Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
#FeesMustFall: Skade bykans R1 mjd.

Argieffoto: Jaco Marais

Skade wat protesoptogte onder die sogenaamde #FeesMustFall-veldtog die afgelope drie jaar op kampusse van universiteite en TVET-kolleges landwyd aangerig het, beloop in totaal sowat R800 miljoen.

Dit sluit nie die ekstra koste in wat universiteite weens die veldtog moes aangaan vir ekstra sekuriteit, herhaalde klasse en eksamens nie.

Die totale omvang van die finansiële skade is in ’n parlementêre antwoord deur Naledi Pandor, minister van hoër onderwys en opleiding, onthul.

Belinda Bozzoli, DA-LP en woordvoerder oor hoër onderwys en opleiding, wou vroeër in ’n parlementêre vraag by Pandor weet wat die totale monetêre waarde is van skade aan elke universiteit en TVET-kollege wat weens die #FeesMustFall-veldtog in 2015-’16, 2016-’17 en 2017-’18 aangerig is.

Luidens Pandor se antwoord het net universiteitskampusse skade van gesamentlik R786,1 miljoen gely.

TVET-kampusse het landwyd skade van gesamentlik R13,1 miljoen gely.

Die Noordwes-Universiteit het die grootste skade gely met in 2015-’16 en 2016-’17 onderskeidelik skade van R151 miljoen en R47 miljoen toe sy Mafikeng-kampus aan die brand gesteek is.

Die Universiteit van Johannesburg het in dieselfde boekjare onderskeidelik skade van R84 miljoen en R60 miljoen gely weens hoofsaaklik vandalisme aan verskeie geboue, ouditoriums, koshuise, ’n bus en gesteelde toerusting.

Die Universiteit van KwaZulu-Natal het gesamentlik skade van R100,6 miljoen gely weens geboue, koshuise en selfs ’n regsbiblioteek wat aan die brand gesteek is.

Ander universiteite wat ook betekenisvolle skade gely het, is die Universiteit van Wes-Kaapland (R63,6 miljoen), die Universiteit van Zoeloeland (UZ, R53,5 miljoen), die Tshwane-Universiteit vir Tegnologie (TUT, R47 miljoen), die Kaapse Skiereiland-Universiteit vir Tegnologie (R45,5 miljoen), die Universiteit Stellenbosch (R21,4 miljoen) en die Nelson Mandela-Universiteit (NMU) (R19,9 miljoen).

Prof. Belinda Bozzoli Foto: Verskaf

Bozzoli wou in ’n ander vraag by Pandor weet hoeveel universiteite en TVET-kolleges tot dusver in 2018 weens studente-protesoptogte ontwrig of gedwing is om te sluit.

Luidens Pandor se parlementêre antwoord is 13 universiteite in 2018 ontwrig, terwyl daar ook verdere skade gely is.

Sowat 11 TVET-kolleges is ook ontwrig.

Sowat sewe universiteit moes weens die betogings hul deure sluit, naamlik die NMU, die Sefako Makgatho-Universiteit, die Mangosuthu-Universiteit vir Tegnologie, UZ, die Walter Sisulu-Universiteit, die Durban-Universiteit vir Tegnologie en die TUT.

Die redes vir die protesoptogte het volgens Pandor gewissel van studente se ontevredenheid oor vertragings in die uitbetaling van geld deur die Nasionale Skema vir Finansiële Bystand vir Studente (NSFAS), salarisonderhandelings, die toekenning van koshuisplekke en ’n tekort aan studente-akkommodasie tot eise vir Wi-Fi in koshuise en die pryse van maaltye van diensverskaffers.

Bozzoli het Woensdag in reaksie op Pandor se parlementêre antwoorde gesê oudpres. Jacob Zuma se “haastige” en “ondeurdagte” aankondiging oor gratis onderwys in Desember 2017 het niks gedoen om die skade op kampusse te stop nie.

“As gevolg hiervan is die NSFAS nie in staat om die golf van ekstra aansoeke en kwalifiserende studente te hanteer nie met tienduisende studente wat steeds nie hul finansiering ontvang het nie, al is die akademiese jaar reeds verby die halfpadmerk. En so het die protesoptogte in 2018 eerder meer as minder geword.”

Volgens Bozzoli gaan die DA voortaan universiteite aanmoedig om strafregtelike klagte oor onwettige optrede op kampusse in te dien. Die party is verstom oor hoe die regering die finansieringskrisis tot dusver bestuur het.

Meer oor:  Skade  |  Universiteite  |  Studente
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.