Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
ANC kap Fransman se sameswering-stories
Marius Fransman, voormalige ANC-voorsitter in die Wes-Kaap, het Donderdag gesê sy skorsing word gelei deur ’n ANC-faksie wat “regimeverandering” probeer dryf. Foto: Wesley Martin/ Son

ANC-leiers moet hulle onderwerp aan die party se tugprosesse en nie na samesweringsteorieë gryp om hulself te probeer vryspreek nie.

Só het Faiez Jacobs, Wes-Kaapse ANC-sekretaris, gereageer op bewerings deur Marius Fransman dat sy skorsing uit die party gelei is deur ’n “faksie wat regimeverandering probeer dryf”.

Fransman, voormalige ANC-voorsitter in die Wes-Kaap, se skorsing van vyf jaar weens wangedrag is Donderdag deur die party se nasionale tugkomitee bekragtig.

Jacobs het gesê geen ANC-leier is verhewe bo die party nie en hulle moet die gesamentlike besluite van die party gehoorsaam.

“Hy is die kans gebied om op die aantygings teen hom te reageer – nie om dit met ’n derde mag te verbind nie. Wat hy gedoen het, het hy alleen gedoen en niemand anders kan geblameer word nie.”

Volgens Fransman is dit egter duidelik dat die ANC se tugprosesse oorgeneem is deur ’n faksie “met geen ander belange as om afgevaardigdes na die ANC se nasionale konferensie te stuur nie”.

“Ek het al ’n ruk terug besluit dat as ’n leier wat vir gelykheid en regverdigheid staan, sal ek nie ’n kangaroehof vir enigiemand toelaat nie en beslis nie vir myself nie,” het hy Donderdag in ’n verklaring gesê.

Hy voer aan sy tugprosedure was van die staanspoor onder verdenking met beweerde onreëlmatighede, insluitend dat die ANC se integriteitskomitee die klaer moontlik omgekoop het om ’n klag teen hom in te dien.

Luidens die verklaring het Fransman Woensdag die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) oor sy skorsing genader.

“Ek is bly die agente van regimeverandering het hul ware kleure gewys en sal nou al die dokumente van dié saak vir die NUK kan aanbied.”

In November 2016 is hy vir vyf jaar uit die ANC geskors toe ’n tugkomitee bevind het dat hy geen berou getoon het nadat hy aan twee klagte van wangedrag skuldig bevind is nie.

Hy is ook daaraan skuldig bevind dat hy sy amp misbruik het met die doel om seksuele gunste van Louisa Wynand van Stellenbosch te kry, asook dat hy uitlatings gemaak het wat die ANC in oneer gebring het.

Wynand, wat as ’n persoonlike assistent vir Fransman sou gaan werk het, het hom met die viering van die ANC se 104de bestaansjaar na Rustenburg vergesel.

Susan Shabangu, waarnemende voorsitter van die ANC-tugkomitee, het Donderdag gesê Fransman het homself ’n tweede kans om sy saak te stel ontsê deur nie sy tugverhoor by te woon nie.

“In alle omstandighede is die tugkomitee tevrede dat Fransman nog ’n kans tot regverdigheid gebied is, wat hy besluit het om nie te benut nie.”

Fransman sê die ANC se grondwet is onder verdenking geplaas weens prosedures wat verontagsaam is “in die jagtog om my ten gunste van ’n faksie uit my posisie te verwyder”.

Meer oor:  Faiez Jacobs  |  Anc  |  Tugstappe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.