Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
FW by staatsrede: Komitee mág optree teen EFF-LP’s

EFF-LP’s wat pres. Cyril Ramaphosa se staatsrede vroeër vanjaar ontwrig het uit teenkanting teen die teenwoordigheid van oudpres. F.W. de Klerk en Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, sal ná ’n ondersoekproses heel waarskynlik daarvoor aangekla word.

Die parlementêre komitee oor regte en voorregte het Dinsdag so besluit nadat LP’s ’n regsmening hieroor oorweeg het.

Dr. Mbuyiseni Ndlozi, EFF-LP, het egter ten sterkste kapsie teen dié besluit gemaak en selfs onregstreeks namens sy party gedreig dat dié besluit tot in die howe beveg sal word.

Die aangeleentheid spruit uit die EFF se ontwrigting van die staatsrede op 13 Februarie vanjaar. Hulle het dit vir langer as ’n uur ontwrig met herhaalde punte van orde uit teenkanting teen De Klerk se teenwoordigheid as gas van die parlement, sowel as die teenwoordigheid van Gordhan oor dié se beweerde aandeel in die Eskom-krisis.

Dr. Mbuyiseni Ndlozi Foto: Daily Sun

Die EFF-punte van orde is deur die voorsittende beampte as ongeldig bevind. EFF-LP’s het egter voortgegaan, wat daartoe gelei het dat die verrigtinge verdaag is.

Met die hervatting van die staatsrede, het EFF-LP’s die Nasionale Vergadering (NV) vrywillig verlaat sonder dat hulle beveel is om dit te doen.

Thandi Modise, speaker van die NV, het die aangeleentheid kort daarna na die komitee oor regte en voorregte verwys, wat moes bepaal of die EFF-LP’s se optrede op minagting van die parlement neergekom het.

Die komitee het ’n regsmening gevra oor of hy die jurisdiksie het om teen die betrokke EFF-LP’s op te tree.

Adv. Adiel Nacerodien het in sy regsmening wat Dinsdag aan die komitee voorgelê is, onder meer bevind dat die komitee wel jurisdiksie het oor die aangeleentheid, maar dat hy eers die betrokke EFF-LP’s moet toelaat om skriftelik op die klagte teen hulle te reageer voordat daar met die beoogde proses voortgegaan word om te bepaal of die EFF-LP’s die parlement geminag het.

Julle het reeds na die video van die voorval gekyk. As die EFF jul beginpunt is, gaan julle deur die howe in die verleentheid gestel word.

Ndlozi het egter aan die komitee gesê dat die EFF as party deur Modise na die komitee verwys is en dat dit “verkeerd” is omdat slegs spesifieke LP’s vir moontlike tugoptrede verwys kan word.

“Die saak is na my mening gesluit. Tensy die speaker spesifieke LP’s na die komitee verwys, is daar niks wat julle kan doen nie.

“Julle het reeds na die video van die voorval gekyk. As die EFF jul beginpunt is, gaan julle deur die howe in die verleentheid gestel word.”

ANC- en DA-LP’s in die komitee het egter die regsmening ondersteun en versoek dat die komitee met sy proses voortgaan.

Philly Mapulane, komiteevoorsitter, het gesê die komitee het jurisdiksie om die aangeleentheid te oorweeg. “Ons sal voortgaan en die betrokke EFF-LP’s identifiseer teen wie klagte ingedien moet word.”

• Intussen het die komitee Dinsdag ook die aanstelling van adv. Ncumisa Mayosi verwelkom om die parlementêre ondersoek te lei teen EFF-LP’s wat na bewering ook op 11 Julie verlede jaar Gordhan se begrotingsrede oor openbare ondernemings in die parlement ontwrig het. Die betrokke EFF-LP’s wat aangekla sal word, is reeds geïdentifiseer.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.