SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Politiek
Estina: NVG gereed om aanklagte weer in te stel

Die nasionale vervolgingsgesag (NVG) is gereed om aanklagte teen vermeende bedrieërs in die Estina-suiwelprojek naby Vrede weer in te stel.

Die Gupta-familie en Vrystaatse regering was by dié projek betrokke.

Phaladi Shuping, NVG-woordvoerder in die Vrystaat en Noord-Kaap, het egter Woensdag gesê hy weet nie presies wanneer dit sal gebeur nie, maar dat die ondersoek byna afgehandel is.

Die Estina-suiwelprojek in Vrede se ingang. Foto: Deon Raath

Adv. Hermione Cronje, hoof van die vervolgingsgesag se ondersoekdirektoraat, het vroeër vandeesweek aan News24 gesê die ondersoek sal teen die einde van November klaar wees, waarna die saak weer op die hofrol geplaas gaan word.

Intussen sê dr. Roy Jankielsohn, DA-lid en leier van die amptelike opposisie in die Vrystaatse wetgewer, in ’n verklaring dat hy die aankondiging verwelkom.

In Desember verlede jaar is al die aanklagte teen die 11 beskuldigdes in die staat se ondersoek na die suiwelprojek van R250 miljoen in die streekhof in Bloemfontein voorlopig laat vaar.

Die plaas Krynaauws Lust van meer as 4 400 ha waarop die suiwelprojek bedryf was, is vroeër vanjaar in die hooggeregshof in Bloemfontein aan die staat verbeurd verklaar.

Die Estina-saak word ook deur die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping onder die soeklig geplaas. News24 berig aanklagte in verband met die projek, waarby die Guptas, die Vrystaatse regering en landboudepartement, Ace Magashule, toe die Vrystaatse premier, en Mosebenzi Zwane, destydse LUR vir landbou, betrokke was, word nou geformuleer.



Die Estina-ondersoek verloop egter nie sonder probleme nie.

Een van Cronje en Shamila Batohi, direkteur van openbare vervolgings, se frustrasies is dat hulle glo nog nie “genoeg samewerking” van die Zondo-kommissie kry nie.

Die NVG het ook nie genoeg vaardighede en die vermoë om ingewikkelde finansiële en korrupsiekwessies uit te pluis nie, omdat dit ook weens staatskaping uitgekalwe is. Private ondersoekers is daarom aangestel om met die ondersoek te help. Dit was ook ’n uitdaging om genoeg ervare ondersoekers van die Valke na die NVG te ontplooi.

Cronje sê hulle het die verlangde bankstate gekry, ook uit die Verenigde Arabiese Emirate. Forensiese ondersoekers fynkam nou die bankstate, dokumente en ander bewyse om ’n korrupsiesaak saam te stel wat hulle kan wen.

Hulle volg nou ’n nuwe strategie en verwag teenstand en onbenullige hofaansoeke om die vervolging te probeer vertraag.

Jankielsohn sê die DA hoop dat die saak dié keer waterdig is ná die teleurstelling toe dit teruggetrek is, berig Marietjie Gericke.

Die DA hoop dat “die politici wat die projek begin en magtiging vir die betalings aan Estina gegee het” ook vasgetrek word.

Jankielsohn sê sy vrae in die Vrystaatse wetgewer oor die projek “is met ontkenning en persoonlike en rasgegronde beledigings” begroet.

“Die DA veg reeds sewe jaar lank vir geregtigheid en sal nie ophou totdat die begunstigdes hul voordele kry en mense vir die diefstal van belastingbetalersgeld vervolg word nie,” lui Jankielsohn se verklaring.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.