Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Faith, Zwane klou aan staat se huise

Twee van oudpres. Jacob Zuma se naaste vertrouelinge in die kabinet weier glo om uit hul ampshuise in Pretoria te trek en nog een het vasgeskop nadat hy reeds uit moes gewees het.

Faith Muthambi

Die departement van openbare werke het bevestig dat aanmaningsbriewe gestuur is aan David Mahlobo, voormalige minister van energie en van staatsveiligheid, Faith Muthambi, voormalige minister van die staatsdiens en administrasie, en Mosebenzi Zwane, voormalige minister van minerale bronne, waarin hulle gevra is om te trek.

Zwane en Muthambi, albei sleutelfigure in die ondersoeke na staatskaping deur die Guptas, het dit geïgnoreer en in die huise aangebly.

Mahlobo, wat as energieminister tot in die laaste week van sy ministerskap volgehou het dat Suid-Afrika ’n nuwe kernkragprogram sal moet aanpak, het gister by navraag “bewyse” gelewer dat hy reeds einde Maart uit sy ampswoning in Waterkloofrif, Pretoria, getrek het. Pres. Cyril Ramaphosa het sy kabinet op 26 Februarie geskommel.

Nuwe kabinetslede kan nie verblyf­reëlings tref nie.

Mahlobo het Rapport genooi om die ampswoning te gaan besoek. “Jy sal my nie daar kry nie,” het hy gesê.

Zuma, wat drie ampswonings in Kaapstad, Durban en Pretoria tot sy beskikking gehad het, is volgens amptelike beleid daarop geregtig om ná sy bedanking vir 60 dae in een van dié ampswonings aan te bly.

David Mahlobo

“Oudpres. Zuma het gekies om in die ampswoning in Pretoria, Ma­hlamba Ndlopfu, aan te bly. Hy het die woning op 16 April ontruim,” het die departement van openbare werke gister in ’n verklaring aan Rapport gesê.

Zuma se bedanking was op 14 Februarie.

Rapport het egter verneem dat van die ander nuwe kabinetslede in die kabinet van Ramaphosa sukkel om hul nuwe verblyfreëlings getref te kry weens die ministeriële huise wat steeds deur die afgedankte ministers beset word.

Mosebenzi Zwane

“Dis onverstaanbaar dat hulle só vasskop daarteen om te trek. Dit lyk asof dit een of ander vorm van protes of ’n uitdaging aan die gesag van die nuwe bewind in die regering is,” het ’n administratiewe beampte, wat nie geïdentifiseer wil word nie, gesê.

Mahlobo was Saterdag ontsteld en het selfs ’n karweier en ’n eiendomsagent oorreed om aan Rapport te bevestig dat hy in Maart ’n huurkontrak gesluit en einde Maart uit sy ampswoning getrek het. Hy het glo met sy gesin in ’n ander huis in Brooklyn ingetrek.

Hy is oorspronklik van Nelspruit en het eiendom in die stad, maar wil graag hê sy kinders moet hul skoolloopbane in Pretoria voltooi.

Rapport het by die departement van openbare werke navraag gedoen. Thami Mchunu, woordvoerder, het weer benadruk dat Mahlobo nog nie die huis ontruim het nie. Hy is in April nog in ’n amptelike brief gevra om te trek.

Muthambi is ook gebel om te hoor waarom sy nie trek nie. “Ek is besig,” het sy gesê en haar telefoon doodgedruk.

Meer oor:  David Mahlobo  |  Mosebenzi Zwane  |  Faith Muthambi
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.