Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Gautengse ANC skors Diko ook uit party-aktiwiteite

Nóg ’n slag het Khusela Diko, pres. Cyril Ramaphosa se geskorste woordvoerder, getref nadat die ANC in Gauteng haar ook tydelik verbied het om aan enige party-aktiwiteite deel te neem.

Dit is totdat ’n ondersoek deur die spesiale ondersoekeenheid (SOE) wat haar en dr. Bandile Masuku, voormalige LUR vir gesondheid in Gauteng, by beweerde korrupsie met regeringstenders vir persoonlike beskermende toerusting (PPE) betrek, gefinaliseer word.

Khusela Diko Foto: Daily Sun

Bones Modise, ANC-woordvoerder in Gauteng, het Woensdagoggend bevestig dat die provinsiale tugkomitee die besluite van sy ondersoek teen Diko en Masuku, albei senior ANC-lede in Gauteng, onlangs aan die provinsiale uitvoerende komitee (PUK) voorgelê het.

Diko het Woensdag egter deur haar prokureur in ’n mediaverklaring teruggekap en gesê dat sy daarteen gaan appelleer en het bygevoeg dat die “volgehoue vals narratief en verslaggewing aanhou om politieke en reputasie-skade aan te rig, sowel as beduidende skade aan haar loopbaan”.

Sy benadruk daarin ook haar onskuld en meen dat die tugkomitee se besluite weens haar appèl ook intussen opgeskort moet word.

Volgens Modise is van die tugkomitee se besluite dat Diko en Masuku intussen hul spesiale verlof rakende alle ANC-aktiwiteite moet verleng totdat die SOE-ondersoek afgehandel is.

Hy meen dat die provinsiale uitvoerende komitee die ANC-tugkomitee se besluite moet toepas.

Hy sê dat Diko en Masuku teen dié besluit na die nasionale ANC-tugkomitee kan appelleer.

Indien enigiets was hierdie proses niks anders nie as ’n voortdurende oëverblindery om haar te dwing om opsy te staan terwyl van haar eie PUK-kamerade daarna streef om hul politieke heksejag op ongegronde mediabeweringe voort te sit.

Diko is sedert Julie 2020 op spesiale verlof as presidensiële woordvoerder weens die SOE-ondersoek na ongerymdhede met die toekenning van PPE-tenders deur die Gautengse departement van gesondheid.

Diko se nou oorlede man, hoofman Thandisizwe Diko, word by die ondersoek betrek nadat sy maatskappy, Royal Bhaca Projects, twee tenders van R125 miljoen van die departement gekry het vir die verskaffing van PPE. Die kontrak is intussen beëindig.

Masuku, wat weens die skandaal afgedank is, was glo ’n nabye vriend van die Diko-egpaar.

Thembi Siweya, adjunkminister in die presidensie, het in Maart aan die parlement gesê dat die presidensie se interne tugproses teen Diko ook nog voortduur.

Diko het Woensdag deur haar prokureur, Avela Nontso van die firma Avela Nontso Attorneys Ingelyf, gesê dat sy die provinsiale tugkomitee en PUK op 12 April vanjaar skriftelik ingelig het dat sy na die nasionale tugkomitee gaan appelleer omdat die bevindings teen haar “irrasioneel” is. Haar appèl is reeds ingedien.

Haar gronde vir appèl is onder meer dat daar geen ANC-reëls of -praktyk is wat ’n verantwoordelikheid plaas op ANC-lede om hul gades se sakebelange te verklaar nie, terwyl daar ook geen ANC-reël of -beleid is wat gades van ANC-lede verbied om sake met staatsentiteite te doen nie.

“Khusela Diko het nie enige wet oortree of enige onetiese, onwettige of immorele daad gepleeg nie,” lui haar verklaring.

Sy voer ook aan dat geen staatsagentskap, insluitende die SOE en nasionale vervolgingsgesag, al so ’n bevinding teen haar gemaak het nie.

Volgens haar is dit ook onmoontlik om nie van mening te wees dat sommiges die “ongegronde mediabeweringe” vir “skandelike” politieke doeleindes teen haar wil gebruik nie.

“Indien enigiets was hierdie proses niks anders nie as ’n voortdurende oëverblindery om haar te dwing om opsy te staan terwyl van haar eie PUK-kamerade daarna streef om hul politieke heksejag op ongegronde mediabeweringe voort te sit.”

Sy wag nou vir die reaksie op haar appèl.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.