Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Floyd ‘gaan nêrens heen’, sê EFF
Floyd Shivambu, adjunkleier van die EFF.

Terwyl al hoe meer stof om Floyd Shivambu, EFF-adjunkleier, opgeskop word oor die VBS Mutual Bank-skandaal, sê dié party hy sal beslis nie geskors word nie.

Shivambu se naam het vandeesweek opgeduik in ’n verdoemende verslag oor VBS wat daarop dui dat sowat R1,9 miljard van dié bank geplunder is. VBS is vroeër vanjaar onder kuratele geplaas.

Shivambu se jonger broer, Brian, het luidens die verslag R16 miljoen van die VBS ontvang, waarvan R10 miljoen na bewering na Floyd is.

Mail & Guardian het Vrydag berig oor skermgrepe van teksboodskappe wat glo tussen Floyd en ’n sakeman met twyfelagtige bande met die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) gestuur is, wat glo dui op ’n regstreekse verbintenis tussen Floyd en Brian Shivambu se sake-onderneming.

Na wat berig word, gee Floyd in dié boodskappe die bankrekeningnommer van Brian se sakeonderneming aan Lawrence Mulaudzi, ’n sakeman wat glo ’n “omstrede begunstigde” van die OBK is.

Dié rekeningnommer is luidens die berig in die naam van Grand Azania geregistreer, wat in die verslag verbind word met verdagte betalings van VBS. Grand Azania, ’n wynverspreidingsmaatskappy, behoort aan Brian Shivambu.

Adv. Terry Motau SC, wat deur die Reserwebank se omsigtigheidsowerheid aangestel is om VBS forensies te ondersoek, het in sy verslag “The Great Bank Heist” aanbeveel dat strafregtelike aanklagte teen meer as 50 mense aanhangig gemaak word.

Onder diegene wat in die verslag impliseer word, tel Florence Radzilani (ondervoorsitter van die ANC in Limpopo en burgemeester van die Vhembe-distriksmunisipaliteit), Danny Msiza (ANC-tesourier in Limpopo), die Vrystaatse Ontwikkelingstrust, Toni Mphephu Ramabulana (die Vhembe-koning), asook Brian Shivambu.

Die EFF het dit Vrydag onomwonde gestel dat daar geen planne is om Shivambu te skors nie.

Julius Malema, EFF-leier, het dié standpunt duidelik op Twitter gestel in antwoord op ’n Twitter-plasing van IG richpoplak: “Twee dae nadat die skandaal gebreek het, het @EEFSouth Africa Floyd geskors hangende ’n ondersoek, reg? Reg?”

Malema het hierop gesê: “Ons sal dit nie doen nie, jy kan daarvan vergeet.”

Ons sal dit nie doen nie, jy kan daarvan vergeet.

Boonop het die party Vrydag die heeldag foto’s van Shivambu op Twitter geplaas waar hy ’n politieke induksieprogram van die EFF in Mpumalanga aangebied het.

Intussen is berig dat pres. Cyril Ramaphosa en die res van die ANC se topses moontlik Maandag die VBS Mutual Bank-skandaal gaan bespreek.

Pule Mabe, ANC-woordvoerder, kon nie Vrydag bevestig dat dié kwessie op die sakelys van die ANC-leiers is nie, ofskoon ENCA daaroor berig het. Mabe het by navraag gesê: “Ek is seker omdat die kwessie in die openbare domein is, daar niks fout daarmee sal wees om dit te bespreek nie.”

Brian Shivambu het Donderdag in ’n verklaring ontken dat hy enige sake met VBS gedoen het en aangedui dat hy regstappe vir naamskending teen die “eienaars van die verslag” gaan doen.

Floyd Shivambu se selfoon was Vrydag afgeskakel.

Meer oor:  Vbs Mutual Bank
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.