Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Eskom se oud-regshoof voor Zondo

Salim Essa, sakevennoot van die Guptas, het homself glo as ’n raadgewer van oudminister Lynne Brown voorgestel.

Hy was ook na bewering die man wat aan Brown voorgestel het wie as die direkteur-generaal van die departement van openbare ondernemings aangestel moet word.

Dit is van die bewerings Dinsdag voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping met die getuienis van Suzanne Daniels, ’n oud-regshoof van Eskom wat geskors en afgedank is.

Daniels is gevra wat sy van ’n spesifieke e-posadres, Businessman Infoportal1@zoho.com, weet.

Suzanne Daniels, ’n oud-Eskom-regshoof, wat geskors en afgedank is, getuig Dinsdag voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping. Foto: Skermgreep

’n E-pos is van dié adres af na Brown se persoonlike assistent, Kimberley Davids, gestuur met die woorde: “Dit is die kandidaat vir die DG-pos. Is dit moontlik vir hom om ‘Madam’ te ontmoet.”

Adjunkhoofregter Raymond Zondo, voorsitter van die kommissie, het uitgewys dit blyk dat “Madam” na Brown verwys.

Essa is na bewering die skrywer van die e-pos waarby die CV van Richard Seleke ingesluit is vir Brown se aandag. Seleke is daarna op 27 November 2015 as die DG van openbare ondernemings aangestel.

Daniels het getuig sy was onder die indruk dat Seleke die betrokke e-posadres gebruik het omdat dr. Ben Ngubane, oud-voorsitter van die Eskom-direksie, dit so aan haar verduidelik het. Ngubane het in sy getuienis verlede week weer aangevoer dit was Daniels wat aan hom gesê het die e-posadres is dié van die DG.

Dit is Dinsdag aan Daniels gestel dat Essa die man agter die e-posadres is. Sy is gevra of sy vir Essa geken of ontmoet het.

Daniels het getuig Matshela Koko, in daardie stadium waarnemende uitvoerende hoof van Eskom, het haar in ’n vergadering aan Essa voorgestel. Koko het haar gevra om hom by Melrose Arch te ontmoet, waarna hy haar na ’n nabygeleë kantoorkompleks saamgeneem het. Daar het Koko haar aan Essa voorgestel.

“Essa het gesê hy is minister Brown se raadgewer,” het Daniels getuig. Koko was volgens haar baie gemaklik in Essa se geselskap en hulle wou van haar weet wat hulle moet doen om mense geskors te kry. Sy het geantwoord dat sy nie ’n arbeidsprokureur is nie en dat hulle werklik goeie redes daarvoor sal moet hê.

Daniels het getuig sy en Essa het ook op ’n keer toevallig by die vulstasie voor Eskom se hoofkantoor, Megawatt Park, ontmoet. Daniels was besig om daar brandstof in te gooi toe ’n Maserati langs haar intrek en Essa, wat die bestuurder was, beduie het sy moet in die parkeerplek gaan parkeer. In daardie stadium was Koko geskors en Essa het aan haar gevra hoekom sy nie vir Koko ondersteun om terug te keer nie.

“Ek was geskok, want hy het die presiese woorde herhaal wat ek in ’n telefoonvergadering van die oudit-en-risiko-afdeling gesê het. Ek het gedink hoe de hel weet hy wat ek gesê het,” het Daniels getuig.

Sy het aan Essa genoem dat Koko nie sal kan terugkom nie. “Ek het toe al ontdek hoe betrokke hy by tender-manipulasie was,” het Daniels gesê.

Sy voer aan dat Essa daarna vir haar gesê het sy moet haar prys noem, dan sal hulle doen wat sy sê. Daniels het aan Essa gesê daar is geen manier nie, waarna hy haar R800 miljoen aangebied het indien sy sou help.

“Ek het na hom gekyk en gesê hy moenie laf wees nie. Ek het hardop uitgebars van die lag, in my motor geklim en weggery,” het Daniels getuig.

Ek was geskok, want hy het die presiese woorde herhaal wat ek in ’n telefoonvergadering van die oudit-en-risiko-afdeling gesê het. Ek het gedink hoe de hel weet hy wat ek gesê het.

Sy het ontken dat sy deel was van die Guptas se planne.

“Daar was hierdie ding dat ek deel was daarvan. Kyk na die Guptas se modus operandi. Ek is nie sakke vol kontant gegee nie. Ek is nie by Saxonwold onthaal nie. Ek was nie na Dubai nie. Ek is nie genooi na enige van die funksies waaroor mense al getuig het nie,” het Daniels gesê.

Meer oor:  Salim Essa  |  Lynne Brown  |  Zondo-Kommissie  |  Suzanne Daniels  |  Eskom
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.