Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Gautengse tenders: Amptenare, firmas ondersoek
Bandile Masuku, Gautengse LUR vir gesondheid. Foto: Bonolo Selebano

Talle amptenare van die Gautengse departement van gesondheid kan dissiplinêr en strafregtelik vervolg word weens beweerde korrupsie met die verkryging van R1 miljard se persoonlike beskermende toerusting (PPE) te midde van die koronaviruspandemie.

En hulle moenie dink hulle kan vervolging vryspring deur te bedank nie, sê David Makhura, Gautengse premier.

Dr. Bandile Masuku, die departement se LUR, is Donderdag vir minstens vier weke op spesiale verlof geplaas en 102 ondernemings wat van die koronavirus-verwante tenders gekry het, word ondersoek.

Makhura het Donderdag op ’n mediakonferensie van die Gautengse provinsiale beheerraad benadruk dat nie al die ondernemings wat ondersoek word, by ongerymdhede betrokke was nie.

Ek herhaal ook wat ek reeds op 5 Junie gesê het – amptenare moenie dink hulle spring dissiplinêre prosedures vry as hulle bedank nie.
David Makhura

“Ek herhaal ook wat ek reeds op 5 Junie gesê het – amptenare moenie dink hulle spring dissiplinêre prosedures vry as hulle bedank nie.

“Ons sal die skuldiges strafregtelik vervolg en hulle sal boet,” sê Makhura.

Makhura sê ’n ondersoek het reeds in April op ongerymdhede met die toekenning van die tenders gedui. ’n Forensiese span en die spesiale ondersoekeenheid (SOE) is in Mei aangestel om die beweerde bedrog en korrupsie te ondersoek.

Makhura sê alle betalings aan verskaffers is gestop toe hulle van die ongerymdhede bewus geword het.

Hy sê ondernemings wat nie by ongerymdhede betrokke was nie, sal eers ná die ondersoek betaal word.

Bonolo Selebano berig een van die ondernemings wat ondersoek word vir ’n tender van R125 miljoen, is Royal Bhaca Projects van koning Madzikane II Thandisizwe Diko. Sy vrou, Khusela Diko, is pres. Cyril Ramaphosa se woordvoerder.

Khusela, Masuku en sy vrou, Loyiso Lugayeni-Masuku, burgemeesterskomiteelid vir korporatiewe en gedeelde dienste in die Johannesburgse metroraad, sal deur die ANC se integriteitskomitee ondersoek word.

Khusela en Lugayeni-Masuku is albei ook op spesiale verlof. Jacob Mamabolo, Gautengse LUR vir vervoer, neem in Masuku se plek waar.

Makhura wil nie kommentaar lewer op ’n spesifieke onderneming se betrokkenheid by die beweerde korrupsie alvorens die ondersoek nie afgehandel is nie.

“Dit is vir my baie hartseer dat al Masuku se harde werk tydens die pandemie nou deur die bewerings oorskadu word. Dit is ’n groot verleentheid vir Gauteng en ondermyn al die werk wat die provinsie sedert 2015 doen om korrupsie hok te slaan,” sê Makhura.

Hy het bygevoeg dit is “uiters hartseer dat geld wat bedoel was om mense te help, so gesteel word”.

Makhura sê ander departemente in die regering sal ook ondersoek word.

Die Menseregtekommissie het intussen gesê hy sal ook die beweerde korrupsie in die provinsie ondersoek.

Dennis Delport berig die kommissie se Buang Jones het Masuku se verlof verwelkom en gesê die “ondersoek kan volstoom voortgaan” en dat “bedrog menseregte skend”.

Meer oor:  Bandile Masuku  |  David Makhura  |  Tenders  |  Ampternare  |  Koronavirus  |  Ondernemings  |  Korrupsie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.