Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Estina: OB kry bloedneus, maar wil appelleer

Adv. Busisiwe Mkhwebane, die openbare beskermer (OB), gaan appelleer teen die hofbevinding dat sy vir die regskostes moet opdok in die saak waarin sy Donderdagoggend bloedneus gekry het.

Mkhwebane se optrede met haar ondersoek na die Estina-suiwelprojek in Vrede in die Vrystaat “was nóg slegter en betreurenswaardiger” as haar ondersoek na die Reserwebank, het die hof bevind.

Met dié ondersoek het sy die mense van Suid-Afrika in die steek gelaat en nie haar grondwetlike pligte nagekom nie.

Dié harde woorde het Donderdagoggend in die hooggeregshof gekom van regter Ronel Tolmay toe sy gelas het Mkhwebane moet persoonlik opdok vir ’n groot gedeelte van die regskoste van die Raad vir die Bevordering van die Suid-Afrikaanse Grondwet (Casac) en die DA in die saak oor haar ondersoek na die Estina-suiwelprojek.

Adv. Busisiwe Mkhwebane. Foto: Argief

Tolmay het nie doekies omgedraai nie en gesê die OB het in dié ondersoek nie haar grondwetlike plig nagekom nie. Sy het die armes en die kwesbaarste mense in die gemeenskap in die steek gelaat.

Mkhwebane moet in haar amptelike hoedanigheid as OB 85% van die koste betaal en 7,5% in haar persoonlike hoedanigheid.

Dié beslissing kom kort op die hakke van die besluit van die konstitusionele hof dat Mkhwebane persoonlik aanspreeklik gehou word vir die regskoste wat die Reserwebank aangegaan het om die bevindinge in haar Absa/Bankorp-verslag te laat omkeer.

In dié geval moet sy sowat R900 000 opdok.

Tolmay het in Mei beslis Mkhwebane het haar plig versuim met die ondersoek na en verslag oor die Estina-projek.

Dié verslag was volgens Tolmay ongrondwetlik en ongeldig en sy het dit tersyde gestel.

Die DA en Casac het in 2018 die aansoek ingedien dat Mkhwebane se verslag ongrondwetlik verklaar en tersyde gestel moet word.

Donderdagoggend het Tolmay in haar uitspraak gesê die OB se optrede met die Estina-sage was nog erger as met die Reserwebank-saak.

Met laasgenoemde saak het Mkhwebane se foute ’n invloed gehad op instellings wat die geld het om hulself te verdedig, maar met die Estina-sage het sy deur haar pligsversuim ’n invloed gehad op die regte van die armes en die kwesbares in die gemeenskap.

“Dit is vir dié mense dat haar kantoor aanvanklik gestig is.

“Húlle (die armes) is ontneem van ’n geleentheid om ’n beter lewe vir hulself te skep.

“Die mense vir wie die Estina-projek bedoel was, is daarvan ontneem deur die mense wat verantwoordelik was vir hul opheffing,” sê Tolmay.

Regter Ronel Tolmay (agter in die middel) Donderdagoggend besig met haar uitspraak. Foto: Sarel van der Walt

Mkwebane het haar blind gehou daarvoor, hulle nie gekonsulteer nie en nie die talle onreëlmatighede wat na bewering gepleeg is, behoorlik en objektief ondersoek nie.

“Haar optrede met dié ondersoek kom neer op growwe nalatigheid. Sy het totaal misluk in die uitvoering van haar grondwetlike pligte.

“Sy het die mense van die land in die steek gelaat met die wyse waarop sy dié saak ondersoek het.

“Die OB het haar optrede probeer regverdig deur dit voor die deur van ‘beperkte bronne’ te lê.

“In dié geval het sy in werklikheid probeer om die onverdedigbare probeer verdedig. Sy moes besef het haar verdediging het nie meriete nie,” sê Tolmay.

Die regter sê die OB het “ontsaglike mag”, maar dit gaan gepaard met groot verantwoordelikheid.

“As sy misluk, soos sy in dié geval gedoen het, moet sy volle verantwoordelikheid neem.”

Mkwebane het in ’n beëdigde verklaring aangevoer sy staan die aansoek om ’n kostebevel teen omdat dit verreikende en ernstige gevolge vir die administrasie van “geregtigheid en die oppergesag van die reg” inhou.

Dit kan ook beskou word as inmenging by die funksionering van die OB. Dit sal ook nie van pas wees nie omdat sy nie in haar persoonlike kapasiteit gedagvaar is nie.

Tolmay se antwoord hierop was dat die konstitusionele hof dié argumente reeds verwerp het.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.