Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Gebrek aan plek by universiteite wek kommer

Hoewel politieke partye en vakbonde die jongste matriekuitslae wyd verwelkom, is ander bekommerd oor die groot gebrek aan plek vir kwalifiserende kandidate by Suid-Afrika se universiteite vir die nuwe akademiese jaar.

Die klas van 2018 se uitslae wys dat die getal leerlinge wat vrystelling kry vir voorgraadse studies van 28,7% (153 610) tot 33,6% (172 043) gestyg het.

Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, het Donderdagaand in Midrand, Gauteng, met die bekendmaking van die matriekuitslae gesê bogenoemde getal is die meeste matrikulante nóg wat in die demokratiese Suid-Afrika universiteitsvrystellings gekry het.

Pres. Cyril Ramaphosa het ook die jongste slaagsyfer in ’n verklaring geloof en die suksesvolle matrikulante aangemoedig om “verantwoordelik te wees deur geleenthede in die hoër onderwys, beroepsopleiding óf werkplekervaring na te jaag en om die begrip te aanvaar dat leer ’n lewenslange strewe moet wees”.

Dr. Mbuyiseni NdloziFoto: Daily Sun

Dr. Mbuyiseni Ndlozi, EFF-woordvoerder, betreur egter die gebrek aan plek by universiteite “wat voortdurend in ons hoër onderrigstelsel spook”.

“Daar is in 2019 net plek vir ’n sekere getal nuwe studente by die land se 26 universiteite. Benewens die nuwe studente is daar ook nog dié wat in vorige jare aansoek gedoen, maar weens te min plek of finansiële redes nie plek gekry het nie.”

Ndlozi voeg by dat derduisende voornemende studente gevolglik nie plek sal kry om by universiteite te studeer nie. Hy moedig egter kwalifiserende studente wat nie geld vir verdere studie het nie en wat daarom nie aansoek gedoen het nie, aan om hulle vanjaar met hul uitslae by tersiêre instellings aan te meld.

Xolani Ngwezi, IVP-woordvoerder oor basiese onderwys, sê sy party is ook bekommerd oor die beperkte plek by tersiêre instellings.

“Die gevolg is dat diegene wat uit ’n sukkelende agtergrond kom negatief geraak sal word, al het hulle universiteitsvrystelling. Dit is omdat tersiêre instellings bevooroordeeld is teenoor diegene wat uit bevoordeelde omstandighede kom. Dit word vererger deur ’n sukkelende nasionale finansiële hulpskema vir studente (NSFAS).”

Zola Saphetha, hoofsekretaris van Nehawu, sê dié vakbond sal hom by die studenteorganisasie Sasco se Reg om te Leer-veldtog aansluit en voornemende én terugkerende studente help om toegang tot instellings te kry. Dit is om te verseker dat die instellings vir alle akademies verdienstelike studente toeganklik is.

Die vakbond beplan ook saam met die onderwysvakbond Sadou en die Progressiewe Jeug-alliansie ’n dringende onderwysberaad om die matriekuitslae deeglik te ontleed en om die pad vorentoe te bespreek.

Intussen het Mugwena Maluleke, hoofsekretaris van Sadou, gesê die goeie slaagsyfer van veral arm en werkersklasskole beteken dat kinders uit daardie huishoudings nou die geleentheid sal kry om hulle by tersiêre instelling in te skryf en dat hulle dan hul families en gemeenskap se lewe kan verander.

“Die goeie slaagsyfer van arm en werkersklasskole is ook ’n goeie teken daarvan dat die land se programme vir armoedeverligting, soos die skolevoedingsprogram en maatskaplike toelaes, vrugte afwerp.”

Maluleke skryf bogenoemde prestasie toe aan Sadou-lede wat in hierdie skole onderrig gee.

“Dit ruim weer eens die leuens uit die weg wat deur onder meer die DA verkondig word dat hoofsaaklik Sadou-lede onderwys in die land deur hul stokkiesdraaiery en onbevoegdheid vernietig.

“Ons lede het hierdie prestasie in moeilike omstandighede en in oorvol klaskamers met beperkte hulpbronne behaal,” sê hy.

Meer oor:  Mbuyiseni Ndlozi  |  Universiteite
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.