Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Eskom: Kabinet sê nee!

Pres. Cyril Ramaphosa se kabinet het die voorgestelde reddingsplan vir Eskom gedwarsboom.

Rapport verneem op goeie gesag die aanbevelings van Ramaphosa se taakspan wat hy aangestel het om oplossings te vind, is summier by die kabinet se lekgotla voor die staatsrede gefnuik. In plaas van ’n volhoubare plan vir Eskom, het Ramaphosa net ’n vae aankondiging gemaak dat die regering wel ’n “groot deel” van die R230 miljard wat Eskom oor die volgende dekade nodig het, sal verskaf en vinniger as wat beplan.

Pres. Cyril Ramaphosa kort voor die staatsrede. Foto: Edrea du Toit

Die aanbevelings van die Eskom-taakspan wat voor die kabinet gedien het, sluit in:

  • ’n Dringende ruilooreenkoms om Eskom se skuldinstrumente vir regeringskuld te verruil. Dit sou in werklikheid beteken dat die regering direk Eskom se skuld oorneem. Eskom genereer tans nie eens genoeg inkomste om sy eie skuldpaaiemente te betaal nie.
  • Eskom kan finansiering teen baie gunstige voorwaardes bekom van groen-finansierders, maar dit is op voorwaarde dat Eskom wegbeweeg van steenkool en sy uitlaatgasse verminder. Die kabinet wou glo nie hieraan byt nie.
  • Die ontbondeling van Eskom in drie dele. Dié stap is al in Februarie deur Ramaphosa in sy eerste staatsrede vir die jaar aangekondig én bevestig in Tito Mboweni, minister van finansies, se begrotingsrede, maar geen sigbare vordering is al gemaak nie. Dit begin nou duidelik word waarom nie.

’n Vooraanstaande lid van die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) het aan Rapport gesê dat Ramaphosa by die ANC se lekgotla tussen 1 en 3 Junie in Irene ’n mandaat gekry om voort te gaan met die ontknoping van Eskom in twee of drie dele, “mits daar geen werkverliese is nie”, berig Jan de Lange.

Dit behels voorwaardelike steun vir ’n plan wat toe reeds aangekondig is en sal dit onmoontlik maak om mense af te lê – sou Eskom se nuwe bestuur inderdaad dink dit is nodig.

Kabinet traag om nodige te doen.

Rapport verstaan ook dat Phakamani Hadebe, uittredende hoof van Eskom, onlangs aan Solidariteit erken het dat die regering nog nie met hom gepraat het oor die verdelingsplan nie.

David Sipunzi, hoofsekretaris van die National Union of Mineworkers (NUM), die grootste vakbond by Eskom, sê egter hulle het reeds “verskeie” vergaderings met Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, gehou oor die voorstel om Eskom in drie te verdeel.

“Gordhan kon nog nie aan ons verduidelik hoe die verdeling geld by Eskom gaan bespaar nie. Eskom gaan immers ná die ontknoping vier uitvoerende hoofde hê,” het Sipunzi gister aan Rapport gesê.

  • Die paneel van kundiges het ’n model ontwikkel waarvolgens Eskom meer krag koop by onafhanklike, private kragverskaffers wat meer bekostigbaar is.

Faksies binne die ANC en die ANC se alliansievennote is erg gekant teen die aankoop van krag by private verskaffers en die verdeling van Eskom in drie omdat hulle enige soort privatisering teenstaan. Hulle glo dit sal tot werksverliese lei. Hulle wil om dieselfde redes ook nie afsien van steenkool nie. Toe Standard Bank se aandeelhouers onlangs besluit het om voortaan nie meer enige steenkoolprojekte te finansier nie, het regeringsleiers begin predik dat pensioenfondse dan gevra of gedwing moet word om hierin te belê.

Phumla Williams, die kabinet se woordvoerder, en Adrian Lackay, Gordhan se woordvoerder, het nie op Rapport se navrae gereageer nie.

Peter Attard Montalto, ’n ontleder van Intellidex en goed bekend met Eskom, sê Ramaphosa se pap en vae aankondiging wys hoe sterk teenkanting daar binne regeringstrukture is om te doen wat nodig is. Hy sê dis duidelik dat die aanbevelings van die presidensiële taakspan nie deur die kabinet tot by implementering gevoer word nie. Hy sê daar is ook binne Eskom weerstand teen die hervormingsplanne.

Montalto meen dit kan die regering in die huidige boekjaar tot soveel as R69 miljard kos om Eskom se kop bo water te hou. Dit is drie keer soveel as die R23 miljard wat Mboweni in Februarie genoem het.

Toe het Mboweni gewaarsku: “Om geld direk in Eskom in sy huidige vorm te stort, is soos om water in ’n sif te gooi.”

Mboweni het volgehou die geld sal nie oorbetaal word voordat streng voorwaardes – soos ontknoping – nagekom is nie.

Hy het toe gesê die reddingsboei is ook onderhewig aan die aanstelling van ’n hoof-herstruktureringsbeampte wat die ontknoping sal deurvoer en dat die transmissiemaatskappy teen die middel van die jaar op die been moes wees. Volgens begrotingsdokumente sou die private sektor aandele in dié maatskappy kon koop.

Maar Eskom het binne weke van die toespraak ’n likiditeitskrisis gehad en die tesourie het ’n groot deel van die reddingsboei oorbetaal sonder dat daar aan ’n enkele voorwaarde voldoen is.

Ramaphosa het in sy staatsrede gesê Eskom sal binnekort ’n nuwe uitvoerende hoof én die herstruktureringsbeampte kry, maar die rol van laasgenoemde is oënskynlik afgewater. Waar dié persoon aanvanklik Eskom moes verdeel en regruk, het Ramaphosa dié rol nou beskryf as iemand wat Eskom “finansieel (moet) herposisioneer met besondere klem op die verhouding tussen die inkomste-, skuld- en kostestrukture van die maatskappy”.

Die tesourie het in April aan Rapport gesê hulle is ver gevorder met samesprekings oor die herstruktureringsbeampte, maar geen besonderhede verskaf van wat dié persoon gaan doen en aan wie hy of sy gaan rapporteer nie.

Montalto sê die geld wat Ramaphosa nou beloof het, is “vernietgeld” omdat daar dié keer nie eens voorwaardes of regrukoptrede daaraan gekoppel is nie. Hy sê die aankondiging van die nuutste reddingsboei moet boonop binne die volgende week of wat gedoen word om te verhoed dat Eskom se finansiële state gekwalifiseer word.

Mike Schüssler, ekonoom van Economists.co.za, stem saam dat die hulp vanjaar byna R70 miljard kan beloop. Hy sê omdat die regering waarskynlik die grootste deel daarvan sal moet leen, gaan dit staatskuld die hoogte in jaag en dit kan kredietgraderingsagentskappe noop om die land verder af te gradeer.

Eskom het reeds dié maand die publikasie van sy finansiële state tot volgende maand uitgestel.

Ramaphosa het in sy staatsrede gesê Eskom gaan genoeg kontant hê tot einde Oktober. Soos sake tans staan, sal die ouditeurs nie kan sertifiseer dat Eskom ’n lopende saak is nie.

Gekwalifiseerde state kan veroorsaak dat Eskom se skuldeisers onmiddellike betaling eis. Met ’n skuldlas van sowat R440 miljard kan dit ’n krisis vir die kragreus en die hele land se ekonomie veroorsaak.

Montalto sê as daar vinnig uitklaring kom oor die omvang en tydsberekening van die eerste hulppakket, kan dit dalk net die skaal swaai en verhoed dat die Eskom-state gekwalifiseer word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.