Panyaza Lesufi is deur David Makhura, Gautengse premier, geloof vir sy werk as LUR vir onderwys in die provinsie.
Makhura het Donderdag op die beëdigingseremonie van sy uitvoerende raad in Johannesburg Lesufi gelyk gestel aan ’n veelsydige sokkerspeler wat in enige posisie kan speel. Lesufi is op die seremonie as die nuwe LUR vir finansies beëdig.
“Ek ontvang baie klagtes omdat Lesufi by onderwys weg is omdat hy fantastiese werk gedoen het. Nou nog vra ek myself af of dit die regte keuse was om hom te skuif,” sê Makhura.
“Ek is egter seker Lesufi sal goeie werk in die tesourie doen,” sê hy.

Panyaza Lesufi word Donderdag in Johannesburg as LUR vir finansies beëdig. By hom staan regterpresident Dunstan Mlambo. Foto: Christiaan du Plessis
Lesufi is in sy vorige termyn uit sekere geledere gekritiseer weens sy versuim om genoeg skole te bou, asook sy uitsprake oor Afrikaanse skole.
Lesufi wou in sy termyn Afrikaans-enkelmediumskole wat onderbenut word se toelatingsbeleid oor taal verander sodat meer Engelse leerlinge toegang tot gehalte-onderwys kry.
Hy het onlangs die wenkbroue laat lig toe hy op ’n nuuskonferensie gesê het hy verstaan nie hoekom ouers nog vir Afrikaanse onderwys baklei nie aangesien “daar nie meer Afrikaanse universiteite oor is nie”.
Nomantu Nkomo-Ralehoko is op dieselfde seremonie as die nuwe LUR vir onderwys beëdig.
Makhura sê hy is vol vertroue dat sy, nes Lesufi, goeie werk sal doen.