Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Fikile: AfriForum-bewerings ‘oorbodig, lasterlik’

AfriForum se klagte van geldwassery en korrupsie teen Fikile Mbalula, minister van vervoer, is “oorbodig” en slegs gerig op goedkoop publisiteit om die lasterlike en ongegronde beweringe wat deur sy politieke opponent bedink is, te bevorder.

AfriForum se optrede moet volgens Mbalula daarom beskou word vir wat dit is.

“ ’n Poging om Mbalula te betig, te teister en sy aandag af te lei vir politiek-ekonomiese wins en ander doeleindes. Mbalula behou sy wettige regte in alle opsigte voor,” het die minister se privaat-kantoor Dinsdagmiddag reageer in reaksie op die strafregtelike klag van geldwassery en korrupsie wat AfriForum Dinsdag teen hom by die Brooklyn-polisiekantoor in Pretoria ingedien het.

Die klag is gegrond op ’n verslag van adv. Busisiwe Mkhwebane, openbare beskermer (OB).

Monique Taute, hoof van AfriForum se teenkorrupsie-eenheid, sê AfriForum het die klag ingedien nadat “Sedgars Sport (’n vervaardiger van sporttoerusting en -klere) na bewering tussen R300 000 en R680 000 vir die Mbalula-gesin se reis na Dubai in 2016 betaal het”.

Mbalula was toe nog minister van sport.

Taute sê sy het op 9 Oktober 2017 ’n klag daaroor by die OB ingedien, “waarna die OB bevind het dat Mbalula die Grondwet en ander wetgewing met hierdie reis oortree het.

“Die OB het die nasionale vervolgingsgesag (NVG) ook beveel om ondersoek in te stel om te bepaal of die geld wat betaal is vir die reis die opbrengs van geldwassery was of nie. Die NVG het egter na AfriForum se kennis nog geen stappe teen Mbalula gedoen nie.”

Volgens haar het Mbalula ook nog nooit aansoek gedoen om die OB-verslag in ’n hof te laat hersien soos wat hy destyds belowe het nie.

“Die OB het bevind dat Mbalula na Dubai gereis het sonder om daarvoor te betaal en dat hy skynbaar geen idee gehad van hoeveel dit sou kos nie.

“Volgens die OB het nóg Mbalula, nóg sy kantoor die reëlings vir die reis behartig. Mbalula het maande ná die reis nog nie daarvoor betaal nie en toe skuldeisers begin klop, het hy sy vriend Yusuf Dockrat, direkteur van Sedgars Sport, gekontak vir ’n leningsooreenkoms van R684 000 om vir die reis te help betaal. Sedgars Sport het onder meer die uniforms verskaf wat die Suid-Afrikaanse span by die Olimpiese Spele gedra het,” sê Taute.

Mbalula het in sy verklaring Dinsdagmiddag gesê hy het kennis geneem van die “openbare vertoning van die regse drukgroep AfriForum”.

Hy “neem (egter) sterk aanstoot oor die beskuldiging van AfriForum dat die OB bevind het dat hy by geldwassery betrokke was – daar was nie so ’n bevinding nie – en die verwysing na die nasionale direkteur van openbare vervolging was vir die voltooiing van die aangeleentheid waarmee sy (die OB) besig was”.

“Die aangeleentheid het gehandel oor ’n egte korttermynlening wat ek aangegaan en ten volle terugbetaal het. Die OB het bevind dat ek dit nie moes gedoen het nie weens die persepsie van botsende belange. Daar was geen bevinding oor korrupsie teen my nie,” sê Mbalula.

Meer oor:  Afriforum  |  Fikile Mbalula  |  Geldwassery  |  Klagtes
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.