Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
FIS: ‘Geen bewyse’ van geldwassery by Cyril-veldtog
Pres. Cyril Ramaphosa Foto: Jabu Kumalo

Die Finansiële Inligtingsentrum (FIS), wat aan die kern lê van die openbare beskermer (OB) se ongunstige bevindings teen pres. Cyril Ramaphosa, het nie bewyse van geldwassery ten opsigte van die president gevind nie.

In Julie het adv. Busisiwe Mkhwebane, OB, bevind dat Ramaphosa die parlement opsetlik mislei het in antwoord op ’n vraag oor ’n skenking van R500 000 aan sy 2017-ANC- presidensiële veldtog.

Mkhwebane het aanbeveel dat die veldtog vir geldwassery ondersoek word.

Ramaphosa het hom egter tot die hooggeregshof gewend om haar verslag op hersiening te neem en het aangevoer dat Mkhwebane te ver gegaan het toe sy haar ondersoek verder uitgebrei het as die R500 000-skenking.

Die FIS staan sentraal tot die dispuut, omdat die instelling inligting oor die betrokke bankrekenings aan Mkhwebane verskaf het.

Vroeër vandeesmaand het News24 berig dat Ramaphosa se prokureurs die FIS in hofstukke daarvan beskuldig het dat hy onwettig opgetree het omdat hy na bewering aan Mkhwebane meer inligting verskaf het as wat sy nodig gehad het om die skenking te ondersoek.

Die FIS het nou regstreeks toegetree en Xolisile Khanyile, FIS-direkteur, het Vrydag in ’n beëdigde verklaring wat by die hooggeregshof in Johannesburg ingedien is, ontken dat die sentrum onwettig opgetree het.

Khanyile het ook in haar verklaring gesê dat die FIS dit aan die OB se personeel oorgedra het dat daar nie bewyse van geldwassery gevind is nie, en het bygevoeg dat dít nie die FIS se mandaat is of dat dié bevinding enigsins onweerlegbaar is nie.

“Die FIS hou vol dat hy, te alle tye, in goeder trou, heeltemal neutraal en aan die hand van die FIS se standaard-bedryfspraktyk opgetree het.”

Die FIS versoek die hof in die verklaring om hom toe te laat om op 3 Oktober, wanneer die hersieningsaansoek aangehoor word, tot die saak toe te tree.

Khanyile het besluit dat die FIS die dispuut oor sy optrede in die hof moet belig.

Khanyile sê voorts in haar verklaring dat die FIS in die proses om die inligting wat Mkhwebane versoek het te verkry, ’n aantal “regulatoriese” verslae teëgekom het oor die bankrekenings ter sprake.

Adv. Busisiwe Mkhwebane, openbare beskermer.Foto: Felix Dlangamandla

Dít aan die hand van wetgewing wat banke en ondernemings verplig om verdagte transaksies by die FIS aan te meld.

Dit was op dié gronde dat die FIS die bestek uitgebrei het van die inligting wat hy uiteindelik aan Mkhwebane verskaf het, sê Khanyile.

“Die FIS ontken dat hy onwettig opgetree het deur die inligting aan die OB te verskaf.”

Khanyile het egter “benadruk” dat die FIS nie ondersoekende magte het nie.

“Dit samel in, interpreteer en ontleed inligting met die doel om regsentiteite met sulke magte by te staan om hul eie ondersoeke te doen. In dié verband is die FIS se bevindings oor die bestaan van ’n oortreding nie beslissend nie omdat dit nie ondersoek ingestel het of dit (wel) bestaan nie.

“Die gevolgtrekkings is slegs gegrond op die feit dat die bedrag van R500 000 van bronne af kom wat wettig voorkom.”

Sy sê die OB was “verplig” om haar eie ondersoek te doen nadat die FIS-verslag ontvang is. - News24

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.