Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Gavin Watson het destydse president gekaap – Agrizzi

Dit was baie duidelik dat Gavin Watson (stigterslid van Bosasa) die destydse president gekaap het en dat die hoogste vlak van die regstelsel in Suid-Afrika gekaap was. Daarom het hy nie dadelik met sy bewerings oor korrupsie vorendag gekom nie, het Angelo Agrizzi, voormalige bedryfshoof van Bosasa, Donderdag in kruisondervraging voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping getuig.

Gavin Watson

Agrizzi het Donderdag, gekoppel aan suurstof in sy studeerkamer, via ’n videoskakel voor die kommissie vrae geantwoord wat adv. Reg Willis, regsverteenwoordiger vir die sakeman Kevin Wakeford, in kruisondervraging aan hom gestel het.

Willis het dit aan hom gestel dat hy in Desember 2016, toe hy in ’n hospitaalbed gelê het, besluit het om oop kaarte te speel. Waarom het hy daarna tot 2017 gewag en nie dadelik die Valke gekontak nie? wou Willis weet.

Agrizzi het gesê hy gaan dit in diepte antwoord. “Ons het baie hard probeer om met mense te praat. Dit was baie duidelik Gavin Watson het die president van daardie tyd (oudpres. Jacob Zuma) gekaap.”

Hy het bygevoeg die hoogste vlak van die regstelsel in Suid-Afrika was ook in daardie stadium gekaap.

“Ons het besonderhede aan die Valke verskaf. Daar was geen optrede nie. Ons het probeer om dit aan almal bekend te maak. Ons het besluit om ’n mediaverklaring uit te reik,” het Agrizzi getuig.

Hy het gesê hulle is daarna verseker dat die Zondo-kommissie van ondersoek die regte is pad om te loop.

Volgens Agrizzi het Gavin Watson se broer, Valence Watson, asook Jared Watson, (Gavin Watson se broerskind), in ’n stadium aan sy voordeur geklop en hom R50 miljoen aangebied vir die “fluitjieblasers om weg te gaan”.

Volgens Agrizzi was sy reaksie dat hulle moet dink dat hy 'n idioot is.

Angelo Agrizzi getuig Donderdag met ’n videoskakel voor die Zondo-kommissie. Foto: Skermgreep
Ek is nie meer ’n rassis nie, ek het my les geleer.

“Ek het gesê ek sal nie weer my siel verkoop nie,” het Agrizzi getuig.

Hy het aangevoer hy het ook na Glynnis Breytenbach gegaan vir raad en dat sy hom die naam gegee het van ’n “agterstraat-prokureur” wat hulle R1,5 miljoen gekos en hul “harte gebreek" het. Hy het nie die datum verskaf van wanneer hy na bewering na Beytenbach gegaan het nie.

Dit is hierna dat die Zondo-kommissie geluister het, volgens Agrizzi.

Agrizzi het ook vroeër in die dag, in antwoord op Willis se vrae, gesê: “Ek is nie meer ’n rassis nie, ek het my les geleer.”

Willis wou by hom weet of hy staan by álles wat hy voor die kommissie getuig het. Soos onder meer sy getuienis dat hy ’n rassis is. Hierop het Agrizzi geantwoord dat hy hulp daarvoor gekry het. Hy kan egter nie net ja of nee antwoord op die vraag nie.

Adjunkhoofregter Raymond Zondo, voorsitter van die kommissie, het tussenbeide getree en Agrizzi gevra of dit nie waar is dat hy in sy getuienis erken het dat hy in die een of ander stadium ’n rassis was nie. Hierop het Agrizzi geantwoord hy het dit erken en gesê hy was in daardie stadium ’n rassis en dat hy diep jammer is daaroor. Hy het erken dat hy rassistiese dinge gesê het en hy werk steeds elke dag daaraan.

Hy het aan die einde van die kruisondervraging sy dank teenoor die kommissie uitgespreek. “Ons het die regte ding gedoen. Ten spyte van wat met ons gebeur het. Ons het dit om die regte rede gedoen,” het Agrizzi getuig.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.