Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
‘Estina se koekieresep moes beskerm word,’ hoor Zondo

Peter Thabethe, voormalige hoof van die Vrystaatse landboudepartement, sê die Estina-maatskappy se planne om die Vrede-melkplaas te bestuur, is soos ’n koekieresep, en ’n mens gee nie daardie geheime weg nie.

Thabethe moes Vrydag weer vrae beantwoord voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping oor Estina en die R280,2 miljoen wat sy departement aan dié maatskappy betaal het.

Peter Thabethe, voormalige hoof van die Vrystaatse landboudepartement. Foto: Skermgreep

Volgens Thabethe kon hy nie toestemming gee aan ’n ondersoekspan wat deur nasionale tesourie aangestel is om regstreeks vrae aan Estina te stel nie, want dit is ’n private maatskappy met geheime bestuursplanne wat nie uitgelap moes word nie. “ ’n Mens sê nie vir almal wat die bestanddele van ’n koekieresep is nie,” het Thabethe getuig.

Adjunkhoofregter Raymond Zondo, voorsitter van die kommissie, het egter geantwoord dis nie hoe dinge werk nie. Dit gaan hier oor die gebruik van belastinggeld. Die nasionale tesourie het die reg gehad om met Estina te praat en Estina te ondersoek. Thabethe moes gesê het dat Estina wel ondersoek kan word. Indien nie, kon die kontrak nie voortgaan nie. Zondo het gesê hy begryp nie hoekom Thabethe ’n beswaar het daaroor nie.

Hoekom wou hy ’n staatsprokureur saamstuur as die nasionale tesourie met Estina praat, wou Zondo weet.

Thabethe het geantwoord sy probleem is dat hy nie baie kennis het oor regskwessies nie.

Thabethe het getuig hy wou hê indien die ondersoek gedoen word, moes iemand van die landboudepartement teenwoordig wees. Die ondersoekers van die nasionale tesourie kon nie eksklusief met Estina praat nie.

“Hoekom nie?” wou Zondo weer weet.

Thabethe het geantwoord hy verstaan die situasie nou beter. Hy het dit nie destyds verstaan soos hy dit nou verstaan nie.

Maar wát het Thabethe dan destyds gedink, wou Zondo weet.

Thabethe het hierop geantwoord hy “hoor wat Zondo nou sê”. Maar in daardie stadium was sy begrip van die regskwessies anders as nou.

Zondo het volgehou hy wil weet wat Thabethe destyds as die probleem beskou het. Enige hoof van ’n departement wat wou verseker dat alles in sy departement reg verloop, sou toestemming gegee het. Die nasionale tesourie is nie mense van buite nie, hulle is deel van die regering.

Thabethe het getuig hy was bang om toestemming te gee dat ’n private maatskappy ondersoek word. Hy het erken dat hy ’n fout gemaak het.

Adv. Leah Gcabashe SC, getuienisleier van die kommissie, het gevra of Thabethe bewus was daarvan dat Estina se adres – Catherinestraat 144 in Sandton – ook die adres is van verskeie maatskappye met Gupta-bande. Thabethe het geantwoord hy was by wel by die adres. Maar dié feit was nie vir hom duidelik toe die kontrak met Estina opgestel is nie.

Gcabashe het gesê sy sal dit betreklik wyd stel, naamlik dat die sakeman Kamal Vasram van Estina bande met die Gupta-sakeryk het.

Thabethe het Vrydag met die aanvang van die dag se verrigtinge gesê hy wil iets regstel. Hy het Donderdag getuig dit is die media se skuld dat die Vrede-melkplaas misluk het, maar dit is nie so nie. Hy wil dit regstel.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.