Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Fidel Castro maak NV-lede warm onder kraag

Fidel Castro, oudpresident van Kuba, se lof is Donderdagmiddag in die Nasionale Vergadering (NV) besing vir sy rol as internasionale vryheidsvegter.

Michael Cardo en Zakhele Mbhele van die DA en Cheryllyn Dudley van die ACDP het wel nie saamgesing in die koor van pryssangers nie.

Die ander sprekers oor die mosie van medelye het Castro geloof as ’n vryheidsvegter, nie net in Kuba nie, maar ook internasionaal.

Hulle het Kuba se rol in Suid-Afrika se eie bevryding benadruk – veral die rol van Kuba in 1987 se veldslag by Cuito Cuanavale in Angola en Castro se bydrae om die einde van apartheid in te lei. Hy is geloof vir die hoë vlakke van geletterdheid in Kuba, die universele mediese sorg en dokters wat vir ander lande opgelei word. Castro is besing as ’n onverskrokke leier wat teen imperialisme opgestaan het.

Oor sy menseregtevergrype en verdrukking is g’n woord gerep nie, buiten vir Cardo en Mbhele.

Cardo het gesê die DA betoon sy medelye met Kuba, en die ANC wat ’n noue band met Castro en Kuba gehad het, en die “miljoene Kubane wat langer as ’n halfeeu op dié dag (van Castro se dood) gewag het”.

Die ANC-banke was toe nog stil.

Ons wil soos Kuba wees!
Floyd Shivambu

Cardo het gesê vir baie was Castro ’n revolusionêre held. “Maar dit is nie die geheelbeeld van sy nalatenskap nie. By sy huis was hy ’n verdrukker, folteraar en moordenaar . . .”

Hierop het die ANC-lede begin skree.

Cardo het gesê Castro se eie dogter het by die uitgewekenes aangesluit, later landuit gevlug en haar pa as ’n tiran beskryf het.

“Propaganda!” het iemand uit die ANC-banke geroep.

“Skandelik!” het Mandla Mandela, ANC-LP, herhaaldelik uitgeroep – verwysende na Cardo, nie Castro nie.

Cardo is staande toegejuig uit die DA-banke toe hy klaar gepraat het.

Floyd Shivambu, EFF-hoofsweep, het daarop gewys dat sy party gestig is op 26 Julie – die dag waarna Castro se revolusionêre beweging genoem is.

“Dit is wat ons in Suid-Afrika wil hê!” het hy gesê ná ’n bespreking van die suksesse in onderwys en mediese sorg van Kuba se sosialistiese bestel. “Ons wil soos Kuba wees!”

Aan die einde van sy passievolle toespraak het hy ’n Kubaanse vlag te voorskyn gebring en afgesluit met die uitroep: “Saluut!”

Dudley het gesê sy hoop Castro “vind vergifnis wanneer hy sy Skepper ontmoet”.

Sy het ook na sy skrikbewind verwys.

“Die ACDP hoop en bid die mense wêreldwyd wat daardeur geraak is, sal vergewe en dat al hoe meer mense die vryheid van die demokratiese wêreld sal omarm.”

Willie Madisha, Cope-LP, het gesê toe hy destyds lid van die ANC was, het Castro hom persoonlik gehelp toe hy in die moeilikheid was. “Ek sal dit nooit vergeet nie.”

Mbhele het gesê vir sommige was Castro ’n revolusionêr, vir ander ’n diktator, moordenaar en folteraar.

“Dit is interessant om daarop te let dat geen skepe van die VSA, Mexiko en die Karibiese Eilande ooit na dié sogenaamde modelstaat gevaar het nie,” het hy gesê.

Ons kén verdrukking – dit was Fidel Castro en sy mense wat ons daaruit gehelp het.
Naledi Pandor

Hy het gesê as swart Suid-Afrikaner en Afrikaan moet hy Kuba krediet gee, maar as gay man kan hy nie verdrukking aanvaar nie.

Naledi Pandor, minister van wetenskap en tegnologie, het die debat afgesluit.

Sy het die DA se toesprake afgemaak as “desperate pogings om ’n legendariese leier te beswadder”.

“Ons kén verdrukking – dit was Fidel Castro en sy mense wat ons daaruit gehelp het.”

Sy het daarop gewys dat daar in Suid-Afrika gereeld gesê word ons het nie hulpbronne nie, maar dat Kuba baie bereik het sonder rykdom.

“Kom ons onthou al die mense wat nog nie vry is nie,” het sy gesê. “Kom ons verbind onsself daartoe dat almal wat nie vry is nie, die ondersteuning van die parlement van Suid-Afrika sal geniet.

“Die feit dat ons hier kan staan en die nagedagtenis van Fidel Castro kan beledig, is danksy die vryheid wat hy ons help bekom het.”

Sy is staande toegejuig uit die ANC-banke.

Voor daar vir die mosie gestem kon word, het al die DA-lede, behalwe vier, die raadsaal verlaat.

John Steenhuisen, DA-hoofsweep, het gevra dat die voorsittende beampte, Grace Boroto, bepaal of daar ’n kworum – 134 LP’s vir ’n mosie soos dié – in die raadsaal is. Daar was 179 LP’s teenwoordig en die mosie is aanvaar met die DA se beswaar wat aangeteken is.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.