Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Estina: ‘Ons weet nie wat het met geld gebeur’ - oud-LUR

Hoewel die Vrystaatse tesourie ’n oorsigrol gehad het met die Vrede-suiwelprojek, was dié rol beperk.

Dít is die kern van die getuienis wat Elzabé Rockman, voormalige Vrystaatse LUR vir finansies, Woensdag en Donderdag voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping gelewer het.

Elzabé Rockman, Vrystaatse LUR vir finansies.Foto: Mlungisi Louw

Miljoene rande van belastingbetalers se geld is op die omstrede Vrede-suiwelplaasprojek gemors wat veronderstel was om tot hulp van opkomende swart boere te wees.

Estina, ’n Gupta-beheerde maatskappy, is aangestel om met die implementering van die projek te help.

In vorige getuienis voor die kommissie is daar beweer dat Rockman destyds van die beweerde vergrype geweet het, maar dat sy doelbewus nie opgetree het nie.

“Ons het ’n oorsigrol gehad, maar ons magte was beperk,” het Rockman getuig.

Sy sê die provinsiale tesourie was afhanklik van die Vrystaatse landboudepartement om inligting oor die projek deur te gee. Volgens dié inligting het dit aanvanklik gelyk asof die projek goed verloop, beweer Rockman.

Volgens haar het die tesourie oordragbetalings op aanbeveling van die landboudepartement aan Estina gedoen.

Estina is aangestel omdat die projek glo dringend was. Die normale tenderproses is nie gevolg nie.

“Sodra die oordragbetaling gedoen is, weet ons nie wat met die geld gebeur nie. Dit was die werk van die landboudepartement om te verseker die geld word reg gebruik, dit is nie die tesourie se rol nie,” het Rockman getuig.

“As daar agtergekom word dat betalings onreëlmatig gedoen is, moet daar hof toe gegaan word om die ooreenkoms ter syde te stel,” het sy gesê.

Adjunk-hoofregter Raymond Zondo, wat die kommissie lei, het gesê hy is verbaas om te hoor dat die hof genader sou word.

“Monitering beteken tog dat jy (die tesourie) kyk of dinge reg gedoen word. Daar moet tog iets wees wat jy kan doen as jy agterkom dat iets nie reg gedoen is nie. Nou hoor ek jy moet hof toe gaan,” het Zondo gesê.

Volgens hom het die openbare sektor tog meganismes in plek om te verseker dat geld reëlmatig bestee word.

“Maar die meganismes word nie gebruik nie. Dis asof mense wat vir die regering werk, dink daar sal niks met hulle gebeur as hulle nie hul werk doen nie. Daar gebeur niks met die mense wat dié meganismes nie gebruik nie,” sê Zondo.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.