Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Gebrek aan geld, personeel kniehalter intelligensiediens

Hoewel vordering gemaak word om ’n nuwe intelligensiediens vir Suid-Afrika te skep, belemmer ’n gebrek aan personeel, asook finansiële en tegnologiese kapasiteit, die Staatsveiligheidsagentskap (SVA) om voldoende op plaaslike en internasionale bedreigings te reageer.

So sê Ayanda Dlodlo, minister van staatsveiligheid, in ’n parlementêre antwoord wat Donderdag uitgereik is.

Ayanda DlodloFoto: GCIS

Dit volg nadat Zukiswa Ncitha, ’n ANC-LP, in ’n parlementêre vraag by haar wou weet wat die belangrikste suksesse en probleme is met die prosesse om die SVA te hernu, herorganiseer en herposisioneer.

Haar vraag het gekom nadat pres. Cyril Ramaphosa kort nadat hy staatshoof geword het, belowe het dat die intelligensiestrukture herbou sal word.

Hy het kort daarna ’n hersieningspaneel onder leiding van oudminister Sydney Mufamadi hiervoor aangestel. Dié paneel het onder meer verlede jaar bevind dat faksionalisme in die SVA in die meer as tien jaar toe oudpres. Jacob Zuma regeer het, tot die skep van parallelle strukture in die agentskap gelei het wat die persoonlike en politieke belange van Zuma en sommige van sy ministers gedien het.

Dlodlo het verder in haar parlementêre antwoord gesê die SVA het ook ’n strategiese plan van vyf jaar ontwikkel om sy gebrek aan kapasiteit te help oplos.

“Veral ons tegnologiese vermoë om die nuwe en gevorderde bedreigings van kubermisdaad en onwettige mense- en dwelmhandel te bestry, sowel as dreigemente wat uit klimaatsverandering spruit.

“In hierdie verband moet ons ons kapasiteit verskerp en ons benadering tot dié stel nuwe en hibriede bedreigings wat ons land in die gesig staar, verbeter.

“Laastens, moet ons die werklikheid trotseer dat die risiko’s vir veiligheid en stabiliteit net toeneem en al hoe meer gekompliseerd raak. Ons moet dus meer met minder hulpbronne doen wat ons noop om ons begrotings- en bestedingsfokus te versterk.”

Soos die ondersoek voortduur, kan verdere besonderhede nie in dié stadium verskaf word nie. Die gesamentlike staande komitee oor intelligensie en die inspekteur-generaal van intelligensie is egter daaroor ingelig.

Vroeër is ook berig hoe die SVA in omstredenheid gedompel is toe die joernalis Jacques Pauw in sy boek, The President’s Keepers, onder meer vir Arthur Fraser, voormalige SVA-hoof, daarvan beskuldig het dat hy die Principal Agent Network, ’n beweerde parallelle intelligensienetwerk in die intelligensie-agentskap, bedryf het toe hy voor 2010 ook vir die intelligensie-owerhede gewerk het. Die bewering is dat dié netwerk miljoene rand verduister het.

Fraser, wat nou die nasionale kommissaris van korrektiewe dienste is, het verlede jaar aangedui hy gaan Pauw vir miljoene rand weens laster oor dié beweringe dagvaar.

Intussen het Dlodlo in reaksie op nog ’n parlementêre vraag gesê dat die SVA ondersoeke gedoen het na “waarskynlik korrupte” netwerke wat vir jare binne die agentskap bedryf is en wat tot “ernstige ekonomiese verliese” vir die staat gelei het.

Sy het nie enige individue se name in haar antwoord verskaf nie.

Dlodlo het bygevoeg dat dít ook die aandag van wetstoepassingsagentskappe soos die Valke geniet.

Volgens haar word individuele lede van die netwerke ook ondersoek en is een al deur die SVA afgedank, terwyl strafregtelike prosedures ook voortduur.

“Soos die ondersoek voortduur, kan verdere besonderhede nie in dié stadium verskaf word nie. Die gesamentlike staande komitee oor intelligensie en die inspekteur-generaal van intelligensie is egter daaroor ingelig,” lui haar antwoord.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.