Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Fopnuus dat nóg ’n LUR oor graad lieg, sê Winde

Die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, het gerugte dat nog ’n LUR van die provinsie oor sy kwalifikasies gelieg het as fopnuus verwerp.

Dit kom nadat ’n grafika oor Tertuis Simmers, LUR vir menslike nedersettings, versprei is.

Winde het Vrydag by navraag gesê hy is bewus van die grafika wat aandui dat Simmers ’n BCom-graad het en sê die “fopnuus-rekening” waarop dit geplaas is, is intussen verwyder.

“Ons kan bevestig dat Simmers se blad op LinkedIn en CV nie verwysings na ’n BCom-graad bevat nie.”

Winde het sy teleurstelling en woede uitgespreek dat mense op dié “bedrieglike wyse optree”.

Simmers is Donderdag aangewys om as LUR van vervoer en openbare werke waar te neem nadat Winde aangekondig het dat Bonginkosi Madikizela vir 14 dae geskors word om aantygings teen hom te ondersoek.

Die DA in die Wes-Kaap het toe ook bekend gemaak dat Albert Fritz, adjunk- provinsiale leier en LUR, as provinsiale leier in Madikizela se plek sal waarneem. Madikizela is verlede jaar tot Wes-Kaapse DA-leier herverkies en het sy naam in die hoed gegooi as een van die DA-leiers wat as burgemeesterskandidaat vir Kaapstad in die komende plaaslike verkiesings wil staan.

Intussen is berig dat Madikizela se biografie glo verkeerdelik melding van ’n BCom-graad maak. Hy het aanvanklik aan Daily Maverick gesê hy het die graad aan Unisa verwerf en toe later dat hy nie die graad voltooi het nie en dat dit verkeerdelik so aangedui word.

Hy dien sedert 2009 as LUR in die Wes-Kaap en is onder Helen Zille, voormalige premier, as LUR vir menslike nedersettings aangewys.

Die DA het Vrydag ook bevestig dat die LinkedIn-blad van Simmers, waarna in die grafiek verwys word, vals is en “baie duidelik” in die lig van die Madikizela-saak geskep is om “vals nuus oor die kwalifikasies van DA- verteenwoordigers te versprei”.

Simmers het Vrydag in ’n verklaring gesê hy het nie ’n BCom of MBA of ’n “PhD in kernfisika” nie en het nooit voorgegee dat hy het nie.

Dit word ook so in sy CV en sy ware LinkedIn-profiel aangedui, het Simmers gesê. Hy is egter bewus van twee vals profiele van hom wat plasings op sosiale media maak.

Hy het beklemtoon dat plasings op sosiale media maklik gemanipuleer kan word en gesê diegene wat nie daarin slaag om by die stembus by die “voordeur” in te kom nie, “probeer altyd om deur die syvensters of agterdeur by mag uit te kom”.

Natasha Mazzone, DA-hoofsweep, is intussen ook daarvan beskuldig dat sy op haar Wikipedia-blad voorgegee het dat sy ’n advokaat is en dit later verwyder het.

Siviwe Gwarube, die DA se nasionale woordvoerder, het Vrydag gesê dit het onder die party se aandag gekom dat wysigings aan Mazzone se Wikipedia-blad gemaak is en haar beroep later as “geen” aangewys is.

Gwarube het gesê Mazzone was glad nie bewus daarvan nie en die veranderings was kwaadwillig gemaak. Die DA veroordeel dit.

“Mazzone het nooit voorgegee dat sy ’n graad het nie en was altyd eerlik daaroor dat sy regte studeer het, maar nie ’n graad verwerf het nie. Sy het verskeie kere openlik daaroor gepraat.”

In die DA se eie ondersoeke is bevind dat Mazzone sedert verlede jaar geteiken word deur iemand wat haar besonderhede aanlyn verander. Dit is al herhaaldelik reggestel.

Mazzone het aan die Universiteit van Pretoria studeer en haar klerkskap voltooi, maar nie haar graad verwerf nie, luidens die DA se verklaring.

https://twitter.com/Natasha9Mazzone/status/1382989459290001408

Sy het Vrydag in reaksie op kritiek van Brett Herron, sekretaris-generaal van Good, gesê hy is ’n “siek en beskadigde man” wat aantygings oor haar kwalifikasies versprei op die oggend dat haar pa oorlede is.

Herron het deur die dag ’n beroep gedoen dat Mazzone ook soos Madikizela oor ’n “wanvoorstelling van kwalifikasies” geskors word of bedank.

Mazzone het getwiet Herron het besluit dat sy “te swak sal wees om sy leuens te beveg”, maar hy moet twee keer dink. “Jy is presies waar jy hoort,” het sy aan Herron, ’n voormalige DA-leier in Kaapstad, getwiet.

Cameron Dugmore, ANC-leier in die Wes-Kaapse wetgewer, het Vrydag ook in ’n verklaring daarop gewys dat Mazzone, Simmers en ander DA-leiers, wie se kwalifikasies in die twyfel getrek is, nie geskors is nie en dit aan die “dubbele standaarde van die DA” toegeskryf.

Dugmore meen dit is ironies dat die DA nie eerlik met die publiek is nie en “optree teen sekere lede en nie teen ander nie”.

Hy het gesê die ANC oorweeg dit om strafregtelike klagte in te dien teen diegene wat oor hul kwalifikasies lieg.

Herron het die vorige dag gesê hy het klagte teen Madikizela in dié verband ingedien.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.