Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Eskom se base eis: ‘Betaal ons meer!’

Duisende Eskom-bestuurders vat hul werkgewer aan om groter salarisse en bonusse te kry.

Eskom waarsku selfs dat ’n staking dreig omdat werkers nie in die vorige boekjaar aansporingsbonusse gekry het nie en dat dít kan lei tot beurtkrag. Eskom sê senior personeel wat nie aan vakbonde behoort nie, “mobiliseer ál meer” en kan meedoen aan ’n staking.

Eskom se voorsitter, Jabu Mabuza. Hy het by die voorlegging van die groep se resultate gesê pres. Cyril Ramaphosa is gekant teen afleggings.

Die kragverskaffer het Dinsdag ’n verlies van meer as R20 miljard aangekondig en Calib Cassim, finansiële hoof, het stygings in personeelkoste uitgelig as ’n groot bekommernis. Eskom het effens minder personeellede gehad, maar die personeelkoste het met 13% gestyg tot R33 miljard – onder meer weens oortydbetaling, groot verhogings en ’n eenmalige betaling om stakende werkers verlede jaar terug te kry werk toe.

Dié probleem kan binnekort baie groter word.

Rapport kan vandag onthul dat tussen 180 en 200 senior bestuurders van Eskom hul werkgewer voor die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) daag omdat hulle die afgelope jaar geen salarisverhogings gekry het nie.

Dié senior bestuurders verdien almal tussen R1,5 miljoen en R3 miljoen per jaar. Hulle dring aan op ’n terugwerkende verhoging van minstens 4,7%, soos wat Eskom aan sy middelbestuur toegestaan het.

Seniors verdien tot R3 m. per jaar, eis nog.

Volgens Deon Reyneke, adjunkhoofsekretaris van die vakbond Solidariteit, sal dit Eskom na raming tussen R200 miljoen en R300 miljoen per jaar ekstra uit die sak jaag indien die senior bestuur slaag. Hul dispuut word dié maand aangehoor.

Maar ’n moontlik nóg groter probleem vir Eskom is ’n beslissing wat die KVBA reeds gemaak het ten gunste van sowat 6 500 middelbestuurders van Eskom.

Dié groep het verhogings van 4,5% gekry, maar wil 7,5% hê, soos werkers op laer posvlakke wat deel is van die Eskom-bedingingseenheid gekry het. Die middelbestuurders se salarisse is tussen R700 000 en R2 miljoen per jaar.

Solidariteit is die meerderheidsvakbond onder die middelbestuurders.

Reyneke sê Eskom het die KVBA se beslissing in hersiening geneem in die arbeidshof waar hulle die saak verder gaan betwis.

Die bedingingseenheid se meer as 30 000 lede het verlede jaar ’n rojale eenmalige nabelaste betaling van R10 000 elk gekry toe hulle ingestem het tot ’n driejaar-loonooreenkoms met verhogings van 7,5% in die eerste jaar en 7% in jaar twee en drie.

Dié eenmalige pasella het Suid-Afrikaners R1,3 miljard gekos.

Eskom sê ’n staking dreig weens ’n dispuut oor die kriteria vir aansporingsbonusse.

Die vakbonde meen dit is onredelik om “struikelblokke” vir die uitbetaling van bonusse te plaas deur byvoorbeeld finansiële teikens te stel waaroor hulle nie direkte beheer het nie. Volgens hulle is die bonusse deel van hul diensvoorwaardes.

Vakbonde dring verder daarop aan dat werkers in Eskom se kragopwekking-, transmissie- en distribusie-eenhede toegelaat moet word om te staak. Dié bedrywighede is geklassifiseer as noodsaaklike dienste en daardie werkers mag nie staak nie.

Eskom sê dit sal “ ’n wesenlike risiko inhou vir die stabiliteit van die nasionale kragnetwerk, soos gesien kon word tydens die arbeidsoptrede van Junie en Julie 2018.”

Dit was toe die nuut aangestelde uitvoerende hoof, Phakamani Hadebe, ’n 0%-verhoging aangebied het vir werkers. Eskom beskryf die chaos wat daarop gevolg het as “die grootste en mees komplekse insident wat ons geïntegreerde insidentbevelstrukture nog ooit hanteer het”.

Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, het ingegryp en Eskom het die 0%-aanbod van die tafel af geneem.

Mike Schüssler van Economists. co.za sê die werkers se eise is onrealisties en die bestuur se regstappe skreiend as jy in ag neem dat die gemiddelde Suid-Afrikaanse salaris sowat R265 000 per jaar is.

Hy sê dit is onregverdig dat Eskom se kliënte en belastingbetalers alleen die gelag betaal.

Die inflasiekoers is tans 4,5% en baie werkers in die private sektor kry nie eens verhogings wat daarmee tred hou nie, sê Schüssler.

Eskom moet sy salarisrekening verminder en behoort vir lank weg te bly van verhogings bo die inflasiekoers. “Anders moet hy personeel verminder.”.

Eskom se voorsitter, Jabu Mabuza, het egter by die voorlegging van die groep se resultate gesê pres. Cyril Ramaphosa is gekant teen afleggings.

Eskom sê sy arbeidsmag het die afgelope boekjaar met 1 963 verminder tot 46 665 as gevolg van natuurlike beweging van personeel. Hy oorweeg tans ook vroeë aftrede en vrywillige skeidingspakkette om getalle verder te verminder. Die mikpunt is 43 687 personeellede teen 2022 en 42 151 teen 2024.

Reyneke sê die algemene indruk dat Eskom-werkers te veel betaal word, is verkeerd. Hy sê Eskom is in sy huidige toestand weens foute wat die regering gemaak het en Eskom betaal sy kontrakteurs baie meer as sy werknemers. Eskom-personeel werk onder moeilike omstandighede en niemand daar word oorbetaal nie, sê hy.

Vet pakette

Die drie Eskom-groepshoofde wat in Desember 2018 afgelê is, het stewige skeidingspakkette gekry.

Luidens Eskom se jaarverslag het hulle elk ’n kennisbetaling van ses maande se salaris gekry bo en behalwe hul skeidingspakkette en salarisse.

Willy Majola, voormalige waarnemende groepshoof vir transmissie, het benewens sy salaris van R1,8 miljoen ook ’n totale skeidingspakket van R3,8 miljoen ontvang. Sy totale vergoeding vir die jaar was R5,8 miljoen.

Ayanda Noah, voormalige hoof van kliëntediens, se totale vergoeding was R9 miljoen, wat ’n afleggingspakket van R6,3 miljoen ingesluit het.

Mongezi Ntsokolo, voormalige hoof van distribusie, was die grootste wenner met ’n totale vergoeding van R9,4 miljoen, waarby afleggingskoste van R6,3 miljoen ingesluit is.

Meer oor:  Jabu Mabuza  |  Deon Reyneke  |  Calib Cassim  |  Eskom
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.