Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Estina-projek ‘is geskep vir Guptas se geldwassery’

Die Estina-projek is geskep met slegs een doel – om dit as ’n werktuig te gebruik vir die Guptas se grootskaalse internasionale geldwassery.

Bewyse van die ingewikkelde web van hoe betalings vanaf die Vrystaatse regering na verskeie bankrekenings in Suid-Afrika en onder meer die Verenigde Arabiese Emirate oorbetaal is, net om weer terugbetaal te word in ander Suid-Afrikaanse bankrekeninge van die Guptas, is Donderdag as getuienis by die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping ingedien.

Paul Holden, ’n ondersoeker van Shadow World Investigations, ’n nieregeringsorganisasie in Londen, het Donderdag voor die kommissie oor die bevindings van ’n ondersoek getuig wat dié organisasie gedoen het oor die omvang van die Guptas se staatskaping in Suid-Afrika. Sy getuienis is gelei deur adv. Matthew Chaskalson SC.

Paul Holden, ’n ondersoeker van Shadow World Investigations, getuig Donderdag voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping. Foto: Skermgreep

In ’n verslag wat op Shadow World Investigations se webblad gepubliseer en by die kommissie as ’n bewysstuk ingedien is, word genoem hoe die ondersoek gegrond is op onder meer die inligting wat verkry is uit die #GuptaLeaks-e-posse. Volgens die verslag is die Estina-projek begin met die doel om in te skakel by die Guptas se geldwassery.

Minstens een e-pos, met die datum 2 Junie 2011, toon dat die sakeman Kamal Vasram die Estina-maatskappy na bewering as werktuig gebruik het in sy saketransaksies met die Guptas. Dit is gedoen ’n jaar voordat die Vrede-melkplaas in Vrede begin is.

Vasram was die uitvoerende hoof en enigste direkteur van die Estina-maatskappy en hy het geen ondervinding gehad van landbou en melkplase nie.

Volgens die verslag was die Guptas nou betrokke by alle aspekte van die Estina-projek vandat die projek voorgestel en saam met die Vrystaatse regering begin is, totdat daar ’n finale betaling in 2016 gemaak is.

Uiteindelik het ’n merkbare deel van die geld van die Vrystaatse regering in die bankrekeninge beland van Oakbay Investments en Linkway Trading, wat met die Guptas verbind word.

Van die belangrikste inligting wat met die #GuptaLeaks-e-posse verkry is, is ’n ontleding en opsommings van bankrekeninge wat saamgestel is deur Sanjay Grover, die Guptas se rekenmeester. Dié inligting wys volgens Shadow World Investigations se verslag hoe die banktransaksies gedoen is as deel van die Guptas se beweerde geldwassery-skema.

Een van die e-posse verwys na Estina (Edms.) Bpk. en ’n bedrag van meer as $8 miljoen.

Wanneer die spoor van die Estina-betalings gevolg word, lei dit onder meer na Linkway Trading se bankrekening, wat weer verbind word met ’n rits transaksies van die Guptas.

Holden het getuig dat Linkway Trading op 31 Julie 2013 ’n faktuur uitgereik het vir koste van die Gupta-troue in Sun City.

Die faktuur vir die Sun City-troue het ingesluit:

- R2 421 wat betaal is vir skyfies kiwivrug;

- R364 243 vir drank;

- R331 427 vir dansers; en

- R2,1 miljoen vir akkommodasie.

Die faktuur van die troue was vir die betaling van ’n totaal van R30 miljoen.

Die verskillende maatskappye wat die Guptas glo gebruik het vir die grootskaalse geldwassery is: Accurate Investments, Aerohaven Trading, Estina, Fidelity Enterprises, Gateway Limited, Gateway Infrastructure, Global Corporation LLC, Linkway Trading,

Oakbay Investments, SES Technologies, Sahara Computers, en Vargafield. Die maatskappye was in drie lande geregistreer: Suid-Afrika, die Verenigde Arabiese Emirate en Indië.

Volgens die verslag deur Shadow World Investigations was die doelwit van die Guptas se ondernemings om die maksimum voordeel te bied aan die Gupta-familie, sy werknemers asook medewerkers.

Holden getuig Vrydag verder.

Meer oor:  Estina  |  Guptas  |  Vrede  |  Geldwassery
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.