Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Eskom se direksie moet gaan, sê Pravin in parlement
Pravin Gordhan Foto: Gallo Images

Pravin Gordhan, afgedankte minister van finansies, sê die Eskom-direksie moet vrywillig bedank of hulle moet afgedank word, “omdat hulle Suid-Afrika vir te lank in die steek gelaat het”.

Gordhan het Dinsdagoggend onder luide toejuiging begin dien as ’n gewone ANC-LP in die parlementêre portefeuljekomitee oor openbare ondernemings.

Sy uitlatings kom tydens Lynne Brown, minister van openbare ondernemings, en die Eskom-direksie wat voor die komitee verskyn het om die heraanstelling van Brian Molefe as uitvoerende hoof van Eskom te verduidelik.

Gordhan het tydens ’n vraag-en-antwoord-sessie gesê die publiek is toenemend daarvan bewus dat hulle (Eskom) staatseiendom en -hulpbronne vir persoonlike gewin misbruik.

“Julle is bewustelik of onbewustelik deel van ’n sameswering om Eskom vir die voordeel van ’n paar individue te kaap. Dit is die werklikheid. Wat erger is, is dat Suid-Afrikaners bekommerd is dat ons ’n fase bereik het waar (die sogenaamde kapers) van mening is dat hulle nie omgee of die publiek bewus is van dit wat hulle doen nie.”

Volgens Gordhan is die uitbetaling van R30 miljoen wat Molefe sou ontvang indien hy nie heraangestel is nie, ook ’n druppel aan die emmer “omdat daar deesdae sommer R1 miljard in die openbare sektor gesteel word. Selfs R100 miljoen is te min”.

Gordhan sê R30 miljoen is egter steeds ’n aansienlike bedrag.

“Hoekom is daar nie hof toe gegaan oor die R30 miljoen nie? Hoekom net ingee tot iemand se eis?”

Gordhan het versoek dat alle relevante dokumente oor die Eskom-direksie se besluit om Molefe weer aan te stel, beskikbaar gestel word.

“Ons weet (Brown) het voorheen gesê dat die aanstel van ’n regterlike kommissie van ondersoek om beweringe van staatskaping te ondersoek, die president se prerogatief is. ’n Minister kan egter ’n afgetrede regter aanstel om die aangeleentheid te ondersoek. Hoekom word ’n afgetrede regter of senior advokaat nie aangestel om te bepaal wat regtig hier gebeur nie?”

Volgens Gordhan ondersteun hy ook versoeke vir ’n volle parlementêre ondersoek na Eskom.

“Dit moet gepaardgaan met ’n deeglike forensiese ondersoek van hoe besluite by Eskom geneem word. Eskom is te belangrik as entiteit om die persoonlike speelbal van ’n paar individue te word.

“Ek dink met respek dat ons nou by die punt gekom het waar die Eskom-direksie eerder afgedank moet word of dat hulle vrywillig moet bedank. Hulle het Suid-Afrika vir te lank, meer dikwels as nié, in die steek gelaat. Ek dink nie die direksie het Suid-Afrika goed gedien nie.”

Meer oor:  Pravin Gordhan  |  Parlement  |  Lynne Brown  |  Eskom  |  Brian Molefe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.