Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
'Middelman' Kodwa glo rojaal vergoed vir tenders

’n Maatskappy het Zizi Kodwa, adjunkminister van staatsveiligheid, na bewering omgekoop met verblyf in luukse gastehuise, betalings in sy bankrekening en hulp om ’n voertuig te koop om tenders te bekom.

Kodwa was glo ook die middelman vir betalings van tot R15 miljoen van dié maatskappy aan die ANC om kongresse in onder meer die Oos-Kaap te hou.

JOHANNESBURG, SOUTH AFRICA - MAY 25: Steven Powell
Steven Powell, hoof van die firma ENSafrica se forensiese afdeling, getuig Dinsdag voor die Zondo-kommissie. Foto: Gallo Images

Kodwa is ’n senior lid van die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) en was voorheen die party se woordvoerder.

Steven Powell, hoof van die firma ENSafrica se forensiese afdeling, het Dinsdag voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping hieroor getuig.

Volgens Powell se getuienis is betalings van R1,68 miljoen direk in Kodwa se persoonlike bankrekening gemaak.

Hy het na bewering hiermee saam verskeie kere betalings vir sy luukse verblyf in Kaapstad ontvang.

’n Bedrag van sowat R2 miljoen word met die maatskappy EOH verbind.

Powell het getuig dat die betalings wat na bewering in sy bankrekening gemaak is, glo onder meer was om hom te help om ’n voertuig van R890 000 te koop.

Na bewering is Kodwa betaal om seker te maak dat ’n konsortium, waarvan EOH ’n 40%-aandeelhouer was, ’n tender van R217 miljoen kry vir dienste wat aan die Oos-Kaapse onderwysdepartement gelewer sou word. Die tender is op 30 Maart 2016 aan die konsortium toegestaan.

Powell het getuig oor die beweerde betrokkenheid van Jehan Mackay van EOH om die betalings aan Kodwa te maak in ruil sy steun om die maatskappy glo in die toekenning van tenders te bevoordeel.

Zizi Kodwa, adjunkminister van staatsveiligheid en voormalige ANC-woordvoerder.

Voorheen is berig dat EOH, wat op die JSE genoteer is, Powell in 2018 genader het om dié maatskappy se kontrakte met staatsentiteite vir vermoedelike onreëlmatighede te ondersoek.

Powell se span het toegang verkry tot die maatskappy se sentrale databank van e-posse om sy ondersoek te doen.

Uit bankstate en e-posse wat Powell ondersoek het, blyk dit na bewering dat Kodwa se bankbalans talle kere baie laag – en in een geval in die rooi – was toe hy glo geld van Mackay gevra het.

Powell het getuig dat R50 000 per nag betaal is vir twee nagte wat Kodwa op 15 en 16 Oktober 2015 in ’n gastehuis in Nettletonstraat in Clifton, Kaapstad (wat hy as een van die eksklusiefste adresse in die land beskryf), deurgebring het. ’n Private sjef is teen R3 350 gehuur om vir hom kos te maak.

Kodwa het ook tussen 23 Desember 2015 en 5 Januarie 2016 teen ’n koste van R230 000 tuisgegaan in ’n villa in Kampsbaai, wat na bewering ook met Mackay se hulp betaal is.

Kodwa het na bewering by nog ’n geleentheid weer vir drie nagte in die gastehuis in Nettletonstraat teen ’n koste van R150 000 tuisgegaan. In dié geval is ’n private sjef se dienste vir R11 700 verkry.

Powell het getuig dat daar verskeie kere bedrae van R50 000 in Kodwa se bankrekening inbetaal is.

Hy het getuig dit blyk dat Mackay hom met betalings in sy bankrekening uitgehelp het wanneer Kodwa min geld in die rekening gehad het.

Powell het sy getuienis afgesluit deur aan Zondo te noem dat EOH onder nuwe bestuur is en dat die bestuur hom daartoe verbind het om sake in die maatskappy reg te ruk.

Die maatskappy erken daar was in die verlede, tussen 2015 en 2017, ’n klein groepie werknemers wat die invloed van “middelmanne” soos Kodwa gebruik het om te help wanneer hulle tenders wou bekom. Die maatskappy het dit by die relevante owerhede aangemeld.

Meer oor:  Zondo-Kommissie  |  Zizi Kodwa  |  Tenders
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.