Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Fikile vra studie om Cyril se droomtrein te bou

Fikile Mbalula, minister van vervoer, sê hy wil pres. Cyril Ramaphosa se drome laat waar word en gaan daarom ’n volledige lewensvatbaarheidstudie laat doen na hoëspoed-treinverbindings tussen Johannesburg en eThekwini (Durban) en Johannesburg en Kaapstad.

Afrika se eerste sneltrein, in Marokko, haal 320 km/h.

“Dit sal ’n lewensvatbaarheidstudie wees wat insluit finansiële modelle vir die finansiering van só ’n projek,” het Mbalula Dinsdagaand laat in die parlementêre debat oor die staatsrede gesê.

Dít nadat Ramaphosa Suid-Afrikaners gevra het om van sneltreine oor die land heen te droom.

Mbalula het Dinsdag aangehaal uit ’n langtermynstrategieplan uit 2012 van die sukkelende Passasierspooragentskap (Prasa), wat tans sukkel om sy werkers te betaal terwyl voorstedelike treindienste uitmekaarval.

Prasa se 2012-planne het gespruit uit ’n besoek aan Suid-Afrika van François Lacôte, die ontwerper van Frankryk se eerste hoëspoedtreine wat in 1982 begin ry het. Lacôte het in 2011 en 2012 op uitnodiging van Prasa ’n lewensvatbaarheidstudie oor moontlike sneltreine in Suid-Afrika kom doen vir Alstom, wat Frankryk se hoëspoedtreine bou.

Lacôte was destyds Alstom se tegniese direkteur. Hy en ander ontwerpers en kundiges van Alstom het bevind dat dit glad nie so buitensporig is vir Suid-Afrika om hoëspoedtreine op sommige van sy hoofroetes te oorweeg nie, maar dat die tydsberekening nie reg was nie.

Die projek sou in 2015 in volle gang gewees het, maar is weens korrupsie en staatskaping by Prasa vertraag.

Op grond daarvan is die moontlikheid van hoëspoedtreine ingesluit by die 2012-Prasa-langtermynplan waaruit Mbalula aangehaal het. In 2012 was die regering se prioriteit egter die hernuwing van Prasa se voorstedelike treine, waarvoor R200 miljard bewillig is vir 600 nuwe treinstelle binne tien jaar.

Die projek sou in 2015 in volle gang gewees het, maar is weens korrupsie en staatskaping by Prasa vertraag.

Die aanleg by Nigel waar die treine gebou word, is nou uiteindelik op dreef en van die hipermoderne nuwe treine ry reeds tussen Mabopane en Pretoria, ondanks die benarde finan­siële posisie waarin Prasa gelaat is ná die vertrek van sy voormalige uitvoerende hoof, Lucky Montana, in 2015.

Nog twee nuwe treine is kort voor die verkiesing in Kaapstad afgelewer. Die treine word tans getoets en sal daarna in bedryf gestel word, sê James Duncan, woordvoerder van die Gibela-konsortium.

Lacôte het in Augustus 2012 ’n klein groepie Suid-Afrikaanse joernaliste te woord gestaan by die jaarlikse Innotrans-spoorwegskou in Berlyn. Hy het die sluier effens gelig oor sy bevindinge ná sy besoek aan Suid-Afrika.

“Die mees lewensvatbare afstand vir sneltreinroetes is om en by 600 km. Vliegtyd met ’n passasierstraler oor dié afstand is ’n raps meer as ’n uur, maar as jy jou reistyd lughawe toe en inboektyd op die lughawe in ag neem, duur die reis dikwels meer as twee uur.

“ ’n Hoëspoed-treindiens in ’n trein wat vinniger as 300 km/h ry en wat meestal nader is aan ’n sakekern as ’n lughawe, kan dié afstand in twee uur of selfs minder aflê. Met so ’n diens kan jy ’n treindiens aanbied teen dieselfde prys of selfs effens meer as ’n vliegkaartjie. Met vandag se tegnologie is dit die sakemodel vir ’n hoëspoed-treindiens,” het Lacôte destyds aan Rapport se verslaggewer gesê.

Die afstand op die bestaande N3-roete tussen Johannesburg en Durban is 568 km, maar die rit duur dikwels langer as vyf en ’n half uur weens swaar verkeer.

“Dit maak ’n hoëspoedtrein op dié roete op lang termyn ’n aantreklike opsie. Dit gaan duur wees en heelwat grondverskuiwing sal nodig wees in die Drakensberg-gebied. Daarom is dit nie iets wat Suid-Afrika nou behoort te oorweeg nie – die land moet eers die vernuwings van sy voorstede vlot afhandel,” het Lacôte in 2012 gesê.

Marokko het in November 2018 ’n hoëspoed-treindiens ingestel tussen Casablanca en Tangier, ’n afstand van 338 km. Dit het $2 miljard gekos. Baie Marokkane het gemeen dié geld moes liewer gebruik word om die onderwysstelsel te verbeter. Maar reistyd per trein tussen die twee stede is verminder van vier en ’n half uur tot minder as twee uur. Alstom het die treine gebou. ’n Eenrigtingkaartjie kos sowat R340.

Lacôte het destyds gesê ’n hoëspoed-treindiens op die 1 400 km van Johannesburg na Kaapstad sal met bestaande tegnologie moeilik lewensvatbaar wees. Selfs die wêreld se vinnigste trein, die Shanghai Maglev, wat teen 430 km/h die 1 200 km aflê tussen Shanghai en Beijing op ’n magnetiese spoor, sal nie met die lugdienste kan meeding nie.

“Ons sal met graagte met klante en ander rolspelers in Suid-Afrika wil gesels oor die evaluasie van ’n hoëspoed-spoorlynprojek,” het Alstom in ’n kort verklaring in reaksie op Mbalula se opmerkings gesê.

Suid-Afrika se vinnigste trein, die Gautrein, sedert 2010 in bedryf, het pas aangekondig dat hy 12 nuwe treinstelle aangekoop het om sy diens in spitstyd te verbeter.

Gautrein-pendelaars het verlede jaar vir die eerste keer verminder: met 3,8% weens ’n staking deur busbestuurders in April en Mei 2018 en geweld by Gautrein-stasies tussen minibus-taxibestuurders en Uber-bestuurders. Die Bombela-konsortium, wat die trein tussen Johannesburg, Pretoria en die O.R. Tambo-lughawe bedryf, verdedig egter die diens en is ver gevorder met planne om dit uit te brei na Roodepoort, Lanseria en Boksburg.

Meer oor:  Cyril Ramaphosa  |  Trein  |  Prasa  |  Staatsrede
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.