Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Gatvol Capetonian wil betoog oor aanstellings

Die burgerlike beweging Gatvol Capetonian is op die oorlogspad oor wat hulle die departement van arbeid in die Wes-Kaap se rassistiese en onbillike arbeidspraktyke teenoor bruin mense noem.

Die beweging beweer dat die provinsiale departement van arbeid sedert Desember 2017 net swart mense in hul kantoor in Mitchells Plain aangestel het en dat hulle die demografiese samestelling van die provinsie ignoreer.

Fadiel Adams (links) woordvoerder van die beweging Gatvol Capetonian, by ’n vorige protesaksie.

Gatvol Capetonian maak hulle nou gereed vir ’n massaprotesaksie indien hul samesprekings Dinsdag met die departement se bestuur nie na wense verloop nie.

Hulle het glo die jaarlikse swierige parlementsopening in die visier indien daar nie aan hul eise gehoor gegee word nie.

“Ons doen ’n beroep op werklose bruin mense oor die Kaap heen om hulle by ons protesoptrede op Dinsdag 22 Januarie by die Mitchells Plain-burgersentrum se arbeidskantoor aan te sluit waar ons met die departement sal vergader.

“Ons soek antwoorde oor hoekom bekwame bruin mense en Indiërs nie poste in die departement kry nie,” sê Fadiel Adams, woordvoerder en organiseerder.

Volgens Adams gaan die groep eis dat alle aanstellings sedert Desember gekanselleer word en dat die onderhoude vir die poste van voor af gehou moet word.

“Ons hoor al jare lank dat bruin mense se aansoeke in die vuilisdrom beland. As ons nie antwoorde kry nie gaan ons met massaprotesaksie begin wat moontlik sal insluit dat pres. Cyril Ramaphosa se staatsrede in die parlement ontwrig word.

“Daar sal geen staatsrede wees nie. Cyril kan sy staatsrede by die lughawe in Kaapstad lewer, maar ons gaan nie meer toelaat dat staatsdepartemente ons mense ignoreer nie,” sê Adams.

Adams sê vir nou fokus hulle op arbeid, maar hulle gaan binnekort ook hul soeklig op die Wes-Kaapse departement van menslike nedersettings plaas.

Hy sê hul protesaksie volg op die “rassistiese, misdadige en onregverdige” aanstelling van sewe swart Suid-Afrikaners by die arbeidskantoor in Mitchells Plain.

“Die Wes-Kaapse departement van arbeid het meer as 50 vakatures vir kliëntediensbeamptes geadverteer en in Desember 2017 is hierdie poste oorweldigend deur swart Suid-Afrikaners gevul terwyl die departement prontuit die provinsiale demografie ignoreer. Nie een bruin persoon is by die Mitchells Plain-kantoor aangestel nie. Dit ondanks die feit dat meer as 90% van die plaaslike burgers bruin is,” sê hy.

Die groep voer aan dat die probleem nie net in Mitchells Plain voorkom nie, maar oor die provinsie heen.

“Hoe kan ons toelaat dat die departement, wat die bewaarders van die wetgewing oor indiensneming is, dit bloot ignoreer ten opsigte van die demografie?”

Die groep eis ook dat Mildred Oliphant, nasionale minister van arbeid, die provinsiale hoof van die departement moet skors en ondersoek moet instel.

Adams sê vir nou fokus hulle op arbeid, maar hulle gaan binnekort ook hul soeklig op die Wes-Kaapse departement van menslike nedersettings plaas.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.