgelope Woensdag wat Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, op voormalige Eskom-werknemers gedoen het om terug te keer na Eskom en die organisasie in sy krisis te help.

“Ernstige vaardigheidstekorte by Eskom speel ’n groot rol in die land se elektrisiteitskrisis. Ons gaan probeer om diegene terug te bring wat die afgelope jare deur staatskapers uit die organisasies gedwing is,” het hy gesê.

Hy weet nie van die regstellende aksieplan nie, het sy woordvoerder, Adrian Lackay, Vrydag by navraag gesê.

Rapport het in Maart 2015 berig dat ’n regstellende aksieplan daardie jaar ingedien is waarvolgens daar teen Maart 2020 net 625 wit ingenieurs in diens moes weer. Daar was tóé 1 786 wit ingenieurs.

Volgens die jongste plan het die getal wit ingenieurs in die tydperk van Maart 2015 tot Desember 2016 verminder tot 1 634. Die teiken vir Maart 2020 is egter nou vergroot tot 1 278 teenoor 625 in die vorige plan.

Die plan wys dat Eskom reeds met personeelverminderings begin het.

Sedert Februarie 2014 is 4 365 werknemers weg by Eskom. Van hulle was 56% wit, al was minder as 20% van die Eskom-arbeidsmag wit.

Dr. Dirk Hermann, uitvoerende hoof van Solidariteit, het ’n beroep op Gordhan gedoen om Eskom se regstellende aksieplanne vir vyf jaar op te skort.

“Gespreksdokumente vir regstelplanne tot 2022 is nog meer absurd. ’n Maatskappy wat reeds op sy knieë is, kan eenvoudig nie hierdie omset in vaardighede bekostig nie.

“Daar is ’n groot debat oor die redes vir Eskom se krisis, maar niemand wil praat oor die olifant in die kamer nie – Eskom se obsessie met rasverteenwoordiging die afgelope 20 jaar. Dis uiteraard nie die enigste rede nie, maar Suid-Afrika ontken die skade wat Eskom die land hiermee berokken het,” het Hermann gesê.

Terselfdertyd het Eskom die afgelope vyf jaar ook enorme vaardigheidsverliese gely omdat topwerknemers van alle rasse deur staatskapers uit die maatskappy gedwing is. Intimidasie-taktiek soos meeluistering en selfs doodsdreigemente is volgens getuienis voor die parlementêre ondersoek na staatskaping by Eskom gebruik.

Dit is selfs gemik teen Brian Dames, uitvoerende hoof, wat in 2014 daar weg is.

Onder die slagoffers wat padgegee het, tel ook:

  • Dr. Steve Lennon, kommersiële hoof, wat in ’n stadium ’n kandidaat vir die pos van uitvoerende hoof was en nou uitvoerende hoof is van ’n hernubare-energiemaatskappy in Australië;
  • Paul O’Flaherty, voormalige finansiële direkteur;
  • Erica Johnson, voormalige ontwikkelingshoof, wat ook al as uitvoerende hoof oorweeg is;
  • Caroline Henry, voormalige hoof van Eskom se tesourie;
  • Dan Marokane, voormalige hoof van steenkoolverkryging;
  • Tsholofelo Molefe, ’n geoktrooieerde rekenmeester wat ’n kort rukkie in O’Flaherty se pos aangestel is maar onverwags geskors is in opdrag van oudpres. Jacob Zuma;
  • Kiren Maharaj, voormalige hoof van die steenkoolafdeling;
  • Kannan Lakmeeharan, voormalige groephoof van tegnologie; en
  • Dr. Mark van der Riet, ’n steenkoolwetenskaplike wat ’n jaar lank geskors was omdat hy beswaar gemaak het teen die gehalte van steenkool wat die Guptas se Tegeta Resources aan Eskom gelewer het.

Van der Riet is verlede jaar aan ’n hartaanval dood wat volgens alle aanduidings deur spanning veroorsaak is. Hy het enkele ure voor sy dood ’n beëdigde verklaring onderteken vir die parlementêre ondersoek na staatskaping.

Verskeie mense in dié groep hou kontak met mekaar. “Mark se dood was baie ontstellend vir almal van ons,” het een van hulle gesê.

Rapport het ook twee van Eskom se mees ervare projekingenieurs, Avin Maharaj en Roman Crookes, in die Filippyne opgespoor.

Crookes was projekbestuurder van Medupi voordat hy einde 2015 onverwags bedank het en Maharaj het ’n sleutelrol gespeel in die beplanning van Medupi en Kusile.

Rapport wou by verskeie van hulle hoor of hulle bereid is om terug te keer. Geeneen het daarvoor kans gesien of is al deur Eskom genader om hulle te probeer oorreed om terug te kom nie.

“Ek het aanbeweeg. Die lewe gaan aan,” het een van hulle gesê.

Twee van hulle het daarop gewys dat geen enkeling wat terugkeer, op sy eie ’n verskil sal maak nie. Verskeie van hulle wat steeds kontak met mense in Eskom se topbestuur het, sê die topbestuur word gereeld verskree.

“Dis ’n baie neerdrukkende omgewing om in te werk – ’n krisis waarin mense in beheer is wat nie weet hoe om dit te hanteer nie,” het een gesê.

“Ek sal teruggaan as ’n kollektiewe groep van ons wat vroeër daar was, gewerf word om terug te keer. Só ’n groep kan ’n verskil maak, maar op my eie sal ek dit glad nie oorweeg nie. Die omgewing waarin Eskom bedryf word, is net eenvoudig te polities gelaai – dis naïef om te dink enigiemand kan op sy eie ’n verskil maak,” het ’n ander een gesê.

’n Ander topbestuurder het daarop gewys dat die bestuursgroep wat ná die eerste beurtkragkrisis in Januarie 2008 by Eskom ontstaan het toe Brian Dames beheer oorgeneem het, ’n bepaalde prosedure en bestuurstyl vir krisishantering ontwikkel het.

“Daarvan het niks oorgebly nie,” het die voormalige Eskommer gesê.

Khulu Phasiwe, amptelike woordvoerder van Eskom, het by navraag gesê dit maak glad nie sin dat Eskom, wat vir alle praktiese doeleindes ’n ingenieursmaatskappy is, van ingenieurs ontslae sal raak op ’n tydstip waarop hy hulle die nodigste het nie.

“Maar Eskom het sedert 1994 nog altyd billike indiensneming toegepas, wat verder gaan as ras en ingevolge wetgewing ook geslag en gestremdes betrek,” het Phasiwe gesê.

LEES OOK:

Die agenda van die vergadering waar die EE-plan ondanks besware aanvaar is.

LEES OOK:

Die regstellende aksieplan soos ingedien by die Departement van Arbeid.

LEES OOK:

Hersiening van vorige regstellende aksieplan.


Meer oor:  Eskom  |  Regstellende Aksie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.