Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
FW sien donker wolke voor

Grondonteiening sonder vergoeding kom neer op die beslaglegging van bates.

Moletsi Mbeki by gister se konferensie. Foto: YUNUS MOHA-MED

Moeletsi Mbeki, politieke ekonoom, het Vrydag dié opmerking in ’n toespraak by die jaarlikse konferensie van die FW de Klerk-stigting gemaak. Vanjaar is die 30ste herdenking van oudpres. FW de Klerk se geskiedkundige toespraak van 2 Februarie 1990 waarin hy die ontbanning van vryheidsbewegings soos die ANC, SAKP en die PAC aangekondig het.

Mbeki sê sakelui het geen sekuriteit rondom hul bates nie.

“Ons sien nou die debat rondom grondonteiening sonder vergoeding. Dis ’n bedreiging vir bates. Dit toon aan die eienaars van kapitaal dat die mense wat politieke mag beheer met ’n deurhaal van die pen hul bates kan wegneem, hetsy dit grond, geboue of masjinerie is. So is die sake-elite in Suid-Afrika ontsaglik vatbaar vir batebeslaglegging . . . Grondonteiening sonder vergoeding is batebeslaglegging.”

Hy sê selfs al word daar nie op bates beslag gelê nie, kan winste ook deur middel van die belastingstelsel gevat word. “In teenstelling daarmee dat ons belastingstelsel help om die land te bou, is die belastingstelsel ’n ware bedreiging vir eiendom in die land.”

De Klerk sê op sy beurt met verwysing na die ANC se vasberadenheid om art. 25 van die Grondwet te wysig om voorsiening te maak vir grondonteiening sonder vergoeding, dat lande wat eiendomsreg beskerm, beter vaar as dié wat dit nie doen nie.

“Daar is ’n absolute korrelasie tussen die erkenning van eiendomsreg en ekonomiese welstand, die invloei van beleggings, politieke en burgerlike vryhede, menslike ontwikkeling en goeie bestuur. Die 20% van lande wat hul eiendomsreg die beste beskerm, vaar beter as dié wat hul eiendomsregte die minste beskerm in feitlik elke belangrike kategorie van burgerlike sukses,” sê De Klerk.

Suid-Afrika is volgens hom op die “verkeerde pad” wat taal en kulturele regte en ideologie betref, maar veral wat ras betref.

Die regering het volgens hom die grootse voorbeeld wat oudpres. Nelson Mandela ten opsigte van rasseversoening daargestel het, agterweë gelaat. Stereotipes soos dat wit Suid-Afrikaners “nie die regmatige eienaars” van grond is nie en dat hul relatiewe voorspoed nie vanweë harde werk, kwalifikasies en vernuf is nie, maar weens die historiese uitbuiting van ander, is volgens hom “baie gevaarlik”.

Oudpres. FW de Klerk Foto: JACO MARAIS

Hy het die doelwit van die ANC-beleid om demografiese verteenwoordiging in bykans alle sektore van die ekonomie toe te pas, gekap en gesê dit hou ernstige implikasies in. “Suid-Afrika in 2020 is duidelik op die verkeerde pad – nie na ’n nuwe dagbreek nie, maar in die rigting van baie donker en dreigende stormwolke,” sê De Klerk.

Mbeki sê Suid-Afrika se ekonomie is steeds gestruktureer soos wat die Britte dit aan die einde van die 19de eeu gestruktureer het. Dit moet dus geherstruktureer word.

Hy vra vir die herontwerp van die land se kiesstelsel en sê parlementslede het onder die huidige stelsel geen onafhanklikheid nie.

Hy het die hoë salarisse wat staatsamptenare verdien, gekritiseer en verwys na die sowat 29 000 staatsamptenare en politici wat jaarliks meer as R1 miljoen verdien. “Wat het dit tot gevolg? Dit lei tot die oordrag van rykdom vanaf die produksiedeel van die ekonomie na die verbruikersdeel van die ekonomie.”

Staatsamptenare in Suid-Afrika se salarisse is volgens hom die hoogste ter wêreld. Meer as 14% van die bruto binnelandse produk (BBP) word aan hul salarisse en dié van politici bestee, terwyl dit in die omgewing van 6% behoort te wees. “As jy dié ekstra 8% van die BBP gee vir verbruik deur staatsamptenare, bevorder jy die aankoop van invoere. As gekyk word na die topverdieners in die staatsdiens is hulle onder die grootste aankopers van invoere. Hulle almal besit viertrekvoertuie, verkieslik ’n Duitse model. Blykbaar is ons ook onder die hoogste verbruikers van whisky wat reguit van Skotland kom.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.