Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Gayton wil mense se 'oë oopmaak' met boek

Cyril (Ramaphosa) sal die slegste ding wees wat met die land kan gebeur en hy wat Gayton McKenzie is, hét respek vir pres. Jacob Zuma.

So skryf McKenzie in sy jongste boek, Kill Zuma, By Any Means Necessary.

Die voormalige tronkvoël, sakeman en voorsitter van die Patriotic Alliance (PA) skryf in sy voorwoord hy het aanvaar daar is nie veel wat hy kan doen om die ANC se besluite (in die leiersverkiesing) te beïnvloed nie, maar hy wil nie later gekonfronteer word en dan moet erken hy het geweet, “maar niks gesê nie”.

Gayton McKenzie Foto: Muntu Vilakazi/City Press

“Toe ek aanvanklik die voorblad op Twitter gelaai het, het ek boodskappe gekry van mense wat gedink het ek wil die president doodmaak. Dis die laaste ding waaraan ek dink,” skryf hy.

Die boek, met sy omstrede titel, handel hoofsaaklik oor hoe verskillende agentskappe Zuma as hul vyand geïdentifiseer het, skryf hy.

Met dié boek wil hy “lesers se oë oopmaak oor die diepste waarhede oor Suid-Afrika”. Hy sê dié waarhede kan al die aannames omverwerp waarop Suid-Afrikaners hul wêreldbeskouing vestig.

Volgens McKenzie is een so ’n aanname dat “Jacob Zuma ons grootste probleem in die land is”.

“Soos jy in die boek sal lees, dink ek nie hy is volmaak nie . . . maar Jacob Zuma het nooit die stryd uitverkoop nie. Hy het nooit die ANC uitverkoop nie.”

Volgens McKenzie sal Ramaphosa in die presidentstoel aanvanklik veral vir swart mense nadelig wees, maar oor lang termyn ook vir wit mense wat hoop hy gaan hulle van die “Zuma-gemors” kom verlos.

Die voorblad van Kill Zuma, By Any Means Necessary.

Hy vermoed die ANC gaan “weer eens die media verwar” en dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, met haar toewyding aan radikale ekonomiese transformasie, verkies.

“Tog sal Cyril dan net nog vyf jaar wag vir sy volgende kans. Daar is daarom geen beter tyd as nou om hierdie boek uit te reik nie,” skryf hy.

Volgens McKenzie strek die boek veel verder as wie die nuwe president gaan wees. Die inhoud van die boek is die “hart van wat die nuwe Suid-Afrika beteken en wat ons verstaan as die magsbalans in die land”.

Netwerk24 het in September berig McKenzie wou Sunday Times vir R100 miljoen dagvaar weens ’n berig dat McKenzie en Kenny Kunene, die “nuwe Guptas van Suid-Afrika”, hand om die blaas is met ’n Russiese oliemaatskappy danksy hul vriendskap met Zuma. Daar is ook berig McKenzie is ’n Russiese spioen.

McKenzie het toe gesê hy weier om ’n wapen in die ANC se faksie-oorloë te word.

Kill Zuma, By Any Means Necessary sal van Donderdag af beskikbaar wees en die boek sal na verwagting in die volgende week amptelik uitgereik word, sê Kunene, mede-eienaar van ZAR Empire, uitgewer van die boek.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.