Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Gatslag in Kimberley toe min na Cyril wou luister

Pres. Cyril Ramaphosa se belangrikste toespraak aan ANC-ondersteuners sedert die verkiesing op 8 Mei 2019 het gister in Kimberley platgeval toe minder as ’n derde van die verwagte skare van 35 000 opgedaag het.

Pres. Cyril Ramaphosa in vrolike luim toe hy die verjaardagkoek sny. Foto: Jabu Kumalo

Die jaarlikse “8 Januarie”-toespraak, waarin die ANC-president die ANC se stigting op 8 Januarie 1912 gedenk, is in die relatief klein Tafel Lager Park-stadion gehou – voorheen Griekwapark – en geen oudpresident van die ANC het boonop die geleentheid bygewoon nie. Sedert 2010 is dié geleentheid meestal in stadions met meer as 40 000 sitplekke gehou, met die uitsondering van 2010 (Galeshewe-stadion in Kimberley – 3 000), 2018 (Buffalo City-stadion, Oos-Londen – 16 000) en vanjaar.

Tafel Lager Park het sitplek vir 12 100 mense, maar Jessie Duarte, adjunk-sekretaris-generaal van die ANC, het Vrydag nog gesê die party hoop meer as 35 000 mense sal kom om na Ramaphosa te luister, aangesien die rugbyveld self ook vir staanplek beskikbaar was. Só optimisties was die ANC dat ’n spesiale versoek gerig is om die hekke breër te maak om die toestroming van kaders te hanteer.

’n Goedgeplaaste bron sê sowat 11 500 mense het die stadion binnegekom.

11 500 mense daag op.

“Hulle het hulle misgis met hul ondersteunersbasis,” het die bron gister gesê. “Almal het gekom vir ’n partytjie, maar toe is daar nie ’n partytjie nie.”

Benewens die kroeë in losies was drank slegs beskikbaar in ’n tent waartoe net BBP’s toegang gehad het, wat ingesluit het die president van Ethiopië, Abiy Ahmed, wat verlede jaar met die Nobelprys vir vrede bekroon is nadat hy ’n vredesverdrag beklink het met sy land se aartsvyand, Eritrea.

Gewone mense se kele was egter droog.

Is dit ’n koek of ’n kis? Die ANC vier sy verjaardag. Foto: Jabu Kumalo

Carl Niehaus, ’n lid van die ANC se nasionale uitvoerende komitee en bondgenoot van die ANC-sekretaris-generaal, Ace Magashule, het ná Ramaphosa se toespraak op Twitter sy kommer uitgespreek oor die swak opkoms en twee foto’s van die half leë sportveld geplaas. “Ek sê dit as ’n lojale maar baie bekommerde lid van die ANC. Waar is ons mense? Dit was die kleinste skare wat ek nog ooit by ’n 8 Januarie-byeenkoms gesien het en hul reaksie was so gedemp. Die skrif is aan die muur, ons beter ons sokkies optrek voor dit te laat is.”

Ook die DA se leier in KwaZulu-Natal, Zwakele Mncwango, het op Twitter geskryf: “Die waarheid is dat sonder oudpres. Jacob Zuma die ANC dood is. Msholozi kan die Moses Mabhida-stadion volmaak vir sy eie verjaardag, maar Cyril Ramaphosa kan nie eens ’n klein stadion vul vir die ANC se vierings nie.”

Hulle het hulle misgis met hul ondersteunersbasis.

Plek-plek het ondersteuners wel opgedaag, maar het klagtes oor logistiek gehad. Die SAUK het berig ’n groep mense van Namakwaland, wat in vier busse opgedaag het, het geweier om die vieringe by te woon totdat die Noord-Kaapse ANC verduidelik waarom daar nie vir hulle kos en verblyf gereël is nie. Die geskil is toe bygelê voordat Ramaphosa begin praat het. Hulle het toe kospakkies ontvang.

Onder die wakende oog van meer as 1 500 polisielede in siviele drag het Ramaphosa in sy voorbereide toespraak oor nasiebou, werkskepping, Eskom en die droogte gesels, en hulde gebring aan oudpres. Robert Mugabe van Zimbabwe, wat hy beskryf het as ’n “ikoon” wat die ANC “inspireer”.

Oor die droogte wat 80% van die Noord-Kaap in sy greep het, het Ramaphosa R300 miljoen se droogtehulp aangekondig en gesê: “Ons het besluit om onmiddellik op te tree.”

’n Twiet Saterdag deur Carl Niehaus, wat skynbaar sinspeel dat dinge onder Zuma heelwat beter gegaan het.

Dít nadat Lindiwe Sisulu, minister van menslike nedersettings, water en sanitasie, Vrydag aangekondig het geld sal beskikbaar gestel word vir die boor van 96 boorgate.

Nicol Jansen, president van Agri Noord-Kaap, sê egter hoewel die R300 miljoen welkom is, dit ver tekort skiet. Volgens Jansen het die Noord-Kaap in 2018 laas ordentlike droogtehulp van die regering ontvang, toe R127 miljoen vir een distrik bewillig is.

Teen Mei 2019 is ’n behoeftebepaling deur die departement van landbou in die provinsie gedoen dat meer as R220 miljoen aan droogtehulp benodig sou word indien daar nie bogemiddelde reënval was nie. Dié syfer is in Julie 2019, nadat daar geen reënval was nie, aangepas tot R688 miljoen.

“In Desember het ons weer geen reën gekry nie, so die R300 miljoen skiet ver tekort,” sê Jansen. Dit is natuurlik ook nie “onmiddellik” bewillig soos Ramaphosa gesê het nie.

Die ANC-president het onder meer oor Eskom gesê dat dit die grootste maatskappy in Suid-Afrika is en dus nie toegelaat kan word om te misluk nie. En onmiddellik daarna het hy gesê “ons moet die beskikbaarstelling van krag bespoedig wat opgewek word deur private maatskappye”, maar ook herhaal dat die privatisering van Eskom buite die kwessie is.

“Dié wat dink ons wil Eskom privatiseer, ons gaan nie, ons gaan dit versterk sodat Eskom energie kan lewer.

“Ek het geen twyfel in my gemoed dat ons Eskom kan herstel nie.”

Later het hy egter beloof dat kragtariewe verlaag sal word en ANC-ondersteuners ook aangemoedig om hul munisipale rekenings te betaal.

Hy het sterker optrede teen staatskapers beloof en gesê die ANC se integriteitskommissie se magte sal uitgebrei word om lede te verhoor wat by bewerings van diefstal of korrupsie betrek word. Elke kader wat van so iets beskuldig word, sal ingevolge die party se 54ste nasionale konferensiebesluit voor die kommissie verskyn of aan dissiplinêre prosesse onderwerp word.

Ramaphosa het gesê groot fokus gaan geplaas word op die vermoë, verbintenis en integriteit van raadslede en munisipale amptenare.

“Stappe is reeds begin om korrupsienetwerke in munisipaliteite te stop en ons is vasbeslote dat geen staatsamptenaar of verkose amptenaar wegkom met diefstal van armes nie.”

Donderdag het Ramaphosa daad by die woord gevoeg deur Patrick Mabilo, burgemeester van die Sol Plaatje-munisipaliteit, in die teenwoordigheid van die media uit te trap oor dienslewering. “Jul paaie is ’n gemors,” het hy aan Mabilo gesê, en hom ook gekap oor ’n stinkende rommelhoop oorkant ’n ou tannie se huis in Colville.

“Ek kan sien dit gaan nie goed hier nie,” het hy aan inwoners gesê.

Intussen het die VF Plus gekla die ontplooiing van soldate in Kimberley dae voor die ANC-vierings gister was ongrondwetlik omdat slegs die president toestemming kan verleen dat soldate ingevolge art. 201 van die Grondwet saam met die polisie ontplooi kan word.

TimesLive het berig die soldate het verdwyn nadat vrae aan die Suid-Afrikaanse weermag gerig is.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.