Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Estina: ‘As dit pap reën, moet jy skep’, getuig boer

’n Afgetrede melkboer van Memel in die Vrystaat het Dinsdag voor die Zondo-kommissie getuig die Estina-melkplaas was ’n dom idee, maar hy en ’n ander boer het besluit “as dit pap reën, moet jy skep”.

Johannes Theron, afgetrede melkboer van Memel, getuig Dinsdag voor die Zondo-kommissie. Foto: Skermgreep

Johannes Theron, wat 34 jaar lank sy eie melkplaas bestuur en daarna ’n ander boer se melkplaas vir nog vier jaar bestuur het, het getuig hoe hy by die projek betrek is.

In 2012 was daar ’n besoek van sowat 20 mense aan die plaas wat hy toe bestuur het. Hy is ’n kundige oor melkboerdery en is gevra om te help om ’n afvaardiging van die Estina-maatskappy en amptenare van die Vrede-munisipaliteit te woord te staan.

Dié groep het meesal in Mercedes-Benze op die plaas opgedaag en hy het hulle op die plaas rondgewys hoe ’n melkboerdery werk, het Theron getuig.

Hy het gesê die meeste van die besoekers was van Indiese afkoms. Hy kan nie hulle name onthou nie omdat hy 16 mense op een slag ontmoet het.

Hy het getuig Ashok Narayan (’n sakeman met noue bande aan die Guptas) het hom ’n maand ná dié besoek gebel en gesê die Estina-projek gaan voort en hulle het kundige raad nodig. Hy moes na ’n huis in Saxonwold gaan.

Theron het aan die melkboer vir wie hy toe gewerk het genoem dat hy Saxonwold toe gaan en die twee het besluit om saam te gaan. Hulle wou probeer om melkkoeie aan die projek te verkoop.

“Soos die boere sê, as dit pap reën moet jy skep,” het Theron getuig. Hy het in Engels getuig, maar dié deel in Afrikaans gesê.

Zondo het gevra dat hy die uitdrukking herhaal en het toe lekker gelag.

Theron het getuig hy het nog nooit soveel sekuriteit gesien soos wat hy by die huis in Saxonwold gesien het nie. Hy het nie geweet aan wie die eiendom behoort nie. Daar is ook nie aan hom gesê aan wie dit behoort nie en hy het aangeneem die eiendom behoort aan Estina.

Theron het getuig in daardie stadium kon ’n mens melkkoeie koop vir R8 000 elk, hy en die ander melkboer het gehoop hulle kon koeie vir so R12 000 aan die projek verkoop.

Zondo het hierop gesê: “Ja, want dit het gereën.”

Theron het geantwoord: “Dankie, voorsitter.”

Helaas wou Estina nie byt nie.

Zondo het gelag en gesê, so toe hulle nie meer die geleentheid gehad het om hul melkkoeie te verkoop nie, het hulle ’n ander plan gemaak.

Maar hy en die ander melkboer het tog nog ’n manier gesien om ’n paar rand te maak.

Hulle kon ’n “opspoordersloon” kry as hulle verskaffers aan die melkplaas kon voorstel vir die toerusting van R6 miljoen wat nodig was. Hulle het dit reggekry en Theron en die ander melkboer het elkeen sowat R30 000 gekry (altesame 1% van die kontrak) wat deur die vervaardiger aan hulle betaal is.

Zondo het gelag en gesê, so toe hulle nie meer die geleentheid gehad het om hul melkkoeie te verkoop nie, het hulle ’n ander plan gemaak.

Theron het geantwoord dit is korrek.

Volgens Theron het hy later gedink hy sal ook kan help om die Vrede-melkplaas te bestuur, maar hulle was baie sensitief oor die koeie wat besig was om te vrek, so hulle het hom weggejaag.

Hy het toe reeds besef die melkplaas is ’n dom idee vir daardie deel van die Vrystaat, maar hy wou gaan help omdat die diere gevrek het.

Met die afsluiting van sy getuienis is Theron gevra of hy nog iets wil byvoeg. Hy het geantwoord dit is soos om bloed uit ’n klip te tap vir hom; hy het niks om by te voeg nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.