Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Gautengse ANC wil betoog oor e-tol

Die ANC in Gauteng gaan sy pogings om e-tol geskrap te kry verskerp deur ’n reeks betogings in Oktober.

Dié besluit is die afgelope naweek glo geneem op ’n vergadering van sy provinsiale uitvoerende komitee.

As daar geen antwoord is op hul eis dat die invordering van e-tol op die Gautengse hoofwegverbeteringsprojek (GFIP) afgeskaf word nie, gaan hulle begin betoog, het die Gautengse ANC Donderdag in ’n verklaring gesê.

Die provinsiale uitvoerende komitee het hom daartoe verbind om sy veldtog teen e-tol op Gautengse paaie te verskerp deur voortdurende gesprekke met die nasionale leierskap van die party te voer, en met uitgebreide betogings in Oktober, die maand van vervoer, as daar geen vordering gemaak word nie.

Wayne Duvenhage, hoof van die Organisasie teen Belastingmisbruik (Outa) en Fikile Mbalula, minister van vervoer, Donderdag op ’n mediakonferensie oor die toekoms van e-tol in Gauteng.Foto: Bonolo Selebano

Fikile Mbalula, minister van vervoer, het Woensdag gesê die skrap van e-tol is een van die opsies wat oorweeg word in die regering se poging om ’n oplossing vir die probleem te kry.

Hy moet saam met Tito Mboweni, minister van finansies, en David Makhura, premier van Gauteng, teen einde Augustus ’n plan van aksie aan pres. Cyril Rampahosa hieroor voorlê.

Mbalula het Donderdag gesê hulle het egter twee weke langer nodig om met ’n plan vorendag te kom.

Die Gautengse ANC het ook gesê hulle wil met die ANC in Luthuli-huis praat oor die kwessie dat Makhura ’n manlike LUR moet laat gaan om ’n vrou in sy plek aan te stel.

Dit het gevolg nadat die ANC-vroueliga daarop aangedring het dat daar geslagsverteenwoordiging van 60-40 moet wees in die provinsiale uitvoerende raad, met vroue in die meerderheid.

Die manlike LUR’e in die provinsie sluit in Jacob Mamabolo, (paaie en vervoer), Panyaza Lesufi (onderwys) dr. Kgosientsho Ramokgopa (ekonomiese ontwikkeling en landbou), dr. Bandile Masuku (gesondheid) en Legobang Maile (menslike nedersettings).

Die vroue is Mbali Hlophe (sport, kuns, kultuur en ontspanning), Tasneem Motara (infrastruktuurontwikkeling en eiendomsbestuur), Thuliswa Nkabinde-Khawe (maatskaplike ontwikkeling), Faith Mazibuko (gemeenskapsveiligheid) en Nomantu Nkomo-Ralehoko (finansies).

Meer oor:  Fikile Mbalula  |  E-Tol
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.