Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Estina: Gupta-man het buffel-melkplaas in Indië besoek

Ace Magashule, oudpremier van die Vrystaat, het die Gupta-sakeman Ashuk Narayan se besoek aan Indië om “met ’n strategiese vennoot” vir die Vrede-melkplaas te gaan onderhandel, goedgekeur én hom met belastingbetalers se geld betaal nog voordat hy skielik as spesiale raadgewer in die premier se kantoor aangestel is.

Peter Thabethe, voormalige hoof van die Vrystaatse landboudepartement. Foto: Skermgreep

Dié besluit van Magashule het Donderdag in getuienis van die voormalige hoof van die Vrystaatse landboudepartement, Peter Thabethe, voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping aan die lig gekom.

Adjunkhoofregter Raymond Zondo het dit aan Thabethe gestel dat Magashule vir Narayan op 29 Februarie 2012 as sy spesiale raadgewer aangestel het. Die versoek om Indië te besoek wat Thabethe vir goedkeuring aan die premier voorgelê is, is egter al op 24 Februarie 2012 skriftelik gedoen.

Dít beteken dat Narayan nog nie eens as spesiale raadgewer deur Magashule aangestel is nie, maar daar toe reeds besluit is dat hy namens die premier se kantoor na Indië moet gaan.

Die koste hiervan is deur die Vrystaatse landboudepartement betaal.

Zondo het Thabethe gevra of hy dan nie vrae moes gevra het oor watter waarde Narayan se besoek sou toevoeg nie.

Hierop het Thabethe geantwoord dit is nie so maklik om vrae te vra nie.

Zondo was nie tevrede met dié antwoord nie en het gesê dit mag dalk nie maklik gewees het nie, maar waarom nie. Daar het dinge in die land verkeerd gegaan en mense het gesê dit was nie maklik om vrae te vra nie. Hoekom was dit nie maklik nie?

Zondo het gesê daar word ’n aantal kwessies ondersoek – soos tot watter mate in vele ander gevalle belastingbetalers se geld ook gemors is.

Thabethe het hierop geantwoord soos hy dit verstaan het, moes daar iemand van “protokol” saamgegaan het. En soos hy verstaan moet die departement wat die besoek aanvra, vir daardie “protokol-persoon” se reiskoste betaal.

Adv. Leah Gcabashe SC, wat Thabethe se getuienis gelei het, het gevra hoekom spesifiek dié individu. Was hy dan ’n kenner van melkerye?

Thabethe het gesê hy kan nie hierop antwoord nie.

Hierna het Zondo hom gevra wie Narayan vir die reis gekies het. Thabethe het geantwoord Mosebenzi Zwane, toe Vrystaatse LUR vir landbou.

Zondo wou weet of Thabethe nou aanvaar dat hy verkeerd opgetree het. Hy het geantwoord as hy nou terugkyk, besef hy dat hy verkeerd opgetree het.

Zondo het gesê daar word ’n aantal kwessies ondersoek – soos tot watter mate in vele ander gevalle belastingbetalers se geld ook gemors is. Indien daar vrae gevra is, sou dit nie gebeur het nie.

Vroeër Donderdag het Thabethe getuig die Indiese maatskappy Paras wat hulle gaan besoek het, se melk is grotendeels afkomstig van waterbuffels. Dit was nadat Gcabashe aan hom uitgewys het dat Paras meestal op dié melk fokus – 57% daarvan is van waterbuffels. In Suid-Afrika is daar nie sulke buffels nie, so Thabethe het ’n produsent as strategiese vennoot oorweeg wat nie dieselfde is as die melkbedryf in Suid-Afrika nie.

Thabethe het geantwoord hy stem nie saam nie, die kwantiteit en sakemodel is dieselfde, of jy nou melk van ’n buffel of ’n bees kry. In Indië word daar buffels gebruik en in Suid-Afrika beeste, maar dit is dieselfde.

Thabethe se getuienis word Vrydag voortgesit wanneer die kommissie se sitting om 10:00 begin.

Meer oor:  Estina  |  Estina-Melkplaas  |  Zondo-Kommissie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.