Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Gautengse departement kom nie verpligtinge na met betalings

Die Gautengse gesondheidsdepartement het nie gehoor gegee aan die regering se direktief dat diensverskaffers binne 30 dae betaal moet word nie, en skuld daarom steeds R1,209 miljard aan 823 maatskappye vir goedere en dienste wat gelewer is.

Dit is volgens ’n geskrewe antwoord van die Gautengse LUR vir gesondheid, Bandile Masuku, op ’n vraag van Jack Bloom, DA-lid van die wetgewer en dié party se woordvoerder oor gesondheid.

Bandile Masuku
Bandile Masuku, Gautengse LUR vir gesondheid. Foto: Gautengse departement van gesondheid

Die skuld aan die maatskappye is teen die einde van die boekjaar op 31 Maart vanjaar. Die betalings aan die diensverskaffers was reeds 90 dae agterstallig, hoewel die Wet op die Bestuur van Openbare Finansies duidelik is dat die geld binne 30 dae betaal moet word.

Masuku het ook geantwoord dat net 68% van die diensverskaffers binne die vereiste 30 dae betaal is teen die einde van die 2019-’20-boekjaar.

Hy het bygevoeg dat die departement haas sal maak met al die uitstaande betalings voor die einde van die 2020-’21-boekjaar.

“Die departement het voorheen probleme met sy kontantvloei ondervind, wat daartoe gelei het dat daar nie geld beskikbaar was om sy verpligtinge betyds na te kom nie.

“Die meeste betalings wat nog nie teen 31 Maart gedoen is nie, is waar die departement betalingsooreenkomste met die diensverskaffers aangegaan het. Die 2020-’21-boekjaar is die laaste jaar vir die afbetaling ingevolge hierdie ooreenkomste,” sê Masuku.

Bloom het Maandag in ’n verklaring gesê die versuim van die provinsiale regering om sy diensverskaffers betyds te betaal het ’n direkte uitwerking op hul welstand en dié van hul gesinne.

“Dit is teleurstellend dat so baie maatskappye steeds sulke groot bedrae geld geskuld word deur hierdie departement wat berug is vir sy swak finansiële bestuur. Sommige van hierdie maatskappye kan gedwing word om toe te maak of werknemers af te lê.”

Die gesondheidsdepartement kon nie onmiddellik op navrae reageer nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.