Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
#FreeZuma: skade van miljoene rande

Ondersteuners van oudpres. Jacob Zuma het miljoene rande se skade aangerig in gewelddadige protesoptogte op hoofroetes in veral KwaZulu-Natal.

Ondersteuners van oudpres. Jacob Zuma versper die hoofweg in Peacevale tussen Durban en Pietermaritzburg Vrydag. Foto: Rogan Ward

Die N3-tolkonsessie het aan EWN bevestig 23 vragmotors is by die Mooirivier-tolhek aan die brand gesteek. Teen Saterdagmiddag laat was die hele pad daar nog gesluit vir opruimingswerk.

Klippe is na voertuie geslinger en bande is aan die brand gesteek as deel van die #FreeZuma-veldtog waarin aangedring word op Zuma se onmiddellike vrylating uit die Estcourt-gevangenis. Die N3-, N2- en N7-roetes is die ergste geraak.

Gautengse Zuma-ondersteuners is in ’n wyd verspreide teksboodskap aangemoedig om 12 hoofroetes, waaronder dié om die O.R. Tambo-lughawe, te versper. Dié wat ver van hoofpaaie is, is versoek om ingange na sakekerne te versper.

Hulle is ook uitgenooi na ’n byeenkoms by Kwa Mai Mai in Johannesburg vandag.

Armes sal nie die rug op hom keer nie.

“Die polisie in ander provinsies is op ’n hoë gereedheidsgrondslag en hou dinge fyn dop te midde van voortgesette dreigemente van wydverspreide geweld,” het die polisie gister in ’n verklaring gesê.

Umkhonto weSizwe se veteranevereniging (MKMVA) en die radikale ekonomiese transformasie (RET)-faksie in die ANC het die protesoptrede georganiseer ondanks die vlak 4-inperkingsmaatreëls.

Mzwanele Manyi, woordvoerder van die Jacob Zuma-stigting, het die geweld verdedig en Nkosentsha Shezi, RET-woordvoerder in KwaZulu-Natal, het betogers geprys dat hulle uiting aan hul woede gegee het.

“Toe iemand binne die ANC pres. Zuma begin verneder het, het ons gewaarsku wat hulle doen het die poten­siaal om ’n opstand in die land te begin. Zuma het baie vir die armes gedoen en daar is geen manier dat diegene wat voordeel getrek het uit sy programme die rug op hom sal keer nie.”

Ondersteuners van oudpres. Jacob Zuma Vrydag op die hoofweg in Peacevale, Durban. Foto: ROGAN WARD

Die presidensie het op Twitter gesê misdadige elemente moet met die volle mag van die gereg getakel word en Sihle Zikalala, KwaZulu-Natalse premier, het vir kalmte gevra.

Brig. Jay Naicker, polisiewoordvoerder in KwaZulu-Natal, het gesê polisielede van oor die hele provinsie is op ’n gereedheidsgrondslag langs hoofroetes.

Op ’n vraag oor of en hoeveel bykomende polisielede ontplooi word, het hy gesê die polisie “gee nooit syfers oor ontplooiing nie”. Volgens Naicker is 27 mense in KwaZulu-Natal in hegtenis geneem weens voorvalle van opsetlike saakbeskadiging, brandstigting, plundering en die versperring en beskadiging van nasionale paaie in en om Durban.

Hope sand en stene is oor paaie gegooi, bande is gebrand en verskeie sakeondernemings in Durban is geplunder.

Craig Moralee, besturende direkteur van Skye Logistics, het gesê een van hul vragmotors met ’n sleepwa ter waarde van R4 miljoen is Vrydagaand by die Mooirivier-tolhek aan die brand gesteek. Dit was splinternuut.

’n Uitgebrande vragmotorwrak Saterdag by Mooirivier in KwaZulu-Natal. Foto: SIYABONGA SISH

Hy het getwiet hulle was besig om vier nuwe bestuurders van KwaZulu-Natal aan te stel.

Vragmotorbestuurders op die N2 in Empangeni aan die noordkus is Vrydag gedwing om die snelweg te versper voordat betogers met die vragmotorsleutels vort is. Van die sleutels is by die betogers gevind toe hulle in hegtenis geneem is.

Bheki Cele, minister van polisie, het gesê aanklagte van ekonomiese sabotasie word teen die betogers oorweeg. Brig. Vishnu Naidoo, nasionale polisiewoordvoerder, het gesê die polisie werk nou saam met die nasionale vervolgingsgesag (NVG) om aanklagte te formuleer.

“Hierdie optrede spruit uit oproepe wat deur sekere prominente persone deur die hoofstroom- en sosiale media gemaak is. Hierdie individue sal waarskynlik die mense wees wat verantwoordelik gehou sal word vir dié en enige ander toekomstige misdade.”

Die ANC het Saterdag kommer uitgespreek oor die geweld en ’n beroep gedoen dat die regte van landsburgers gerespekteer en wette nagekom word.

“Ons is bekommerd dat die verwoesting van eiendom die funksionering van die ekonomie en pogings om werk te skep en mense se lewens te verbeter, sal belemmer.”

Meer oor:  Craig Moralee  |  Jacob Zuma  |  Empangeni  |  Brand  |  Vragmotorbestuurders  |  Zuma-Geweld  |  Zuma-Vonnis  |  Kapings  |  Protesoptogte  |  Vragmotors
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.