Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Estina: Só is VS-amptenaar met slap riem gevang

’n Munisipale finansiële bestuurder wat nié die huurkontrak vir die grond van die Vrede-melkplaas wou onderteken wat ’n Gupta-sakeman en spesiale raadgewer van oudpremier Ace Magashule aan hom gegee het nie, het voor die Zondo-kommissie getuig hoe hy uiteindelik met ’n slap riem gevang is.

Moses Moremi, voormalige finansiële bestuurder van die Phumelela-munisipaliteit, het Dinsdag getuig hy het geweier om ’n harde kopie van die huurkontrak te onderteken wat deur Ashok Narayan, sonder ’n afspraak na sy kantoor gebring is.

Narayan se naam het al vantevore voor die Zondo-kommissie opgeduik toe hy geïdentifiseer is as ’n voormalige direkteur van die Guptas se Sahara-maatskappy.

Sy handtekening is ook op dokumente opgemerk van ’n rakmaatskappy, Homix, waaraan R60 miljoen betaal is vir “bemiddelingswerk” om ’n kontrak van R1,8 miljard tussen die Neotel-maatskappy en Transnet te beklink.

estina-melkplaas, vrede
Die Estina-melkplaas by Vrede in die Vrystaat. Foto: Deon Raath

Moremi het Dinsdag getuig hy het voor Narayan se besoek ’n oproep van Elsabé Rockman, voorheen direkteur-generaal in die kantoor van die Vrystaatse premier, ontvang waarin hy ingelig is ’n afvaardiging van Indië sal hom kom besoek.

Huurkontrak

Moremi het getuig dat Rockman aan hom gesê het Vrede het ’n klein munisipaliteit (Phumelela) met ’n klein begroting en indien hy vrae het oor regskwessies van die huurkontrak, moet hy nie die saak verwys na private regsverteenwoordigers nie – die provinsie se staatsprokureurs sal dit hanteer.

Moremi het getuig die afvaardiging het voor hom gesit terwyl die huurkontrak wat hy moes onderteken aan hom gegee is. Moremi het blitsig deur die kontrak gegaan en dadelik ’n paar kommerwekkende punte opgemerk wat hy aan hulle genoem het. Hy wou die kontrak juis hieroor nie onderteken nie.

Hy het vroeër getuig net soos wat Narayan sonder ’n afspraak en ongenooid by hom opgedaag het, het die Vrystaatse departement van landbou in Junie 2012 onverwags by ’n raadsvergadering van die Phumelela-munisipaliteit opgedaag om ’n voorlegging te doen oor die grond wat aan Estina verhuur moes word vir die suiwelplaas-projek.

Moremi het getuig Peter Thabethe, voormalige departementshoof van die Vrystaatse departement van landbou, het dié oggend by die raadsvergadering opgedaag, die aanbieding gedoen en daarna weer padgegee. Daar is van die raadslede verwag om hierna te besluit of die grond aan Estina verhuur sou word, sonder dat daar enigiets op skrif aan hulle gegee is om te bestudeer.

“Gewoonlik behoort ’n mens formele dokumentasie te hê asook ’n formele voorlegging wat voor die tyd gedoen is. Dit was ’n resolusie waarop besluit moes word bloot op grond van die aanbieding wat gedoen is,” het Moremi gesê.

Adjunkhoofregter Raymond Zondo, voorsitter van die kommissie, het aan Moremi gevra of iemand dalk vooraf geweet het van die afvaardiging se koms.

Moremi het geantwoord hy maak die afleiding dat daar vooraf met die burgemeester, John Motaung, hieroor onderhandel is, want niemand kom tog in jou gebied en neem net oor nie. Die burgemeester moes daarvan geweet het, maar dit is beter dat hy daaroor kom getuig, het Moremi gesê.

Die konsepresolusie wat aan die raad gegee is, het aangedui dat Estina 4 400 ha sou huur. Dit is die hele plaas Krynauwslust waarop die dorp Vrede gestig is en wat ook die omliggende landbougrond insluit. Dit sou egter beteken dat die Estina-huurkontrak die hele Vrede asook die township Thembelihle insluit.

Moremi het gesê dat hy die raad ingelig het om nié die resolusie goed te keur nie. Die beskikbare landbougrond was slegs 3 300 ha.

Moremi het getuig nadat hy nie die huurkontrak wou goedkeur nie, is daar druk op hom geplaas om ’n ooreenkoms met die Vrystaatse departement van landbou te onderteken.

Motaung het aan hom gesê indien die grondgebruik-kontrak nie aangegaan word nie, sal die beleggers nie voortgaan om in die projek te belê nie, het Moremi getuig.

Die ooreenkoms is dringend, het Moremi besef, en dit onderteken.

Hy was egter nie daarvan bewus dat die eienaarskap van die plaas met dié ooreenkoms aan die provinsiale regering oorgedra sou word ingevolge ’n klousule in die ooreenkoms nie.

Die Vrystaatse landboudepartement het hierna (nadat dit die eienaar geword het van die grond) die 99-jaar-huurkontrak met die Estina-maatskappy aangegaan – wat Moremi in die eerste plek nie wou onderteken nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.