Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Kerkdienste: Nog 'n groep gaan hof toe

Nog ’n organisasie beplan om die hof dringend te nader oor die inperkingsregulasies wat bepaal dat kerkbyeenkomste verbied word.

Michael Swain, uitvoerende direkteur van Freedom of Religion South Africa (For SA), het Woensdag bevestig die organisasie berei sy hofstukke voor en sal dit na verwagting Vrydag by die hooggeregshof in Johannesburg indien.

For SA se aansoek sal in ’n mate ooreenstem met die aansoek wat vroeër deur die Suid-Afrikaanse Nasionale Christelike Forum (SANCF) teen die verbod gebring is.

Die SANCF se dringende hofaansoek sal na verwagting op 2 Februarie in dieselfde hof aangehoor word.

Biskop Marothi Mashashane, die forum se leier, sê die saak is uitgestel nadat nog organisasies aangedui het dat hulle deel van die aansoek wil wees.

Die forum het sy aansoek Vrydag teen dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, ingedien.

Hy vra onder meer dat die regulasies irrasioneel en ongrondwetlik verklaar word.

Dit is ongelooflik dat Covid-19 blykbaar net ’n impak het op kerkdienste en nie op kommersiële en ekonomiese aktiwiteite soos casino’s, ondernemings, taxistaanplekke, winkelsentrums en dies meer gedurende die week niej.

In ’n beëdigde verklaring sê Mashashane die regering het nie met hulle gekonsulteer voordat hy die verbod op samekomste in die Staatskoerant gepromulgeer het nie.

Volgens Mashashane funksioneer kleiner kerke in arm gebiede anders as meer gevestigde gemeentes.

Arm gemeentes is onder meer afhanklik van deurkollektes en kan nie staatmaak op Zoom-dienste nie, sê Mashashane.

Bowendien kan die minister nie haar besluit wetenskaplik staaf nie, meen hy.

“Dit is ongelooflik dat Covid-19 blykbaar net ’n impak het op kerkdienste en nie op kommersiële en ekonomiese aktiwiteite soos casino’s, ondernemings, taxistaanplekke, winkelsentrums en dies meer gedurende die week nie.”

Die forum vra vir ’n verklarende bevel van die hof om kerke weer toe te laat om te aanbid, asook dat die regulasies van 11 Januarie, wat kerkbyeenkomste verbied, tersyde gestel word.

Kerke en die howe

Volgens Swain sal For SA vra dat sy aansoek saam met dié van die forum aangehoor word.

“Ons glo dat die volslae verbod irrasioneel en ongrondwetlik is, want dit is diskriminasie teen geloofsinstellings,” sê Swain.

For SA voel die regering se besluit moet in die hof getoets word sodat daar vasgestel kan word of dit in oorleg met die oppergesag van die wet is.

Die groep het geen begeerte om in ’n stryd met die regering te wees nie, maar beywer hom vir die vrye uitoefening van geloofsoortuigings.

“Aangesien die geloofsgemeenskap meer grondwetlike beskerming geniet as enige ekonomiese sektor, het ons geen ander keuse as die hof nie, terwyl ons steeds hoop dat die regering sy standpunt sal wysig of ten minste datagesteunde en wetenskaplike redes vir sy besluit sal gee,” sê Swain.

Ds. Cassie Aucamp, voorsitter van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika (GKSA) se deputate-owerheid, sê in die heersende omstandighede kan burgerlike ongehoorsaamheid nie gepleeg word nie.

Hy het uitgebrei op ’n vroeëre stelling dat die kerk nie saamstem dat burgerlike ongehoorsaamheid gepleeg word in die vorm van hofsake nie.

“Dis baie belangrik dat tussen die twee sake onderskei moet word, want om ’n regering hof toe te vat is alles behalwe burgerlike ongehoorsaamheid. Inteendeel, dit is om die remedies ter bekamping van magsmisbruik deur die regering wat deur die Grondwet daargestel is, ordelik te gebruik. Dit is juis burgerlike gehoorsaamheid. Dit is ironies dat regerings dikwels ‘staatlike ongehoorsaamheid’ pleeg deur nie die Grondwet waaraan hulle onderworpe is in die gees en letter van die wet te eerbiedig nie,” sê Aucamp.

Die GKSA sê in sy brief aan die nasionale koronabevelsraad in die geval waar die vlaag van infeksies nog geruime tyd kan voortduur, ander oplossings gevind moet word.

Derhalwe vra die kerk dat eredienste eerder as ’n noodsaaklike diens geklassifiseer word sodat die verbod opgehef kan word.

Ander hoofstroomkerke, die NG Kerk en Nederduitsch Hervormde Kerk, het aangedui dat hulle nie hofaansoeke sal bring nie, hoewel hulle hoop dat die verbod nie onbepaald sal duur nie.

LINK: https://www.netwerk24.com/Nuus/Hof/susterkerke-nie-deel-van-hofaansoek-20210118

“Indien dit (verbod) langer geld, kan die gevolge baie nadelig vir kerke wees, en sal sommige selfs permanent moet sluit,” lui die brief.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.