Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Etzebeth-saak: ’n Skikking op pad

’n Skikking is moontlik in die haatspraaksaak teen die Springbokslot Eben Etzebeth. Adv. Bongani Majola, voorsitter van die Menseregtekommissie (MRK), het Saterdag aan Rapport gesê die MRK is oop vir ’n moontlike skikking.

Eben Etzebeth in die Wêreldbeker-eindstryd verlede jaar teen Engeland. Foto: Getty Images

Dit volg nadat die kommissie en Etzebeth se regspan Vrydagmiddag ooreengekom het dat die rugbyspeler sy hersieningsaansoek in die hooggeregshof in Johannesburg sal terugtrek sodat die gelykheidshofaansoek kan voortgaan en op ’n “vinniger en vriendeliker” wyse afgehandel word.

As ’n skikking wel bereik word, kan dit ook uit dié hof gehou word. “Dit is normaal in litigasie en die howe moedig partye gereeld aan om geleenthede na te streef sodat ’n saak geskik kan word sonder dat dit tot ’n verhoor vorder,” sê Majola.

“Verhore is duur en tydsaam. En skikkings help partykeer om ’n saak vinniger af te handel.”

Rapport het egter betroubaar verneem Etzebeth se regspan sal nie ’n skikkingsooreenkoms oorweeg tensy die MRK sy gelykheidshofaansoek terugtrek nie. Dis omdat Etzebeth volhou hy is onskuldig. Etzebeth se regspan wou nie kommentaar lewer nie.

Die MRK se ondersoek spruit uit ’n voorval op 25 Augustus verlede jaar in Langebaan aan die Weskus waar vier mense beweer Etzebeth het hulle “h******e” genoem. Dit was kort voor die Bokke se vertrek na die Wêreldbekertoernooi in Japan.

In sy hooggeregshofaansoek het Etzebeth gevra die ondersoek moet gestaak en die haatspraakklag in die gelykheidshof moet laat vaar word.

Die MRK het in ’n verklaring gesê hy én Etzebeth meen die besluit om dié aansoek terug te trek, is “in die beste belang van al die betrokkenes”.

Majola het by navraag bygevoeg geen voorwaardes daarvoor is aan die MRK gestel nie.

“Natuurlik was die verstandhouding dat omdat die aansoek deur ’n onderlinge ooreenkoms teruggetrek is, geeneen van die partye ’n voordeel daardeur sou probeer kry het nie.”

Majola en die MRK moes verlede jaar gereeld vure doodslaan oor hul hantering van die Etzebeth-saak. Kort ná die voorval het adv. Buang Jones, waarnemende regshoof van die MRK, op ’n gemeenskapsvergadering in Langebaan gesê Etzebeth hoort in ’n tronksel en moet van poging tot moord aangekla word. Jones is hierna verbied om verder met die media oor die voorval te praat, en sy uitlatings word tans ondersoek.

In November het dit ook geblyk die MRK het die saak van rassisme na die gelykheidshof verwys ondanks waarskuwings deur die kommissie se uitvoerende hoof, adv. Tseliso Thipanyane, dat genoeg bewyse nog nie ingesamel is nie. Dié inligting is vervat in die MRK se eie hofstukke in die hooggeregshofaansoek.

Die vakbond Solidariteit het die MRK in Oktober gevra om die gelykheidshofsaak terug te trek op grond daarvan dat Jones se uitlatings die kommissie se geloofwaardigheid onder verdenking gebring het.

In ’n onderhoud met die Franse rugbytydskrif Midi Olympique in Desember het Etzebeth gesê hy glo die klaers “het ander motiewe, want dit (die bewerings) is vals”. Etzebeth speel deesdae vir die Franse klub Toulon.

Enver Wilsnach (42), Shiyaad Smith (21), Yorayda Papier (43) en Kaylee Davids (19) beweer in die gelykheidshofaansoek Etzebeth het hulle die h-woord toegesnou. Wilsnach en Smith beweer ook Etzebeth het hulle met ’n vuurwapen aangerand. Hulle eis dat Etzebeth skadevergoeding van meer as R1 miljoen aan hulle betaal, asook dat hy die bruin gemeenskap en alle Suid-Afrikaners om verskoning vra, dat hy opleiding in woedebestuur en ras-sensitiwiteit ondergaan en gemeenskapdiens in Langebaan verrig.

Die SAUK berig die vier is tevrede dat die saak nou in die gelykheidshof voortgaan. Dis nog nie bekend of Etzebeth ook strafregtelik vervolg gaan word nie.

Die nasionale vervolgingsgesag (NVG) het teen druktyd nie antwoorde daaroor gegee nie.

Die NVG het die saakdossier daaroor al twee maal na die polisie teruggestuur vir verdere ondersoek, maar dit het uiteindelik in Desember op die lessenaar van die direkteur van openbare vervolging in Kaapstad beland.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.