Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Só het Des vir Nene vervang

Vir nuwe minister van finansies is dit . . .  ANC über alles

Pres. Jacob Zuma wens Des van Rooyen, nuwe minister van finansies, Donderdag ná sy inhuldiging geluk. Foto: AP

David Douglas (Des) van Rooyen se opvallendste kenmerk is sy absolute lojaliteit aan die ANC.

Sy kennis van die ekonomie is nog ’n onbekende faktor, maar volgens mense wat die afgelope dekade saam met hom gewerk het – as ANC-LP en burgemeester – is hy wel tot die dood toe lojaal aan die party.

Van Rooyen was burgemeester van die Merafong-munisipaliteit (Carletonville, Fochville) ten tyde van geweldpleging in 2005 nadat hy voorgestel het dat dié munisipaliteit by Noordwes ingelyf word.

Inwoners van die Khutsong-township was woedend oor die voorstel – wat later deur die Munisipale Afbakeningsraad goedgekeur, maar uiteindelik deur pres. Jacob Zuma omgekeer is – en het dae lank huise, bande en motors gebrand.

Zuma het skokgolwe deur die land gestuur met sy onverwagse aankondiging Woensdagaand dat Nhlanhla Nene ná 18 maande uit sy pos verwyder en deur Van Rooyen vervang word.

Nene het Donderdag by navraag gesê hy sal voortaan “net ’n LP wees”. Die amptelike redes vir sy verwydering is nog duister.

Van Rooyen is Donderdagmiddag in ’n kort plegtigheid in die Uniegebou ingehuldig. Zuma het hom daarna gou uit die voete gemaak en geen vrae oor die aanstelling beantwoord nie.

Van Rooyen het in sy toespraak selfversekerd belowe dat hy “seker sal maak elke beleid word nagekom”.

“Ek het ’n reuse-taak wat op my wag, veral in ’n tyd dat die wêreldekonomie onder druk is,” het hy gesê. “Die ANC-leierskorps kan toegang (tot die tesourie vir mense in landelike gebiede) en ekonomiese ontwikkeling verbeter. Die tesourie is die spil van ontwikkeling en die minister en tesourie word soms in landelike gebiede as sondaars beskou.”

Sy ondersteuners én kritici stem oor een ding saam: Sy lojaliteit aan die ANC.

“Hy is baie uitgesproke, maar terselfdertyd uiters lojaal aan die party,” het ’n ANC-lid in Noordwes Donderdag gesê.

“Hy neem sy werk in sy kiesafdeling baie ernstig op. Hy is ’n hands-on persoon.”

Twee amptenare van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) het gesê Van Rooyen is ’n “tipiese ANC-LP”.

Hy neem sy werk in sy kiesafdeling baie ernstig op. Hy is ’n hands-on persoon.
'n Lid van die ANC in Noordwes.

Hulle het met hom te doen gekry in sy hoedanigheid as sweep in die staande komitee oor finansies in die parlement.

“Hy neem besluite in belang van die party. Hy sal nooit die ANC se planne dwarsboom nie,” het een gesê.

Hy het Van Rooyen se geskiktheid vir die pos skerp gekritiseer: “Ek kan my nie indink hoe hy ’n begrotingsrede voor die nasie gaan lewer nie. Des is glad nie welsprekend nie.”

Die tweede amptenaar het ­gesê Van Rooyen weet “niks van hoe om ’n land se begroting te bestuur nie”.

“’n Stamperige rit wag op Suid-Afrika met hom aan die stuur.”

Ekonome stem daarmee saam en reageer sedert Woensdagaand heftig op Nene se onverwagse verwydering. Van hulle is selfs swartgallig oor die land se ekonomiese vooruitsigte.

Hul pessimisme is gestaaf toe die rand erg teenoor ander geldeenhede teruggesak het. Dit het in die loop van die dag effe herstel, maar later weer gesteier toe die Amerikaanse effektebeurse geopen het.

Sommige senior ANC-lede het laat blyk dat hulle ook bekommerd is oor die ekonomie.

Kgalema Motlanthe het oor Van Rooyen se aanstelling gesê: “As dit die ekonomie beïnvloed, is ons almal bekommerd daaroor.”

Kgalema Motlanthe Foto: GCIS

Motlanthe het gesê dit is die president se prerogatief om “enigiemand” as minister aan te stel, maar baie Suid-Afrikaners kry tans swaar.

“Breedweg gesproke is dit ’n moeilike ekonomiese tydperk. Dit is waarom almal die Desembervakansie moet gebruik om diep na te dink oor hoe ons ons daaruit gaan kry.”

Joel Netshitenzhe, lid van die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK), het gesê hy is baie bekommerd oor die stand van die ekonomie.

Om die land se ekonomie te verbeter, benodig Suid-Afrika nou “bowenal ’n regering met die vermoë om ekonomiese ­leierskap te bied”, het hy gesê.

“Dat daar tans kommer is in die samelewing (oor die gebrek aan ekonomiese leierskap) behoort die ANC en die regering te bekommer.”

Ronnie Kasrils, voormalige ANC-minister, het sterk uitgevaar teen Zuma se besluit as ’n “absolute skandelike destabilisering van die land”.

“Dit is ’n absoluut gevaarlike en roekelose skuif wat onstabiliteit vererger en ’n reuse-vraagteken oor die president se motiewe plaas. Dit is ’n spyker in Suid-Afrika se doodskis.”

In die tyd van Nelson Mandela en Thabo Mbeki is ministers van finansies vooraf met sorg uitgesoek en gementor, het Kasrils gesê. “Wat Zuma nou doen, moet baie mense in die ANC ontstel. Hierdie sal beslis groter probleme in die ANC veroorsaak.”

 

Beeld se voorblad op 11 Desember 2015.
Die Burger se voorblad op 11 Desember 2015.
Volksblad se voorblad op 11 Desember 2015.
 

4 maniere waarop woelinge jou raak

Die rand se skielike en baie drastiese verswakking sedert Woensdagaand weens die vervanging van Nhlanhla Nene met Des van Rooyen as minister van finansies is nie net ’n politieke skaakspel nie. Dit het ’n enorme impak op gewone mense se beursies:

1.Lewenskoste: Die swak rand beteken die koste van omtrent alles styg. Dis ook die einde van die brandstofprysdalings – selfs al daal wêreldwye oliepryse steeds, sal Suid-Afrikaners geen voordeel daaruit kan trek nie omdat dit in dollar bereken word.

2. Rentekoerse: Stygende pryse beteken hoër inflasie. Hoër inflasie maak die Reserwebank senuagtig. Verwag dus dat daar ’n neiging sal wees om rentekoerse te verhoog, dalk vinniger of meer as wat vantevore voorspel is. Tot dusver was ontleders dit eens dat die Reserwebank rentekoerse baie geleidelik sou verhoog. Die rand se ineenstorting kan dié prentjie verander.

3. Belasting: Verwag belastingverhogings, méér en vroeër as wat voorspel is. Benewens dat trae ekonomiese groei die staat se belastinginkomste al onder druk plaas, blyk pres. Jacob ­Zuma vasbeslote te wees om “troetelprojekte”, soos kernkrag en ’n nuwe presidensiële straler, te finansier en om bankrot staatsondernemings, soos die Suid-Afrikaanse Lugdiens, te onderhou. Staatskuld gaan ook duurder word, veral as Suid-Afrika afgegradeer word tot rommelstatus. ’n Belasting op rykes, hoër belasting op toegevoegde waarde (BTW) en dalk selfs hoër maatskappybelastingkoerse sal dalk vir al dié dinge moet betaal.

4. Resessie: Die bose siklus van stygende pryse en hoër rentekoerse kan Suid-Afrika se ekonomie in ’n resessie laat verval. Traer besteding knou maatskappye se wins en beteken salarisse – behalwe waar dit aan die inflasiekoers gekoppel is – sal waarskynlik nie so vinnig styg nie. Werkloosheid kan toeneem.


Lees ook:

Nog ministers in JZ-visier?

Opvolgstryd speel dalk rol – Croucamp

Piet Croucamp

Kommer het Donderdag blykbaar wyd toegeneem te midde van vrese dat nóg ministers dalk in die pad gesteek kan word.

Maar sekere ontleders meen dit is onwaarskynlik dat vrese oor nóg ’n kabinetskommeling vanjaar nog waar sal word.

Dit kom nadat Des van ­Rooyen, voormalige LP, Donderdag as nuwe minister van finansies ingehuldig is ná ’n besluit wat wyd onder skoot gekom het.

Die Independent-mediagroep, wat vroeër voorspel het dat Nhlanhla Nene in die pad gesteek sou word, het ook die ­name van dr. Blade Nzimande, minister van hoër onderwys en opleiding, dr. Rob Davies, minister van handel en nywerheid, en Jeff Radebe, minister in die presidensie, genoem.

Davies het Donderdag by die parlement aan Maryna Lamprechtoor die gerugte gesê: “Ministers dien soos dit die president behaag. Wanneer die president die besluit neem, is dit sy besluit.”

Die politieke ontleder dr. Piet Croucamp van die Universiteit van Johannesburg sê die jongste verwikkelinge dui op duidelike slagordes wat in die ANC se ­leiersopvolgstryd gestel word.

Hy sê dit was makliker vir pres. Jacob Zuma om Nene die trekpas te gee omdat Nene nie ’n gevestigde steunbasis het nie.

Daar is ook betroubaar verneem die president het die besluit glo geneem sonder om ­Luthuli-huis of adj.pres. Cyril Ramaphosa te raadpleeg.

Die ANC het in ’n verklaring ná Zuma se aankondiging bloot gesê hy neem kennis en respekteer die president se besluit.

Volgens Croucamp dui dit op ’n president wat reeds voel hy word binne die konteks van die opvolgstryd geïsoleer. Sekere vakbonde binne Cosatu se indirekte steun aan Ramaphosa het die skeidslyne onlangs weer verdiep. “Radebe word met familiebande aan Ramaphosa verbind en Nzimande het die SAKP, so die president sal nie nog ’n kabinetskommeling kan maak sonder om Luthuli-huis behoorlik te raadpleeg nie.”

Gwede Mantashe, ANC-sekretaris-generaal

Hy het ook verwys na Gwede Mantashe, ANC-sekretaris-generaal, wat glo wyd bestempel word as ’n Ramaphosa-man en Davies, wat moontlik met die Agoa-ooreenkoms met die VSA te veel “neoliberale” toegewings gemaak het.

“Daar is ’n spanning binne die ANC wat opbou langs ideologiese lyne met twee groeperings . . . – dié wat bestendigheid in die private sektor voorstaan en vir neoliberales uitgekryt word en dié wat druk vir groter staatsinmenging in openbare staatsinstellings. Dit beteken dié wat wil bestee en skuld maak en dié wat dit wil beperk.”

Ook die ANC-veteraan Denis Goldberg sê daar is duidelik verdeeldheid in die kabinet oor belangrike beleidskwessies, soos hoe om infrastruktuur en openbare staatsondernemings te finansier. “Daar is ’n interne stryd in die ANC oor sekere beleidskwessies wat dan gewoonlik as persoonlike aanvalle vertolk word. Sulke verdeeldheid in die kabinet kan nie bekostig word nie en dit verklaar dalk die president se optrede.”

Ralph Mathekga, politieke ontleder, het gemaan die skuif is waarskynlik die doeltreffendste afskrikmiddel tot nog toe.

“ ’n Duidelike boodskap is uitgestuur dat daar geen ‘heilige koeie’ is nie.”

- Alicestine October

Des van Rooyen ‘was ’n ramp as burgemeester’

Des van Rooyen Foto: Lisa Hnatowicz

Des van Rooyen was die burgemeester van die Merafong-munisipaliteit (Carletonville, Foch­ville) ten tyde van die geweld in 2005 toe hy voorgestel het dat die munisipaliteit by Noordwes ingelyf word.

Inwoners van die township Khutsong was woedend oor dié voorstel – wat later deur die Munisipale Afbakeningsraad goedgekeur en uiteindelik deur pres. Jacob Zuma omgekeer is – en het dae lank huise, bande en motors gebrand.

Van Rooyen, wat by meer as een geleentheid onder klippe gesteek is, het onder erge kritiek deurgeloop en is later deur die ANC na die Nasionale Vergadering herontplooi waar hy in die staande komitee oor finansies gedien het.

Mbhazima Shilowa, voormalige premier van Gauteng, het getwiet hy het Van Rooyen as burgemeester geken en dat hy “ ’n ramp” was.

Blackie Zwart, DA-leier in die Merafong-koukus, het egter gesê Van Rooyen “was een van die beste, dalk die heel beste” burgemeester wat dié munisipaliteit nog gehad het. “Merafong se geld­sake was onder sy leiding in ’n baie beter toestand as nou.”

Volgens Zwart het Van Rooyen, wat volgens sy curriculum vitae ’n meestergraad en verskeie sertifikate in openbare en finansiële bestuur het, ’n goeie begrip van bestuurskwessies.

’n Senior ANC-LP het Van Rooyen as hardwerkend beskryf en gesê hoewel hy nie ’n lid van die party se nasionale uitvoerende komitee is nie, het hy baie geloofwaardigheid in die ANC weens onder meer sy geskiedenis as lid van Umkhonto weSizwe in die apartheidstryd.

– Pieter du Toit en Maryna ­Lamprecht

Meestersgraad ‘sal hom help’

Die meestersgraad in finansies wat Des van Rooyen, nuwe minister van finansies, onlangs verwerf het, sal ’n mens goed voorberei op senior regerings­poste.

Dit is volgens die Universiteit van Londen se webtuiste, waar Van Rooyen op 31 Desember 2013 ’n MSc in finansies (ekonomiese beleid) verwerf het.

Laura Pritsch, woordvoerder van die universiteit, het bevestig hy het dié graad met ’n afstandsonderrigprogram aan die universiteit verwerf, berig RSG.

Volgens die Universiteit van Londen se webtuiste stel ’n MSc in finansies die student in staat “om jou begrip van finansiële markte, banke en hul betrekking tot ekonomiese prestasie te verdiep”.

Ekonomiese beleid is een van drie hoofvakke waaruit ’n mens kan kies. Hierdie rigting word spesifiek voorgehou as ideaal vir nagraadse studente wat in onder meer regeringsposte met eko- nomiese beleid werk.

Volgens Van Rooyen se CV op die webtuiste People’s Assembly, wat aandui dat die inligting daar van anc.org.za kom, het hy ook ’n meestersgraad in openbare en ontwikkelingsbestuur.

Die Burger kan bevestig dat Van Rooyen dié graad aan ’n plaaslike universiteit verwerf het, maar as gevolg van die universiteit se vertroulikheidsvereistes nie watter een nie.

Van Rooyen het volgens die webtuiste verskeie diplomas en sertifikate, waaronder vir ge- vorderde ondernemingsbestuur, munisipale bestuur, raadslid-

ontwikkeling, munisipale finansies en ekonomiese en openbare finansies. Hy het ook onlangs ’n sertifikaat in beleggingsontleding en portefeuljebestuur aan Unisa verwerf.

Van Rooyen het nog nie op navrae oor sy agtergrond gereageer nie.

– Rochélle Human


Lees ook:

Hiéroor is Nene moontlik uitgeskop

Nhlanhla Nene, minister van finansies.

Daar is drie waarskynlike redes waarom pres. Jacob Zuma Nhlanhla Nene as minister van finansies in die pad gesteek het:

Die SAL

Nene het verlede week aangedui dat hy nie ’n voorgestelde wysiging van ’n transaksie tussen die SAL en Airbus sal goedkeur nie.

Nadat verliese weens dié transaksie vir die verskaffing van 20 Airbus A320-vliegtuie gely is, het Nene dié besluit aangekondig wat as ’n klap in Dudu Myeni, SAL-voorsitter, se gesig beskou kan word.

Sy is baie na aan Zuma en is ook voorsitter van die Jacob Zuma-stigting.

Kernkrag-bouprogram

Nene was onder groot druk om in te stem tot die ambisieuse kernkrag-bouprogram wat deur Zuma gerugsteun is en waarmee Suid-Afrika beplan om 9 600 MW kernkrag op te wek. Die koste daarvan word op nagenoeg R1 000 miljard geraam.

Tina Joemat-Pettersson

Nene, wat blykbaar sy bedenkinge oor die kernkrag-bouprogram gehad het, het dit duidelik gestel dat as die program onbekostigbaar vir die land en verbruikers sal wees, dit nie sal kan voortgaan nie.

Hy het wel in die medium­termynbegroting in Oktober R200 miljoen aan die departement van energie bewillig vir “voorbereidingswerk” wat die kernkrag-bouprogram betref.

Groot geheimhouding het oor dié program geheers terwyl

Zuma en Tina Joemat-Pettersson, minister van energie, verskeie reise na Rusland onderneem het. Daar was ook sprake dat ’n ooreenkoms reeds met dié land onderteken is. Die regering het dit egter ontken.

Besuinigingsmaatreëls

Nene het voortgebou op Pravin Gordhan, sy voorganger, se besparingsmaatreëls vir staatsamptenare en lede van die uitvoerende gesag wat betref reis, verblyf, partytjies en kredietkaarte.

Nene se gewildheid het blykbaar by sy politieke hoof begin afneem nadat hy begin het om die leisels styf te trek.

- Philda Essop

Lees ook:

Minister moet nie voortgaan met tender vir kernkrag, sê Cosatu

Dudu Myeni Foto: Muntu Vilakazi

Die nuut aangestelde minister van finansies moet wag met die omstrede kernkrag-tender, het die vakverbond Cosatu Donderdag gesê.

Cosatu het ondanks sy leierskap se noue bande met Zuma ’n verklaring sy “skok en ongemak” uitspreek oor die besluit om die minister van finansies te vervang.

“Die nuwe minister moet ferm en beslissend optree en nie voortgaan met die kernkragtransaksie, wat nie net onnodig en gevaarlik is nie, maar ook onbekostigbaar.

“Die ooreenkoms moet behoorlik bespreek word op ’n baie deursigtige manier. Ons kan nie nog ’n skandaal soos die wapentransaksie bekostig nie.”

Alle oë sal die volgende maand op die tender wees, wat volgens Tina Joemat-Pettersson, die minister van energie, al voor die begin van die volgende finansiële jaar in April aan die suksesvolle bieër toegeken moet wees.

Oudminister Nene het al in Augustus sy stem dik gemaak teen die beplande tender en het in ’n onderhoud gesê hy sal nie die regering se plan om 9,600MW van kernkragkapasiteit te bekom, goedkeur as dit onbekostigbaar is nie.

Die meeste waarnemers het tot dusver bespiegel dat Nene in die pad gesteek is weens sy instruksie aan Dudu Myeni, die voorsitter van SAL wat noue bande met Zuma het, om nie te peuter met die struktuur van ’n transaksie wat verband hou met die aanskaffing van nuwe Airbus vliegtuie nie.

Maar die waarde van die kernkrag transaksie,wat na verwagting tussen R650 miljard en R1000 miljard sal wees, laat die SAL-kontrak van R6 miljard na kleingeld lyk.

Gordon Mackay, die DA se woordvoerder oor energie, het Donderdag gesê Zuma se besluit om ontslae te raak van Nene hou direk verband met Nene se teenstand teen die kernkragplanne.

“Met Nene uit die prentjie is die laaste stem van rede teen die kernkragvermorsing nou stilgemaak.”

Daar word uit verskeie oorde toenemende kommer oor die kernkragplanne, wat deur die presidensie ondersteun word, uitgespreek, ook uit ANC-geledere.

Fikile Majola, die voorsitter van die portefeuljekomitee oor energie, dring al vir maande daarop aan dat daar openbare verhore oor die kernkragplanne moet wees.

Die ANC het ook in besprekingsdokumente voor sy nasionale algemene raadsvergadering gesê ’n deursigtige bekostigbaarheidstudie moet gedoen word.

Maar die tesouriedokument waarin die finansieringsmodel is, is steeds geklassifiseer en die komitee kon dit nog nie onder oë kry nie.

Majola het Donderdag geweier om kommentaar te lewer op die implikasies van Nene se afdanking.

Volksblad-spotprent: 11 Desember 2015
Beeld-spotprent: 11 Desember 2015
Die Burger-spotprent: 11 Desember 2015

Tesourie: Zuma kon nie slegter tyd kies

Pres. Jacob Zuma kon nie ’n slegter tyd vir amptenare in die tesourie gekies het om Nhlanhla Nene as minister van finansies te vervang nie.

Terwyl Suid-Afrikaners teen middel Desember hulle toenemend in ’n vakansieluim bevind in aanloop tot die feestyd, werk amptenare in die tesourie elke jaar tot net voor Kersfees volstoom voort en is weer vroeg in Januarie terug op hul pos.

Werk aan die nasionale begroting vind in dié tydperk plaas. Dit behels die voorbereiding van die ramings van nasionale besteding – ’n lywige boek wat jaarliks sowat 800 bladsye beslaan. Besonderhede van elk van die veertig nasionale departemente se begrotings, ontledings, verwagte uitgawes en bestedingstendense word onder meer in dié dokument vervat.

Al dié werk wat onder meer skakeling tussen amptenare en ministers insluit asook die insameling van inligting vir ’n dunner boek met fyner besonderhede oor die begroting moet reeds drie weke voor die tertafellegging van die begroting in die parlement afgehandel wees. Dit is omdat al dié dokumente voor die minister van finansies se begrotingstoespraak gebind en gedruk moet word.

Des van Rooyen, nuwe minister van finansies, is geskeduleer om sy begrotingsrede op 24 Februarie in die Nasionale Vergadering te lewer.

Die tydsberekening van Nene se verwydering is bevraagteken in die lig van al dié voorbereidingswerk. Een ingeligte in regeringskringe wou weet waarom pres. Zuma nie Nene se verwydering met die vorige kabinetskommeling in September aangekondig het nie.

Phumza Macanda, woordvoerder in die tesourie, het by navraag bevestig dat amptenare gedurende Desember en Januarie “taamlik besig” is.

Op ’n vraag oor watter impak die verandering van minister op hul werk gaan hê, het sy geantwoord dat die tesourie ’n “soliede instelling” is.

“Die direkteur-generaal het vroeër vandag met ons (amptenare) gepraat en gesê dit is ons taak om voort te gaan met die werk. Ons sien uit na die nuwe minister. Ons kan nie bekostig dat ons aandag afgelei word nie. Ons moet op dit fokus wat gedoen moet word.”

Macanda het toegegee dat sy verbaas was toe Nene skielik Woensdagaand uit sy pos verwyder is, maar het beklemtoon dat aanstellings in die kabinet die prerogatief van die president is.

- Philda Essop

Dié buitelanders glimlag breed

’n Vrou stap Donderdag verby Imali Express se tak in die Menlyn Park-winkelsentrum in Pretoria.Foto: Thapelo Maphakela

Buitelanders wat hul dollars Donderdagoggend vir rande ingeruil het, was in hul noppies met die slag wat hulle slaan.

’n 65-jarige Britse vrou wat sowat 24 jaar in Suid-Afrika woon, het £40 vir R924,82 gaan inruil ná haar vakansie in Engeland.

Sy sê die transaksie is nie van veel waarde vir haar nie, maar haar lewe in Suid-Afrika is vir haar van baie waarde omdat dit baie goedkoper is om hier te woon. Om ’n afstand “van sê nou maar Menlopark na Moreletapark in ’n taxi in Engeland te ry, sal jou ’n massiewe £16 kos”.

Sy is verstom oor hoe duur ’n koppie koffie en ’n sny koek op haar vakansie was.

“What’s not to like?” vra sy oor Suid-Afrika.

“Ek hou ook nie daarvan om e-tol te betaal nie, maar gelukkig gebruik ek die snelweg net so twee keer per maand.”

Pierre Mascini van Pretoria wat in die boubedryf werk, het by Bidvest in die winkelsentrum ingestap om navraag te doen omdat sy dogter, Kaylah (19), volgende jaar vir ’n jaar in Amerika gaan studeer.

Die val van die rand van Woensdagaand tot Donderdagoggend was al erg genoeg, “en elke dag wat verbygaan, word dit dalk erger. Natuurlik gaan dit my sak ruk.”

Mascini sê terwyl sy dogter in die VSA studeer, sal hy geld na haar moet oorplaas. “Met die wisselkoers gaan dit vir mense onmoontlik raak om oorsee te gaan.”

Hy sê hy sal nie verbaas wees as die wisselkoers R20 teenoor die dollar bereik nie.

Christian Kassa van Gaboen sê hy is baie gelukkig dat die rand geval het. Hy het geld by American ­Express gaan haal wat deur MoneyGram aan hom gestuur is.

“Die geld kom van Gaboen. Dit word dan in Amerikaanse dollar oorgeskakel en as ek dit kry, is dit in rand. Op die ou end beteken dit ek sit met ’n lorrie vol geld,” sê hy laggend.

- Jeanne-Marié Versluis en Marc Keppler

Grafika24

Dudu Myeni weer in omstredenheid gehul

Dudu Myeni en pres. Jacob Zuma in 2012 by die oorhandiging van ’n kerk in Nkandla. Foto: GCIS

Dudu Myeni, raadsvoorsitter van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL), is opnuut in omstredenheid gehul.

Daar word wyd bespiegel dat pres. Jacob Zuma se besluit om Nhlanhla Nene as minister van finansies te vervang onder meer verband hou met die voortslepende deurmekaarspul by die lugdiens.

Dit is bekend dat Myeni baie na aan Zuma is. Sy is ook voorsitter van die Jacob G. Zuma-stigting, wat hom volgens sy webwerf vir die maatskaplik-ekonomiese opheffing van armes beywer. Myeni en Nene het telkens koppe gestamp oor die SAL se geldsake.

Myeni is in 2009 as ’n nie-uitvoerende direkteur in die SAL-raad aangestel.

Luidens die lugdiens se jaarverslag van 2010 was sy toe besig om ’n graadkursus in sakeadministrasie te voltooi, met nog twee vakke uitstaande. Hierdie kwalifikasie het intussen uit die jaarverslae weggeval.

Volgens die verslag het sy ook ’n sekondêre onderwysersdiploma in koophandel, ’n diploma in gevorderde ondernemingsbestuur en ’n sertifikaat in leierskap en bestuursontwikkeling.

Volgens SAL se jongste jaarverslag vir 2014 is sy ook president van die Afrika-watervereniging, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Vereniging van Waterverskaffers en die Mhlathuze-waterraad.

Mhlathuze-water voorsien water aan ’n gebied van sowat 37 000 km² in KwaZulu-Natal, van die Tugelarivier tot by die Mosambiek- en Swaziland-grens.

Sy is ook ’n entrepreneur en sakevrou. Sy was die stigter en uitvoerende hoof van die konsultasie-onderneming Skills Dynamics en het voorheen in die raad van Absa gedien.

Sy was ’n raadslid van Trade & Investment KwaZulu-Natal, ’n agentskap wat handel en plaaslike belegging bevorder. Sy was ook adjunkpresident van die Zoeloelandse kamer van koophandel. In 2001 is sy deur Investec en die Sunday Tribune benoem vir ’n toekenning as vroue-entrepreneur.

In 2009 is sy deur die Suid-Afrikaanse Kamer van Koophandel benoem as sakevrou van die jaar.

- Rochélle Human

Meer oor:  Ekonomie  |  Rand  |  Zuma  |  Cosatu  |  Nene  |  Da  |  Korrupsie  |  Minister Van Finansies  |  Anc  |  Eff
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.