Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Estina het glo net R16 in die bank gehad

Die Estina-maatskappy, wat volgens ’n ooreenkoms met die Vrystaatse landboudepartement R220 miljoen moes gee om ’n melkverwerkingsaanleg by die Vrede-melkplaas te bou, het net R16 in sy bankrekening gehad.

Peter Thabethe, voormalige hoof van die Vrystaatse landboudepartement, getuig Dinsdag voor die Zondo-kommissie.Foto: Skermgreep

Só het adv. Leah Gcabashe SC, ondervraer van die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping, Dinsdag aangevoer toe sy die getuienis van Peter Thabethe, voormalige hoof van die Vrystaatse landboudepartement, gelei het.

Gcabashe sê ’n deel van die ooreenkoms was dat Estina R220 miljoen sou bydra tot die projek, maar indien die maatskappy se bankrekeninge nagegaan en behoorlike huiswerk gedoen is, sou dit ’n ander prentjie kon skets van die werklikheid of die maatskappy só ’n bedrag kon bekostig.

Thabethe het erken die bankrekeninge van Estina is nie nagegaan nie.

Adjunkhoofregter Raymond Zondo, voorsitter van die kommissie, het dit aan Thabethe gestel hy kan slegs tot op ’n punt aanvoer hy het na die staatsprokureurs geluister en hul raad gevolg, maar aan die einde was hy die hoof van die departement en moes hy die verantwoordelikheid dra.

Zondo het verskeie vrae gehad:

  • Kon Thabethe sien onder watter risiko hy die Vrystaatse landboudepartement geplaas het sonder om die risiko te oorweeg?
  • Hy verwag dat Estina meer as R200 miljoen sal betaal, maar maak nie eers seker of hulle ’n sent in hul bankrekening het nie?
  • Die dag voordat die Vrystaatse regering die eerste betaling van R30 miljoen in die Estina-rekening gemaak het, was daar slegs R16 in die rekening. Hoe kon die maatskappy ’n bedrag van meer as R200 miljoen bekostig?
  • Hoe kon Thabethe as hoof van die departement dit doen?
  • Hoe verduidelik hy dit?

Thabethe het geantwoord die Indiese suiwelmaatskappy Paras moes die geld gee. Estina was die plaaslike vennoot van Paras.

Hy het geantwoord “die tweede fase van die projek volg op die eerste fase van die projek”. Die departement sou die melkery behartig en Estina die suiwelaanleg. Elkeen moes op sy eie kon voortbestaan.

Thabethe sê hy verstaan wat Zondo sê dat Estina nie sy deel kon bydra nie, maar dit sou nie ’n invloed hê op die eerste fase van die projek nie.

Gcabashe het op Thabethe se verduideliking aangevoer daar is geen klousule in die ooreenkoms (tussen die Vrystaatse landboudepartement en Estina) wat aandui dat Paras die befondsing sou doen en Estina slegs die projek sou bestuur nie.

Gcabashe het aan Thabethe gevra watter bewyse die landboudepartement het dat Paras en Estina ooreengekom het dat Paras die befondsing sou doen.

Sy het na die ooreenkoms met die landboudepartement verwys wat sê dat Estina 49% van die aandele in die melkplaas sou hê, dat Estina die kapitaal sou verskaf en Paras die tegniese kundigheid. Ook word genoem Estina sal die volle kapitaalbelegging behartig en vra daarom dat die regering jaarliks R100 miljoen aan Estina betaal om die projek aan die gang te kry.

Gcabashe sê daar word genoem Estina sou die befondsing hanteer. Hoe verstaan Thabashe dit?

Hy het geantwoord indien ’n mens namens jouself en ’n vennoot onderhandel, sal jy altyd self die verantwoordelikheid neem. Estina praat hier ook namens Paras, maar sê dit sal self die verantwoordelikheid dra.

Zondo het uitgewys dat daar geen ooreenkoms met Paras was nie. Die ooreenkoms met Estina was dat Estina die kapitaal sou verskaf – en Estina het geen geld gehad nie.

Thabethe se getuienis is tot ’n onbepaalde datum in September uitgestel.

Die kommissie in Johannesburg sit nie Woensdag nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.