Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Estina aan die beurt voor Zondo-kommissie
’n Ingang na die Vrede-melkplaas.Foto: Argief

Getuienis oor beweerde grootskaalse korrupsie met die Estina-suiwelprojek in Vrede in die Vrystaat word van Maandag af deur die Zondo-kommissie van ondersoek aangehoor.

Adjunkhoofregter Raymond Zondo het Vrydagmiddag bekend gemaak dat dié projek nou deur die kommissie ondersoek gaan word.

Die Vrystaatse regering het Estina, ’n maatskappy met Gupta-bande, meer as R300 miljoen betaal om die Vrede-suiwelplaas te bestuur. Die projek was daarop gemik om swart boere op te hef.

Oudpres. Jacob Zuma het Vrydag voor die kommissie van ondersoek getuig. Hy het in ’n stadium geweier om verder te getuig, waarna Zondo ingegryp het, die staat en Zuma se prokureurs beraadslaag het en die voormalige president toe ingestem het om sy samewerking te gee.

Zuma sal eers weer later as getuie geroep word.

Zuma sal eers weer later as getuie geroep word. Hy sou aanvanklik net tussen 15 en 19 Julie as getuie beskikbaar wees.

Roy Jankielsohn, van die DA in die Vrystaat, asook Albertus Venter, adjunkdirekteur van korporatiewe administrasie en koördinering in die kantoor van die Vrystaatse premier, is op die lys van getuies vir Maandag.

Getuienis voor die Zondo-kommissie word gegroepeer sodat kwessies soos Bosasa, die SA Express-lugdiens, Transnet, die Waterkloof-landing en nou Estina, in dieselfde tydgleuf hanteer word.

Een van die vrae oor die Estina-projek wat moontlik beantwoord kan word, is watter rol Ace Magashule, voormalige premier van die Vrystaat en nou sekretaris-generaal van die ANC, gespeel het om ’n vergadering tussen Mxolisi Dukwana, voormalige Vrystaatse LUR vir ekonomiese ontwikkeling, en die Gupta-familie by hul huis in Saxonwold, Johannesburg, te reël.

Bewerings dat adv. Busisiwe Mkhwebane, openbare beskermer, probeer het om inligting oor die Vrede-suiwelprojek toe te smeer kan ook in die getuienis voor Zondo genoem word.

Regter Ronel Tolmay het reeds in ’n uitspraak in die hooggeregshof in Pretoria gesê Mkhwebane het haar plig versuim om die Guptas se Vrede-suiwelprojek behoorlik te ondersoek en dat ’n verslag wat sy hieroor opgestel het ongrondwetlik en ongeldig is.

Voorheen het Sarel van der Walt berig die nuwe ondersoek-direktoraat van die nasionale vervolgingsgesag werk ten nouste saam met die Zondo-kommissie.

Adv. Hermione Cronje, nuwe hoof van dié eenheid – wat baie soortgelyk aan die eertydse Skerpioene-eenheid is – het gesê die Estina-suiwelprojek en die Bosasa-skandaal is hoog op die eenheid se lys van prioriteite.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.