Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Gauteng glip uit ANC se greep

’n Jaar nadat pres. Cyril Ramaphosa as president van Suid-Afrika ingehuldig is, is sy gewildheid steeds nie genoeg om die ANC se kreeftegang in Gauteng te stuit nie, wys die jongste peilings oor dié party se steun.

Pres. Cyril Ramaphosa in gesellige luim tussen die inwoners van Vosloorustydens die ANC se huis-tot-huis-veldtog. Foto: Felix Dlangamandla

Die African National Congress kan vir die eerste keer sedert 1994 beheer oor Suid-Afrika se ekonomiese hartland verloor indien ANC-steun in Gauteng nie voor die verkiesing op 8 Mei herstel nie.

Volgens die jongste peiling van die Instituut vir Rasseverhoudinge (IRV) het ANC-steun in Gauteng in Februarie op 41,6% gestaan, 12 persentasiepunte minder as wat die party in 2014 se algemene verkiesing gekry het (53,6%).

Hierteenoor wys die IRV-peiling dat die DA die steun van 32,4% van Gautengse kiesers geniet (+1,6 punte). EFF-steun staan op 18,2% (+7,9).

Townships se stemme praat hard.

Die landwye peiling is tussen 12 en 26 Februarie gedoen.

Altesaam 1 611 geregistreerde kiesers, waarvan 502 in Gauteng, het aan die peiling deelgeneem.

Landwyd was die foutspeling 3,3% en in Gauteng 3,8%.

Nog ’n peiling, dié keer ’n interne ANC-peiling waarvan die bevindinge Vrydag deur die Mail & Guardian gepubliseer is, het bevind ANC-steun in Gauteng staan op 50%.

Van “Ramaforie” in Gauteng is daar dus nog nie ’n teken nie, ses jaar nadat die party vir die eerste keer vir Ramaphosa as ’n stemwenner in dié provinsie begin beskou het.

In 2013, kort nadat Ramaphosa in Desember 2012 by die party se leiersberaad in Mangaung as Zuma se adjunkpresident in die party verkies is, het Lindiwe Zulu, minister van kleinsakeontwikkeling, gesê Ramaphosa sal help om “verlore stemme” in Gauteng terug te wen.

Terwyl die party in 2004 67,87% van die stemme in die provinsie op hom kon verenig, het sy aandeel in die totale stemme in 2014 tot 53,59% gedaal, al was Ramaphosa saam met Zuma op die lamppale, en in 2016 tot 47,54%.

’n ANC-peiling verlede maand het getoon dat Ramaphosa ’n gewildheidsgradering van 73% onder Suid-Afrikaners het.

Volgens die IRV-peiling geniet die ANC landwyd steun van 54,7%, die DA 21,8% en die EFF 12,2%.

Die IRV het ook gekyk na die invloed wat kiesersopkoms het op die partye se steunvlakke in Gauteng.

Met ’n opkoms van 77,5% groei die ANC tot 45%, die DA tot 35% en die EFF daal tot 14%.

’n Opkoms van 70,7% beteken 47% van steun vir die ANC, 37% vir die DA en 11% vir die EFF.

In 2014 was die kiesersopkoms in Gauteng 72,97%.

Gareth van Onselen, die IRV se hoof van politiek en regering, sê die ANC en die EFF is in ’n magstryd gewikkel vir die 5% van swart kiesers in Gauteng wat oorgeloop het na die EFF toe Zuma aan bewind was.

“Die ANC het verlede jaar hierdie kiesers teruggewen, maar dit lyk asof die probleme met Eskom en die Bosasa-skandaal hulle weer weggedryf het,” sê Van Onselen.

Die verkiesingsontleder Dawie Scholtz sê swart kiesers se steun vir die ANC in Gauteng het die afgelope drie verkiesings gedaal.

“In 2011 het 86% van swart kiesers in Gauteng vir die ANC gestem, in 2014 78% en in 2016 69%,” sê Scholtz.

Scholtz reken daar is ’n “effens hoë” kans dat die ANC nie die 50%-kerf in Gauteng sal haal nie.

Alles sal afhang van die opkoms in die townships omdat die voorstede oorwegend DA stem.

“Met die nasionale verkiesing in 2014 was daar ’n 75%-opkoms in die townships. Hierdie syfer het met 2016 se munisipale verkiesing tot 53% gedaal.”

Die data wys ook dat die ANC sedert 1994 nog nooit sy aantal kiesers in Gauteng vergroot het nie, sê Van Onselen.

Die ANC het in 2014 met 136 500 minder kiesers in Gauteng gesit as in 1994.

“Die provinsie is ’n manifestasie van ’n klomp probleme vir die ANC, wat die Life Esidimeni-skandaal, e-tol en beurtkrag insluit,” sê Van Onselen.

Scholtz sê dis juis voorstedelike steun wat veroorsaak dat kwessies soos beurtkrag die ANC in Gauteng harder slaan as in ander provinsies.

Meer oor:  Gauteng  |  Verkiesing 2019  |  Anc
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.